11 Junie 2011
Vanoggend 01h30 in Dar es Salaam geland. Moes visums invul en elektroniese vingerafdrukke neem voor ek uiteindelik vir Yoli op die lughawe se stowwerige vloer kon omhels. Twee maande se ewenaarson het haar hare blondgesoen. Janet, een van die vele vriende wat Yoli die afgelope ruk in Arusha en Dar es Salaam gemaak het, het ons na haar ouerhuis in een van die voorstede gevat. Ek en Yoli het lank gelê en nuus uitruil voor ons uiteindelik omgekap het.
Ons het later vanoggend hibiskus-tee gedrink en hawermout met piesangskywe geëet. Ek en Dadi, Janet se hakkelende broer, het oor die geskiedenis van Kiswahili en Afrikaans gesels. Sawāḥil is glo die Arabiese woord vir kusbewoners. 30% van die taal is etimologies naverwant aan Arabies; meer as 50 miljoen mense se tonge klap in Swahili en dis ’n erkende voertaal van die AU. Op pad na die middestad ry ons verby verskeie geraamde afdrukke van Julius Nyerere. Dadi SMS en laat weet dat ek die vroeë 20ste eeuse skrywer Shabaan bin Robert se poësie in die hande moet probeer kry. Hy word allerweë beskou as een van die grootste Swahili skrywers en is die ekwivalent van onse poësie-pa Eugène Marais.

Mango’s, papajas, piesangs en kokosneute is orals in Dar te koop. Ek en Yoli het saam aan ’n kokosneut gedrink en die wit vlees met ons vingers uitgeëet. Sy praat wyd en syd met mense in basiese Swahili. Mense hanteer ons dadelik met vriendelike en verbaasde respek en laat ons tuis voel as hulle hoor ons kom van die suide af.
Na ons die stad te voet verken het, het ’n ferry ons na die ander kant van die baai geneem. Daar aangekom, neem ons toe ’n bajaji Kipepeo strand toe. Baie Europees. Die water was verfrissend na die stowwerige gesweet van die stad. Ons het lui op ons stoele gelê en lank gesels oor Tanzanië as postkolonie en in watter mate Suid-Afrika verskil van Tanzanië. Yoli het vir twee maande in Arusha as ’n vrywilliger gewerk en het al menige gesprekke met Tanzaniërs gehad. Sy’t genoem dat die geweld en woede wat nog altyd deel was van sosiale verhoudings in SA sedert Jan sy Hollandse skoentjie op die kus neergeplant het, grootliks afwesig is in Tanzanië. Tanzanië het slegs een amptelike taal en Nyerere se Afrika-sosialisme het die land ideologies, alhoewel miskien nie ekonomies nie, verenig na onafhanklikheid in 1963. Ons het ook oor die Weste se kwale geskinder en implisiet die idees in Krog se Begging to be black met Houllebecq se Atomised vergelyk – twee intense boeke wat ek onlangs gelees het en wat nog vlak in my agterkop lê.
12 Junie 2011
Vanoggend ’n daladala (die Oos-Afrikaanse ekwivalent van minibustaxi’s) Mwenge toe gevat en daarna vir twee ure in ’n bus gestaan om in Bagamoyo uit te kom, waarna ons per bajaji Kaole Ruïnes toe is. Om deur halwe huise en gebreekte kosyne te stap terwyl die son jou tot in ’n beswyming bak help om ’n 13de eeuse nedersetting te herverbeel, veral as ’n imam 100m verder besig is om te sing. Graf van ’n man en vrou gesien wat saam verdrink het. Sou hulle bene nog daar lê? Kaole is gebou uit koraal en skulpe, so die mure verweer patroonmatig.

Hierna is ons na die oudste kerk in Oos-Afrika waar die Livingstone se lyk vir ’n nag vertoef het. Die eerste priester se huis is groter as die imposante Katolieke kerk wat aan die einde van ’n laning uitheemse bome gebou is. Die huidige priester se mansion staan vêrder af in die straat. ’n Orrelis is besig om “Jesus, o dink aan my” met elektroniese ritmes vir die aanddiens te oefen.
Ons het Victor buite die klooster ontmoet en saam na die Zawose-familie se huis gery. Yoli het hom by ’n musiekfees in Arusha in Mei raakgekuier. Dr. Zawose (Victor se pa) was vir jare lank die leier van die bekendste tradisionele Tanzaniese musiekgroep in die wêreld. Die patriarg is ’n paar jaar gelede oorlede, maar Victor en sy broers en halfbroers maak steeds musiek. Die Zawose-familie het regoor die wêreld getoer – verbleikte plakkate van hulle internasionale optredes is teen die stoepmure opgeplak.
Die familie het ’n paar hoenders en bokke in die jaart en is selfversorgend, soos baie ander Tanzaniërs. In die familie se halfklaar grasdakteater het Victor later oor die koste van opvoeding in Tanzanië gepraat. Dit kos slegs Tsh5000 (R25)/jaar vir publieke laerskole en Tsh100 000 (R500)/jaar vir publieke hoërskole en tog kan baie ouers nie bekostig om hulle kinders hoërskool toe te stuur nie. My skoolgelde by die Hoërskool Jim Fouché in Bloemfontein het R750/maand gekos.
Victor werk in ’n slaghuis in Dar es Salaam om genoeg geld te verdien en kom elke nou en dan huis toe om weer musiek saam met sy familie te maak. Victor loop en speel die hele tyd mbira en gloei as hy begin sing. Victor kan ook goed zeze speel en ek het sélf probeer tokkel, maar sonder veel sukses.

