Philip de Vos: Die Sage van Simson Richter

Philip de Vos: Die Sage van Simson Richter

Partykeer lewer ‘n boks-uitpakkery allerhande dinge op waarvan jy al lankal vergeet het. En so ‘n uitpakkery vat ook dubbeld die tyd op wat dit behoort, want nou word vergete stukkies en brokkies weer deurgelees, en in plaas van weggooi net weer in ‘n ander boks geplaas.

En dit is hoe ek vanoggend op my ellelange Sage van Simson Richter afkom. As Die Durbanse Poepwedstryd goed genoeg was om in Komrij se versversameling te verskyn het Simson Richter seker ewe veel reg om op ‘n blog te verskyn en na ‘n week of twee weer êrens vergete die kuberruim in te verdwyn.

En ja, die vers is maar net weer ‘n verskoning om iets op my blog met sy tanende idees te plaas: En ja, ek het wel my Bybelkenniseksamens as kind geslaag en ek kan nog al Bybelse rigters se name uit my kop opsê …

 

DIE SAGE VAN SIMSON RICHTER
Simson Richter, klein en skugter
Simson was ‘n sissie.
Al sy maters speel en jol,
maar hy sê: “Issielissie!”

AI die ander spot met hom.

(Dis wroeging en dis pyn)

En die ergste van die spotters

was Delila Phyllis Steyn.

Dié aaklig-nare meisiekind

was pragtig-mooi en slank.

Sy lag en spot:

“Jy lyk maar vrot…

En jou hare is te lank!”

So allenig – Simson Richter:

broos en klein en hoogs ontnugter.

Hy’t sy oë uitgehuil;

en afgedroog met sy pounietyl.

Van sotterny-gespottery

was hy gedaan en siek

en koop vir hom ‘n spierbou-boek:

Build your Muscles in a week:

Vir honderd agt en sestig ure

bou hy knaend aan sy spiere.

Eers werk hy aan sy biseps

en kort daarna sy triseps

en toe aan sy trapesius;

sy vastus intermedius.

Na sewe dae had álles spiere

selfs sy toonnaels, neus en niere

en dit was ook presies ‘n week

toe hy sy neus na buite steek

en sien hoe nig Delila kwyl

oor sy Iyf en pounietyl.

Toe sug sy sag: “Ek was ‘n sot

om u die heeltyd te bespot.

Aanskou tog hoe ek needrig bewe …

Ek vra u nou om te vergewe.”

En Simson Richter, GROOT en skugter

sê: “Dis om ‘t ewe.

En jý – Delila Phyllis Steyn

word op die plek vergewe!”

(Nig D. P. Steyn was wel gewis

‘n adderbroedsel vol van lis.)

Maar kort daarna – ja, glo vir my

begin die ou na haar te vry.

En na ‘n maand is daar getrou.

Na nog ‘n maand was daar berou.

Sy vroutjie was verveeld en moeg

en smag toe na ’n dameskroeg.

Maar Simson sug: “Noem my ’n sissie.

Vir ’n bar is ek nie lus ‘ie.”

Sy was so vies; sy wou hom klap,

maar sê: “My skat, tamatiesap

is óók mos in ‘n kroeg te kry.

met neute. chips en kaas daarby.”

En Simson – breinloos, fris en sterk

gaan reguit kroeg toe, plaas van kerk,

maar drink geen wyn of sterke drank;

speel domino’s vir ure lank.

Hy was gespierd en op sy plek.

Die kampioen by vinger-trek.

Hy sit daar nugter – heel apart:

‘n Ou so na ‘n ma se hart

Maar vroutjie was gou afgerem

Deur sap van hanepoot kondem.

 

Maar, dis nie áI nie –  tyd is wreed…

Groot afguns gryp Delila beet.

Haar nagte was vol wakker-lê;

Haar man se hare wou sy hê.

Syne was so skoon en pragtig,

háre was vol skilfers – wragtig!

Toe dink die merrie: “Dis koebaai,

my man se hare sal moet waai!

Saans snork die ou dat balke kraak.

O, soet soos heuning is my wraak!”

Toe – tioef-tjaf! met ‘n vlymskerp byl,

en woerts-weg was die pounietyl.

Sy’s sak en pak daar uit, en vort

en hy sou nie eens wakker word …

 

Die oggendlig wys hom die skade:

Sy vrou is weg – en o, genade:

hy skrik hom vrek, en wou beswyk

toe hy hom in die spieël bekyk!

Teen skemer was hy poegaai-moeg;

gaan soek sy skattie by die kroeg.

En almal daar wou dolgraag weet,

hoe Iyk hy dan so motgevreet?

Toe sê die kroegman: “Sluk ‘n dop.

Dit Iyk mos sy het jou gefop!”

En Simson sug: “Sy’t weggehol.

Ja, bring tog maar die alkohol!”

En daardie aand … dit klink maar gek

verloor hy by die vingertrek …

 

Die jare snel, só snel verby.

o waar is Simson, waar is hy?

Hy’s by die kroeg van Andy

vol whisky en vol brandy.

Ja Simson was ’n nuwe mens

die ene boep, die ene pens.

G’n meisies wou hom meer beloer.

na al daai witblits, en mampoer.

Maar steeds mis hy sy vroutjie;

vergete was die bloutjie

wat hy eens met haar geloop het,

toe sy hom van krag gestroop het:

Darie mooie pounietyl.

Hy was so sêd dat hy kon huil.

 

Een middag, uitgeput en moeg.

(Hy was allenig in die kroeg)

kom daar ‘n tannie ingestap.

Sy wieg en waggel op die trap.

Dié vrou het half bekend gelyk,

en toe: O, hemel, satan wyk!

Delila was nou vet en ouer,

steeds met skilfers op die skouer

en aan haar sy ‘n mooi jong kêrel:

‘n body-builder van die Pêrel.

Simson loop die kêrel storm …

stamp hom met daai boep enorm.

Delila gil: “Die man is gek,

Ag, hy verwoes die hele plek!”

Die pens stamp hom teen ‘n pilaar.

Dis nou sy einde, ja, sowaar!

Die Pêrel kêrel tref ‘n rak.

Kyk hoe die kroeg in duie sak!

En ál die bottels alkohol

stort toe ineen voor hul kon hol.

(Hul einde was wel ietwat gek)

Die drietiies is deur drank bedek:

Ons held, Delila plus haar ou

is daarmee heen – dis tyd vir rou.

En Andy? AI wat dit oorleef,

hoor hoe ‘n stem vir oulaas beef:

“My naam is Simson Richter.

Ja, ek is ROND en skugter.

maar ek is glad g’n sissie.

Ek issie,

issie ….

ISSIE.”

 

 

 

 

 

 

Bookmark and Share

3 Kommentare op “Philip de Vos: Die Sage van Simson Richter”

  1. Braam Muller :

    Lekker gelees, dankie! Krap maar weer in jou boks.

  2. Johnnie :

    Dit was nou vir my ‘n twister!!!
    Ek lees die gedig al van gister!!!

  3. lekker!

  •