Dit is met dieselfde gevoel as op skool toe jy jou projek ’n paar dae laat gaan inhandig het – beskaam en duik-duik net ingeval jy te veel aandag trek – dat ek vandag my virtuele paadjie stap om my erg agterstallige blog te kom aflewer. Mei het gesorg dat ek stigtelik besig is met dinge soos vraestelle nasien, slypskole organiseer en kunswedstryde trotseer, met die gevolg dat ek smag na tyd om nuwe dinge te lees en te bedink.
Uit die aard van die genre is poësie iets wat jy in klein dosisse kan geniet – wonderlik dus wanneer die tyd min is en die salige kry-jou-sit-met-’n-Winterbach-roman gewoon onmoontlik is. Ek het dus midde-in die dol tyd tog daarby uitgekom om Martjie Bosman se Toevallige tekens (lankal gekoop, maar voorlopig op die bedkassie geliasseer) behoorlik te lees. En die lieflike mineurtoon van haar verse (haar eie beskrywing – vergelyk haar onderhoud met Lucie Möller) bly by my deur die dae vol lysies wat af- en weggewerk moet word.
Alhoewel die bundel as geheel sterk en deurgekomponeerd is met ’n eie stem wat onwillekeurig van die groot stemme in ons tradisie (Opperman, Jonker) oproep, het die eerste afdeling met die verse oor die misdeeldes op die Afrika-kontinent my aangegryp, ontstel, ontroer en net weer laat besef hoevéél ellende moontlik is.
Ek deel graag die gedigte “Mosambiekse vlugteling I” en “Mosambiekse vlugteling III”- beide gedigte waarin twee vroue se lyding aan ons voorgehou word:
Mosambiekse vlugteling I
Die vrou met die mond
waarin die tande skeef skuil,
met hande groot soos dié van ’n man,
die vrou met die benerige lyf,
sy wat al haar tongval
laat vaar het vir ’n lap grond
en ’n dagloon by die kliniek,
sy praat vrymoedig oor skoolgeld,
die kinders se pa wat lankal weg is
en die mielies op haar werf.
Maar as ek vra na haar geboorteplek
draai haar oë weg en min woorde
gee sy vir die tolk: Almal dood.
Gevlug. Oorlog sleg. Nooit weer terug.
Mosambiekse vlugteling II
Sophie Lubisi, donker en klein,
kom na die kliniek vir die Depo,
want na die tweede bevalling
weet sy alte goed hoe die pa’s
maklik van die toneel kan verdwyn.
Haar broer sorg op die suikerrietland
daagliks in die sweet van sy aanskyn
vir bietjie koffie en suiker en melk.
Die huishouding kan darem ook eet
van die mielies en marog wat hulle plant
op die stuk grond hier by Block B
wat hulle gekry het na wie weet hoe lank
in die byna vergete vlugtelingkamp.
Wanneer al die tale tussen ons faal,
sien ek in die oop hals van haar rok
die donker kneusings van ’n ander verhaal.
Natuurlik bring dit vir ’n kwelgees soos ek weer al die vrae oor die hoekoms, oor die sin of doel daarvan na vore, maar ek vermoed dit is nie wat die digter met haar verse beoog het nie.
Wat sy dalk wel beoog het, is stellig nie vir ons as lesers om summier oor te besluit nie. Wat ek wel uit die gedigte gehaal het, was die gedagte van die ontoereikendheid van taal om lyding werklik te verwoord, en dat lyding dalk vra om op ’n heel ander manier begryp te word. Swaarkry laat naamlik die taal verskraal tot slegs frases wat ’n roete van lyding en ontheemding in die eerste gedig karteer; taal word egter heeltemal afgebreek in die tweede gedig sodat slegs visuele spore van trauma met die spreker kommunikeer. ‘n Feministiese lesing sou kon behels dat die tekens van die vroulike liggaam hier kommunikasiemiddel word, maar dan glad nie in die sensuele sin van “writing the body” waaroor Cixous byvoorbeeld geskryf het nie – veel eerder word die getraumatiseerde liggaam die setel van betekenisse van pyn. Tog bly dit ’n naamlose verhaal (“’n ander verhaal”), sodat dit lyk asof dit ook ’n onnoembare verhaal is; behorende tot die domein van die nie-noembare. Hieruit mag ons dalk aflei dat geweld teen vroue steeds ’n “ander” bly, verswyg en naamloos, met die vrou dan as die volledig gemarginaliseerde. En dan verkry die gedig moontlik resonansies oor grense heen, sodat vroue in meer bevoorregte samelewings se persoonlike pyn ook tot die domein van die onnoembare “ander verhaal” gereken kan word? Gewis die donker kant van die maan; die antipode van Neverland.
Alhoewel die digter nie oplossings gee nie en slegs die portrette van die twee vroue aan ons voorhou, talm die woorde van Willem die Swyger (aan die begin van die eerste afdeling) : “Moi Dieu, ayes pitié de moi et de ton pauvre peuple” [“My God, wees my en U arme mense genadig”]. Dalk, genade vir mekaar in ’n wêreld waar die sin ons so dikwels ontwyk? Of selfs, waarin sin ontbreek en ons alleen maar ’n vertaling van sin moet vind in stukke medemenslikheid?