Andries Bezuidenhout. And I’m a tiny penny rolling up the walls inside

Things fall apart… Yeats en dan Achebe. En wat het Opperman nou weer geskryf? Iets soos: “trap versigtig, o altyd so versigtig, vir die gly, vir die terugglip tot vis”. ʼn Verwysing na omgekeerde evolusie – involusie? Iets wat iemand wat van beroerte moes herstel deeglik verstaan. Seker ook ‘n verwysing na “suip soos ʼn vis”. Evangeliese christene praat van “backslide”, as iemand na bekering weer in sonde verval. N.P. van Wyk Louw het gepraat van die sweep (van armoede?) wat die mens op die pad van evolusie aanjaag. “Relapse” is die woord vir dwelmverslaafdes en alkoholiste wat terugkeer na hul ou weë. En Amy Winehouse sing van “back to black”:

I love you much
It’s not enough
You love blow and I love puff
And life is like a pipe
And I’m a tiny penny rolling up the walls inside

Sy het “back to black” mooi illustreer hierdie naweek en die web gons oor die optrede, oor die konsertreis wat vir eers afgelas is. Gaan kyk gerus van ʼn opname deur ʼn fan van wat met “Back to black” gebeur het. Op ʼn blog in die Guardian vra Alex Needham of dit regtig so erg was. Is dit nie maar waaroor rock ‘n roll gaan nie?

Seker maar.

Bookmark and Share

5 Kommentare op “Andries Bezuidenhout. And I’m a tiny penny rolling up the walls inside”

  1. Breyten Breytenbach :

    Andries, jy raak aan diep dinge, die vervat/verval. ‘n Paar dae gelede het ek ‘n taamlik beskrywende term raakgeloop vir mense, seker veral uit die minderhede, wat gedweë en pragmaties alles wat ‘n nuwe magskonfigurasie aanbied vir soetkoek opeet, en dan nog produktief bly ook! ‘Makkakkers’ is die woord. Interessant is dat daar ‘n eggo deurskemer van ‘macaque’ (makaak in Afrikaans), die Franse ekwivalent van die k-woord waaroor ons swart broers, tereg, so ontsteld raak. “Back to black”? Die begrip is al bietjie afgesaag. So drie jaar gelede het ek deelgeneem aan ‘n kulturele fees in Rio de Janeiro, ‘n viering van wortels (ug) en die tema was “back to black.” Die twee gespreksgenote waarmee ek moes perform was José Eduardo Agualusa (van Angola – fassinerende skrywer) en Sir Bob Geldoff. Dáár’s nou vir jou ‘n welaf makkakker!

  2. Andries Bezuidenhout :

    Breyten, ek dink een van die redes hoekom ek so van Amy Winehouse hou, is die feit dat sy geskiedenis terug in pop sit. Die skraal, Joodse vrou van Londen klink soos ʼn groot mamma op die verhoog van ʼn Atlanta baptistekerk. Sy’t met die musiek grootgeword. Ek hou van rootsmusiek, solank dit nie chauvinisties raak nie. Soos David Kramer dit doen. Of Steve Earle. Ek mag die liriek verkeerd lees, maar ek dink Amy Winehouse se “back to black” verwys na heroïen wat in die lepeltjie borrel. Seker net so afgesaag as ras en roots. Nogtans kan ek dit nie help nie, die vrou fassineer my.

  3. Breyten Breytenbach :

    Heeltemal dit met jou eens! Dis sommer net dat die titel my op ‘n ander gedagtegang gestuur het. Soos sy dit gebruik het die term vanselfsprekend nog baie skop. En blues of roots hoef mos juis nié ‘oorspronklik’ te wees nie. David Kramer is ‘n fenomeen. Hy’s nie broos nie (sy kop sal nie te groot word vir sy hart nie) maar hy’s só besonders dat ek eergister vir Skalla Joubert (wat vir David meesterlik ‘begelei’ en aangevul en verdiep het in hulle Amsterdamse konsert Sondagaand) gesê het ek hoop nie David wéét hoe ongelooflik goed hy is nie.

  4. Andries Bezuidenhout :

    Breyten, ek stem heelhartig saam oor David Kramer. Ek keer elke nou en dan terug na ‘n gesprek tussen hom en Koos Kombuis oor Afrikaanse rock – laaaaaaank gelede op LitNet. Oor die hele ding van roots en outentiek. http://www.oulitnet.co.za/mond/kkramer.asp
    Ek wens ek kon die Amsterdamse konsert beleef.

  5. Evette Weyers :

    Andries baie dankie vir die gesprek-Koos en Dawid- Klassiek!!

  •