Louis Esterhuizen. Theroux en Naipaul maak vrede

Paul Theroux & VS Naipaul

Paul Theroux & VS Naipaul

Na vyftien jaar van openbare vyandskap het Paul Theroux en V.S. Naipaul luidens ‘n berig by The Independent die strydbyl begrawe tydens die onlangse Hay Boekefees; ironies genoeg juis die plek en geleentheid waar die finale breuk tussen hulle in 1996 plaasgevind het.

Naipaul se vrou (Nadira) word soos volg oor die gebeure aangehaal: “”Paul approached him (Naipaul) and said he missed him. It was very gracious and wonderful of him. So that is the end to the literary feud.” Op die vraag of hulle voortaan hul legendariese ‘lunches’ gaan hervat het sy gewoon geantwoord: “You never know. It’s a strange world.”

Ter agtergrond – Dié beroemde skrywers het in 1966 ontmoet in Kampala, Uganda. Naipaul was in daardie jare as dosent aan die plaaslike universiteit verbonde en Theroux was die wêreldreisiger wat pas begin het met sy loopbaan as skrywer van reisjoernale. Weldra het Naipaul hom oor Theroux ontferm en was hy bepalend in die ontwikkeling van Theroux se skrywerskap. Na hulle hul albei in Londen hervestig het, het die vriendskap egter algaande versuur met Theroux wat toenemend afwysend op Naipaul se skrywerk reageer het; tot in dié mate dat Naipaul hom van sy eertydse protégé gedistansieer het.

Die finale breuk tussen die twee was egter volgens The Independent se verslaggewer die volgende: “According to Theroux, the decisive blow came when he picked up a rare books catalogue only to find the seller offering up copies of his books that were dedicated ‘with love’ to Naipaul and his first wife, Pat. The books were being sold for $1,500 each. The only conclusion Theroux could draw was that Naipaul now longer valued him.”

Tydens die Hay Boekefees in 1996 het dié spanning in die openbaar tot uitbarsting gekom toe Naipaul geweier het om ‘n verhoog met Theroux en Salmon Rushdie te deel. Volgens die berig het hulle mekaar wel kort daarna raakgeloop: “They bumped into each other shortly afterwards in south Kensington, London, but pleasantries were not exchanged. ‘He wanted to talk to me about it,'” het Naipaul glo gesê. “‘I was on my way somewhere and could not stop. The conversation was very brief.'” Blykbaar was sy reaksie op Theroux se poging tot vredemaak gewoon “Take it on the chin and move on”.

Twee jaar later is die literêre wêreld geskud met Theroux se boek Sir Vidia’s Shadow: A Friendship Across Five Continents waarin Naipaul uitgebeeld word as “a depressive, a skinflint (person) and a misogynist”. Naipaul het weer reageer deur na Theroux te verwys as “boring” en iemand “who had overstayed his welcome”.

Nou ja, toe. As begeleidende vers volg Norman Cameron se beroemde gedig, The Compassionate Fool, hieronder. En onthou tog om die inskripsies voor in jou boeke te verwyder alvorens jy dit herverkoop. En ai, watter droom is dit nie om te hoop dat die diepliggende verdeeldheid in ons eie geledere op so ‘n spontane, meelewende gebaar besleg kan word nie … Want wat is uiteindelik die belangrikste: die persoonlike (gekrenkte) ego of die digkuns. Ek vra dit maar net suutjies-suutjies by die agterdeur.

Hoe ook al – Geniet die gedig.

***

The Compassionate Fool

 

 My enemy had bidden me as guest.

 His table all set out with wine and cake,

 His ordered chairs, he to beguile me dressed

 So neatly, moved my pity for his sake.

 

 I knew it was an ambush, but could not

 Leave him to eat his cake up by himself

 And put his unused glasses on the shelf.

 I made pretence of falling in his plot,

 

 And trembled when in his anxiety

 He bared it too absurdly to my view.

 And even as he stabbed me through and through

 I pitied him for his small strategy.