13 Junie 2011
Na ’n sessie by die internetkafee oorkant die straat (Warning: We respect your privacy. No pornographic websites, please) het ons vir Janet by haar werk – Radar Recruitment – gaan groet. Sy soek ander werk, want sy kan nie ’n bevordering kry nie omdat slegs Europeërs hoër poste mag beklee as die een wat sy op die oomblik het. Sy dink daaraan om Suid-Afrika toe te emigreer.
Ek het samoesas, mandazi (’n platterige vetkoekerige lekkerny) en lemoensap vir middagete gehad waarna ons moes hol om betyds te wees vir die Flying Seahorse Ferry. Daar was nie meer sitplekke oor nie, so ons het ’n nes in die een hoek met ons tasse en sakke gemaak en soos sardientjies probeer slaap op die drie-uur lange rit Stone Town toe. Dis die eerste keer dat ek water sien wat werklik turkooishelder is. Dhows het heeltyd verbygevaar en vissers het hul vangste op die wit strande uitgelê. Op die hawe het ons vir Bah (aka Deutsche Welle, oftewel die naam van die Duitse internasionale uitsaaikorporasie) ontmoet. Sy gesig is jonk, maar sy hande verraai dekades se werk. Hy besit ’n plaas in die Zanzibari binneland en is net arm as jy rykdom in terme van dollars meet, sê hy. Na ’n rondwandeling deur die labirint van die smal strate het ons by Mercury Bar op die strand ’n baie duur Savanna Dry gedrink. Die bar is na Freddie vernoem, wat hier in Stone Town gebore is.

Bah het ons weer seweuur ontmoet en saam met ons by Lukmaan geëet – ’n goedkoop local bymekaarkomplek – waarna ons saam ’n Stellenbosse Cabernet Sauvignon klaargemaak het en ’n sandkasteel probeer bou het. In gebroke Engels het Bah ons laat verstaan dat hy toeriste baie goed ken en hulle kan manipuleer. Hy ken die eb en vloei van buitelanders deur die jaar en weet wat Amerikaners in die dorpie kom soek en hoe maklik hulle geld verkwis. Hulle’s lekker vet, sê hy. Later is ons Forodhani Vismark toe waar locals en toeriste elke aand die dag se vangste geniet. Suikerrietsap en inkvis proe verbasend goed saam. Na ons vir Bah gegroet het, het ons met Rohit van New Delhi aan die gesels geraak. Sy pa het 23 jaar lank in Suid-Afrika gewerk en hy help hom op die oomblik om ’n winkel in Stone Town te bedryf. Hy is gek na AB de Villiers se kolfstyl en weet meer van die Proteas as ek. Hy het uittreksels uit sy gunsteling Bollywood-flieks vir ons op sy selfoon gespeel. Later het ons in ’n klomp jongelinge op die strand vasgeloop en tot laat gesels. Die een toeris, ’n Italiaanse Switser, het een of ander grap oor die “Bushmen” in Tanzanië gemaak na hy homself aan my en Yolande voorgestel het. Hy begin volgende jaar met sy articles en wil graag eendag vir menseregte in ’n hof veg. Gmpf.
Yolande het nou net in haar slaap gemompel. Iemand wou iets aan haar doen, want sy het haar gesig met haar arms toegegooi en haar stem was hoog en benoud. Die maan is amper vol vanaand en die strate is tjoepstil; ons waaier klête-klête-klêng.
14 Junie 2011
Ons is vandag na die ou slawemark toe – ’n Anglikaanse katedraal staan deesdae bo-oor die ou mark: Die bevryde slawe is eers gedoop en daarna ingespan om die gebou op te rig. ’n Sweedse beeldhouer het ’n monument vir al die Oos-Afrika slawe opgerig wat oor die eeue heen gewelddadig uit hul gemeenskappe verwyder is en na die Midde-Ooste en die Amerikas afgeskeep is. Die slawe is uitgehonger en met min suurstof in ondergrondse selle aangehou om sodoende die “swakkes” uit te dun. Hierna is hulle gemartel – hoe minder die slaaf gehuil het, hoe meer geld was hy werd.

