Philip de Vos. Arme juffrou Aggenbag

 

‘n Gereelde blogskrywery bring later sy eie probleme mee en na meer as 18 maande begin ek besef dat ek seker reeds my sê gesê het. My inskrywings word al hoe minder en dit is nou ‘n geval van scraping the bottom of the barrel.

Oor twee weke tree ek by Nelspruit se InniBos-fees op en binne twintig minute moet ek ‘n hele leeftyd se kreatiewe werk probeer opsom – my versies, my foto’s, my sang.

En van Nelspruit gepraat – dié is glo naby die Krugerwildtuin. En in my hele lewe was ek nog nooit in enige wildtuin nie, en nog nooit eens by ‘n rugbywedstryd nie.  Die eerste kameelperd wat ek ooit gesien het, was in die Calgary-dieretuin in Kanada en die enigste ding wat ek van rugby weet, is dat Joost van der Westhuizen so nou en dan skandes maak danksy Huisgenoot, Rapport en Die Son-koerant.

Nee, in plaas van wildtuine en rugbywedstryde verkies ek liewer die stilte van my binnekamer waar ek kan mediteer en dink oor die dieper dinge van die lewe.

Maar nou het ek al klaar afgedwaal nog voor ek eens begin het.

Ewenwel – hier moet ek nou vir die mense in Nelspruit gaan wys dat ek oud maar nog gelukkig nie koud is nie, en dat my kreatiewe sy nog steeds funksioneer.

Een van my versies sê dit seker:

 

Daar’s ‘n liedjie in my sak

en ‘n versie op my rak

vir die dag as ek wil sing

of wil bolmakiesie-spring.

‘n Versie vir die dag

en ‘n versie vir die nag

en ‘n liedjie in my bladsak

vir die stomtyd wat nog wag.

 

En, ja, ek is wel bewus van die stomtyd wat voorlê, want die Bybelse three score and ten is helaas al verbygesteek.

En om iets voort te bring, moes ek my versies, my sang en my foto’s kombineer.

Ek kom agter dat ek dikwels oor allenige tannies skryf. Kyk maar na die volgende een:

 

Magdalena Aggenbag

sit al jare lank en wag.

elke dag en elke nag.

Arme juffrou Aggenbag.

 

Op een of ander manier moes ek ‘n foto saamstel.

Vir baie jare reeds is ek gefassineer deur die foto van die Hutchinson-susters wat ek in ‘n fotoboek American Album opgespoor het. Hier is wat daar oor hierdie twee dames gesê is:

The twins on a tintype are Uranie and Susanie Hutchinson. Clearly they are wearing their finest black frocks, but whether for mourning or in a more festive spirit would be difficult to say. It is equally clear that neither of them has a tooth in her head.

Die eerste ding was om die swart/wit foto van die twee dames te skandeer.

 

En met ‘n raampie om sou dit miskien die tweetjies opvrolik en dalk sou ‘n bietjie sepia ook help. In Photoshop word alles deesdae ‘n werklikheid deur die druk van ‘n knoppie, terwyl dit 20 jaar gelede ‘n geswoeg en gesweet afgegee het om enige foto te verbruin. En miskien was daar teen dié tyd alreeds 10 velle vermorste fotopapier wat in die snippermandjie beland het.

Na ‘n raampie moes ek vir die twee dames ‘n tuiste vind, en tussen my duisende foto’s het ek een opgespoor van ‘n ewe droewige blou deur wat ek êrens afgeneem het. Waar dit was het ek nou geen idee nie.

Maar twee dames het elkeen hulle eie deur nodig, en met nog ‘n druk van ‘n Photoshop-knoppie is daar nou twee deure: een vir Eulalie en een vir Susanie.

En met ‘n versie, oor arme Mara wat ook wagtend is, en helaas nooit verwagtend sal wees nie, is ek, tesame met 20 ander gedokterde foto’s nou reg vir InniBos.

 

Al wat arme Mara het

is ‘n dubbelbed

en ‘n ou spinet.

Die klawers wil nie speel nie.

Haar bed wil niemand deel nie.

Al wat arme Mara het,

is ‘n leë bed

en ‘n stil spinet.

 

 

Bookmark and Share

8 Kommentare op “Philip de Vos. Arme juffrou Aggenbag”

  1. Henry :

    Philip jy is nog glad nie klaar gekryf nie -jy het skaars begin-
    Hou baie van die twee suurknol Aunties.
    Geniet dit om al blogs te lees.Doet so voort!

  2. Peter Klatzow :

    So glad to meet Juffrou Aggenbag at last! She has inhabited my world for some time now!

  3. Arme Mara! Sterkte InniBos!

  4. Daniel Hugo :

    Baie geluk met jou verjaardag, Philip! Vir jou is elke dag Jeugdag!

  5. Sielig.

  6. Baie geluk met die verjaardag. My kleinkind hier in die VSA (waar ek kuier) het die twee tantes baie geniet. Ek ook.
    Sterkte Innie bos en kyk vir my ‘n leeu daaruit !

  7. Johnnie Autard :

    Weereens nog ‘n wonderlike insig!!!

  8. Andries Bezuidenhout :

    Philip, jou “scraping the bottom of the barrel” het my die hele naweek laat lag oor die arme juffrou Aggenbag. Moet asseblief nie ophou blog nie, al is dit net elke nu en dan.

  •