 

© Norman Cameron (1905 – 1953)

 

Bookmark and Share

23 Kommentare op “Louis Esterhuizen. Theroux en Naipaul maak vrede”

  1. Daniel Hugo :

    Ek het nog altyd gedink dat Theroux ‘n beter skrywer as Naipaul is.

  2. Louis :

    Ek’s geneig om saam te stem, Daniel. Met die uitsondering van Naipaul se “Half a life”, natuurlik. Myns insiens sy meesterwerk.

  3. Desmond :

    Louis, ek was ook mal oor “Half a Life”. ‘n Aangrypende boek. Die opvolg, iets soos “Magic Seeds”, was heeltemal onnodig en boonop swak ook.

  4. Louis :

    Desmond,’n mens kan selfs nog meer spesifiek wees: dis die derde afdeling (“A second translation”) wat dié boek onvergeetlik maak. Inderdaad val die drie dele uit in “goed”, “beter”, “beste”. 🙂

  5. Desmond :

    Louis, ja — maar net om duidelik te wees, ek bedoel nie die tweede deel van die roman was swak nie. Hy het ‘n opvolgroman geskryf wat die hoofkarakter se verdere lewe volg. Die naam was, dink ek, “Magic Seeds”. “Half a Life” was vir my van begin tot einde baie, baie goed.

  6. Louis :

    Nee, ek verstaan dit so, Desmond. En ek stem saam met jou kommentaar oor “Magic seeds”. Jy sal egter onthou dat “Half a life” in drie dele verdeel is: Indië / Engeland / Afrika. Die Afrika-gedeelte is myns insiens by verre Naipaul se beste skryfwerk.

  7. Louis :

    Amper vergeet ek! Lyk my Naipaul het ‘n besonderse gawe om mense die josie in te maak. Ek wou nog die aandag gevestig het op ‘n berig in The Guardian waarin hy dit onomwonde stel dat g’n vrou (ooit) so goed soos hy (sal) kan skryf nie:
    “He felt that women writers were ‘quite different’. He said: ‘I read a piece of writing and within a paragraph or two I know whether it is by a woman or not. I think [it is] unequal to me.’
    The author, who was born in Trinidad, said this was because of women’s ‘sentimentality, the narrow view of the world’. ‘And inevitably for a woman, she is not a complete master of a house, so that comes over in her writing too,’ he said.
    He added: ‘My publisher, who was so good as a taster and editor, when she became a writer, lo and behold, it was all this feminine tosh. I don’t mean this in any unkind way.’
    Gaan lees die volledige berig by:
    http://www.guardian.co.uk/books/2011/jun/02/vs-naipaul-jane-austen-women-writers?intcmp=239

  8. Marlise :

    Sjoe, dis nou arrogant van Naipaul om sulke uitsprake te maak oor vroueskrywers. Ek weet eintlik niks van die man self af nie, (en dis seker beter om niks van hom te weet nie) maar ek het sy boeke baie geniet veral The enigma of arrival en Half a Life.

  9. Louis :

    Marlise, in daardie geval kan jy gerus oorweeg om die biografie te lees. Dit is deur Patrick French en die titel is “The world is what it is.” Maar wees gewaarsku: Dit is so opwindend soos verlede week se koolslaai in jou yskas. En ook net so bombasties. 🙂

  10. Marlise :

    Louis, ag nee wat, dit klink nie aptytwekkend nie. Verkoop maar die biografie liewer aan Daniel en Desmond! 🙂

  11. Desmond Painter :

    Nee wat, dankie maar nee dankie Marlise! Louis, ek stem saam, daardie gedeelte wat in Afrika afspeel (Mosambiek? Tanzanie?) is briljant. Soos Marlise het ek ook van The Enigma of Arrival gehou. Hoe kan mens nie hou van ‘n boek met so ‘n titel nie?!

  12. Daniel Hugo :

    Ek het French biografie gelees, Marlise, en Naipaul kom daaruit te voorskyn as ‘n baie onaangename mens. Dit is ewe ontnugterend as Jones se biografie oor Laurens van der Post. Terloops, Louis, wat is bombastiese koolslaai?

