Desmond Painter. ‘n Blues liriek

Hierdie een lees nie so lekker nie, jy moet hom eerder sing. Gebruik sommer die deuntjie wat tydens die skryf deur my kop galop het, Bob Dylan se “Dirt Road Blues”, van die album Time out of Mind. Dit is in elk geval ‘n amper generiese blues ‘riff’, waarskynlik ‘n variasie op iets wat Dylan iewers gehoor het. Terloops, ek het die liriek op ‘n keer vir Loftus Marais gewys. Hy het sy kop meewarig geskud en gesê die verwysing na die blomme in die voorlaaste strofe is gewoon ontoelaatbaar in ‘n hedendaagse Afrikaanse gedig. Hy is natuurlik heeltemal reg.

***

stofpad

.

ek draf met die stofpad langs totdat ek jou sien

ja ek draf met die stofpad langs totdat ek jou sien

o ek draf met die stofpad langs

my hart raas soos ‘n blik kantien

.

jy het my hart gebreek in sewe stukke niks

ja jy het my hart gebreek in sewe stukke niks

o my hart het jy gebreek

my asem jaag in my keel ek is onfiks

.

ek staan op die bult en kyk uit oor die vallei

ja ek staan op die bult en kyk uit oor die vallei

die wolke bo dreig om te val

ek hoop om vanaand nog ‘n lift te kry

.

iewers hoor ek honde blaf die boer sê staan of sterf

ja iewers hoor ek honde blaf die boer sê staan of sterf

ek moet ‘n lang en wye draai draf

maar vat jou spoor weer anderkant die werf

.

ek dra ‘n bossie blomme saam maar die son het dit verwelk

ja ek dra ‘n bossie blomme saam maar die son het dit verwelk

die vergeet-my-nie is vir jou my lief

al weet ek jy verkies die aronskelk

.

eendag sal ek ophou soek ek is seker dat ek sal

ja eendag sal ek ophou soek ek is seker dat ek sal

maar totdat ek eendag ophou soek

draf ek hierdie stofpad tot ek val


Bookmark and Share

3 Kommentare op “Desmond Painter. ‘n Blues liriek”

  1. Andries Bezuidenhout :

    Ek hou daarvan Desmond. Ek kan Albert de Vos of Piet Botha dit hoor sing, maar somehow nie vir Lady Gaga nie.

  2. Danie Marais :

    Ek dink Kramer en Die Sonskyn-susters sal toor met dié een. En hulle het baie ervaring met die musikale verwerking van stofpaaie.

  3. Andries Bezuidenhout :

    Sowaar Danie! So iewers tussen “Matchbox full of diamonds”, “Hekke van Paradise” en “Dis swaar om ‘n weeskind te wees”.

  •