  13. Louis :

    Jy ruik hom op ‘n afstand. Trouens, jy kan hom gewoon nié ignoreer nie. Maw – vol van homself.

  14. Andries Bezuidenhout :

    Koolslaai a la Malema?

  15. Beatrice Russo :

    Finuala Dowling skryf ‘n baie snaakse blog oor Naipaul se uitlatings hier: http://slipnet.co.za/view/blog/my-dog-v-s-naipaul/

  16. Breyten Breytenbach :

    Net om peper van Trinidad in die wond te vryf. Naipaul is berug vir sy grenslose verwaandheid en oënskynlike dikvelligheid. Ek het hom in teenwoordigheid van sy vrou hoor beweer dat slegs prostitute hom ooit kon bevredig en leer oor seks.

    Jare gelede moes ek hom amptelik bekendstel aan ‘n gehoor by NYU – niemand anders was bereid om dit te doen nie, en ek was die groentjie. Die saal was stampvol. Hy was wel bereid om op vrae te reageer maar dan op voorwaarde dat hy hulle vooraf skriftelik onder oë gehad het. Voor die lesing het sy vrou en hu toe ‘n keuse gemaak. En toe dit by vraetyd kom sit die lord in ‘n diep stoel en sy vrou agter hom lees die vrae hardop voor. En jou wragtag, by omtrent elke derde vraag (wat hy dus self uitgekies het) maak hy snedige opmerkings of sê hy’s nie lus om sulke strooi te beantwoord nie. Ek het hom die swewende swami genoem. As jy wil hoor wat dink mense van hom moet jy na Walcott luister.

    Dit was toe by die Amerikaanse vrystelling van Half a Life. Skitterende boek!

  17. Joop Vorster :

    Breyten Breytenbach ‘n groentjie? Jaus se horison het pas nader aan die kus geskuif.

  18. Rustum :

    “I see these islands and I feel to bawl,
    ‘area of darkness’ with VS Nightfall…”

    Derek Walcott, The Spoilers Return, 1981

  19. sebra :

    So ietwat mosterd na die maal, maar myns insiens kan ‘n mens nie regtig vir Theroux met Naipaul vergelyk nie. Dink maar aan die onvergeetlike A house for Mr Biswas en romans soos The Mystic Masseur asook The Mimic Men.
    Naipaul het hom ook bewys as ‘n meester van die kortverhaal. Boeke wat gelees en waardeer is toe mense nog in hul binnekamers gelees het en nie hul opinies tydig en ontydig op die geduldige net uitgeblaker het nie. Dan wonder ek net hoekom mense verwag ‘n skrywer moet gaaf en verbruikersvriendelik wees. Skrywers is net mense met menslike eienaardighede, voorkeure en omdat hulle skrywers is, hang almal aan hul woorde, haal hulle aan, in en uit konteks. Skrywers laat toe dat hulle as advertensiekommoditeite aangewend word in die stryd om die boek staande te hou. Nydigheid tussen skrywers is so oud soos die verhaal- en digkuns self en maak nie swak skrywers beter of knap skrywers slegter nie. Laat mense se boeke vir hulself praat en vergeet tog maar die persoonlikheid agter die storie.

  20. Breyten Breytenbach :

    Heeltemal reg, Kwagga. Wat skeel dit ons dat so-en-so ‘n kreng is, ‘n rassis of ‘n kindertjiesbesluiper of selfs ‘n woorddief? Solank daar net iets aangaan in die werk. Die geskiedenis is tog vol van allerlei voorbeelde. Rimbaud het met wapens gesmokkel in Afrika. Lorca is uitgelewer aan die Falangiste deur sy skrywersbroers. Genet was ‘n dief en ‘n koppelaar (volgens hom, maar miskien het hy met anderman se kalwers gespog). En dis waar dat skrywers merendeels valerige mensies is met geswolle selfvernaamheid. Laat ons maar daarmee saamleef en die openbare nut relativeer. (Ek stem saam dat die Net dit nou moontlik maak vir Hiert en vir Jiert om ‘n leksel nektar in die spoegbakkie te los – ‘n ieder wroeg hier om erkenning. Potent en onkreukbaar anoniem.) Maar die Swami en Theroux se rusie was ‘n openbare aangeleentheid. Hulle wou dit so hê. En dat Naipaul ‘n boeiende storieverteller is behoort genoeg vir ons te wees. Hy verdien sy erkenning terdeë. Sy opinies skeel my weinig, al is hulle soms ook regtig insiggewend en al is dit lekker om te sien hoe hy hom afvee aan die swymelende moralisme van politieke korrektheid wat dalk nog meer van hom verwag word net omdat hy van Indiese afkoms en van ‘n klein eilandjie is. Maar as hy hom in die openbaar soos ‘n vark gedra is dit net verstaanbaar dat hy ook soos een behandel gaan word. Net soos met enige ander mens. Om skrywer te wees beteken nie mens het die immuniteit van ‘n Malema nie.

  21. Desmond Painter :

    sebra, geldige punte, maar wat lankterug se binnekamerlees en -bees betref, is ek dit beslis eens met The Beatles: “Why don’t we d-do it in the road?”

    Wat sy politieke uitsprake betref tree Naipaul nie op soos die “model minority” wat die Engels-departemente se postkoloniale studies van hom verwag om te wees nie — en dit is inderdaad prettig om te aanskou.

    Die onthullende biografie oor hom, waarna Daniel Hugo en Louis hier bo verwys, was, as ek dit nie mis, nogal ‘n “authorised” een. Sir Naipaul gee nie om dat ons weet hoe hy sterwende vrou en sy vriende behandel het nie.

    Maar ja, natuurlik, hy bly op sy beste ‘n briljante skrywer.

  22. sebra :

    Dis net ‘n digter (al is hy groter as lewensgroot) wat ‘n sebra sommer so sito-sito in ‘n kwagga kan verander. Ek is daardie swart en wit gestreepte dier met die grys skadu’s wat net-net sigbaar is en waarvan die kontinent oorloop. En wat volgens oorlewering nie deur die tsetsevlieg gebyt word nie. Anders as die kwagga wat uitgesterf het, donder ek maar aan. Ek sou nie vir Rimbaud sy smokkelary te erg verkwalik nie, want hy was maar ‘n vrotsige wapenkwanselaar wat telkens bly sit het met ‘n vrag ouderwetse wapentuig wat niemand behalwe die skrootwerf wou hê nie. Maar kon die kêrel dig! En moet tog nie varke beledig deur menslike ongeaardheid met hulle te verbind nie. Naipaul het dit self ook gedoen deurdat hy iewers geskryf het van ‘n foto van Hitler wat as dit oopgetrek word, in ‘n vark verander. Naar vir die arme dier.
    Wat biografie betref, is dit ook net so waar en eg soos die bronne wat dikwels ook maar bylieg. Dis tog waaroor skryf gaan: fiksie.
    Die grootste skrywers van alle tye het nie veel feite omtrent hulleself nagelaat nie en goed so, daarom kan ons hulle werk onbevange lees en waardeer.

  23. Breyten Breytenbach :

    Bra Streepperd, ons stry mos nou lekker oor dit waaroor ons saamstem. En moenie my kwasterighede kop toe vat nie. Stertvee dit maar weg soos mens met steekvlieë maak. (Met alle respek vir die tstetse.)

    Wonder nou: mens weet byna niks van Shakespeare se lewe nie en tog word hy eindeloos nagevors en ‘uitgevind’! Lees ook elders op hierdie werf die baie interessante stuk oor Hugo Claus vir ‘n uitbeelding van die oënskynlike spanning tussen die lewe en die werk, en hoe ook sy gesiene uitgewers blykbaar die lesers wil voed met voyeurisme liewers as om die werk wyer aan te bied. VERVLAK EN VERBRUIK! is ons voorland.

  •