Die bevryding van slawe en die totstandkoming van die Christendom in Oos-Afrika het gelyktydig plaasgevind: Jesus het hulle bevry net soos die mzungu’s hulle bevry het van die Arabiese slawehandel. Slawehandel is amptelik in 1873 met behulp van Livingstone en Edward Steere (die eerste priester en opsigter van die oprigting van die katedraal) se appèl tot die Britse hof afgeskaf, alhoewel slawe tot in die 20ste eeu onwettig in grotte aangehou en vandaar opgeveil is.
Rooi marmer is ingevoer uit Italië vir die kerk se vloere (om die bloedvergieting tydens slawerny te verteenwoordig) en twaalf marmerkolomme (om die twaalf dissipels te simboliseer). Die argitek is vort Europa toe en het geskok besef dat die kolomme verkeerdom geïnstalleer is toe hy uiteindelik weer in Zanzibar aankom. Die kerk se vensters toon duidelike Islamitiese invloede en die voordeur is afkomstig uit Arabië. Steere is op die presiese plek begrawe waar die podium was waar slawe opgeveil is, terwyl Livingstone in Westminster Abbey lê. Livngstone hart is tóg in Zambië in ooreenstemming sy testament begrawe, maar die boom wat sy orgaangraf gemerk het, is gebruik om die houtkruis in die kerk te maak.
Later het ons vir Daniel en Giovanni, twee argitektuurstudente van Bologne, ontmoet. Giovanni is besig met ’n projek in ’n klein nedersetting buite Dar waar hy ’n hospitaal en ’n skool ontwerp het.
Na middagete en ’n vinnige draai by ZIFF (die Zanzibar Internasionale Filmfees) se kantore het ek en Yoli ons eie rigtings gekies om in te vaar. Ek het verskeie kere by dieselfde deure verbygestap. Om elke hoek speel seuns touchers en klink die geskinder van vrouens uit vensters. Ou mans rook saam Portsman’s op stoepies en kraaie sit en bak op kragdrade.

Om agtuur het ons vir Valentine, ’n Johannesburger en vrywilliger by ZIFF, by Livingstone’s Pub . Sy’s ’n vreeslike slick city girl en ’n drama queen, maar ons het bitter lekker saam op Mafikizolo gedans. Ons is almal saam Forodhani toe vir aandete en het daar vir Lilian, een van Valentine se Tanzaniese vriendinne, raakgeloop. Die eensame Rohit was weer daar met sy selfoon en sy gebrekkige Engels. Yolande het later opgemerk hoe vreemd ons groepie vir die locals moes voorkom: Lilian het ’n perverse boemelaar met ’n skêr gedreig en hom met ’n leerbelt op sy rug bygekom. Valentine was glo “terribly fatigued” gewees, maar het vyf minute later ’n tweejarige al skreeuend rondgejaag: “Ah, she’s so cute!” Rohit het eers selfoonfoto’s van Krishna vir ons gewys, waarna hy daarop aangedring het dat Maria met stralekrans ons godin is: “Krishna, my god. You, Maria.” Yoli, aan die ander kant, was stil en kwaad vir my omdat ek al die vis verorber het sonder om te deel en ek was dikbek omdat sy gatvol was.
15 Junie 2011
Hierdie plek maak my rustig – tyd is baie minder gereguleerd hier. Yoli het gisteraand vertel van jongmense wat sy in Arusha ontmoet wat nie ’n idee het of hulle 21 of 25 jaar oud is nie omdat hulle nooit ’n geboortesertifikaat gekry het nie. Ons het eers tienuur opgestaan en ’n deel van Stone Town gaan verken waar daar bykans geen toeriste is nie. Ons ontmoet ’n Indiese visserman tussen winkels en hy bied vriendelik aan om Yolande te wys waar sy ’n juwelierswinkel kan kry wat silwer oorbelle verkoop. Terwyl sy verskeies aan probeer, vertel Bashir (die visserman) my vertel hoe sy hart gaan staan het toe hy een middag op sy vrou en ’n ander man in hulle bed afkom. Dit was ’n gereëlde huwelik en hulle was nooit regtig lief vir mekaar nie. Hy druk sy hand teen my bors terwyl ek in sy swaksiende oë kyk. Sy wenkbroue is lank en sy baard is in grys gedoop. Hy het sy dogtertjie en sy klere gevat en haar by sy ma in Dar es Salaam gaan aflaai sodat iemand na haar kan omsien. Hy sê hy wil eendag by sy dogtertjie in Dar gaan bly en daar ’n nuwe vrou ontmoet vir wie hy regtig lief is. Sy been is mank omdat hy ’n boot onderdeel daarop laat val het, maar hy kan dit nie bekostig om ’n dokter te gaan sien nie.
Om eenuur het ons ’n daladala Nungwi toe gevat en lekker opmekaar gesit. Die dak was vol goedere en tasse gepak en die kondukteur was ongeskik met almal gewees – hy’t al die passasiers byname gegee en ons was natuurlik die twee “mzungu’s”. Ons het in Baraka ingeboek en ons name by Jessica, die Duitse skuba-instrukteur, gaan opgee om môre by Mnemba te gaan duik. Vanaand het ons weer in die twee Italiaanse argitekte vasgeloop en saam hulle by ’n local bar gaan drink. ’n Ander Italianer (bles en boep inkluis) het ’n kring Zanzibari meisies om hom gehad. Die Italianer het na my gewys, waarna een van hulle met my kom flirt het deur Swahili in my oor te fluister. Sy het die mooiste oorbelle aangehad en haar stem was sag teen my oor. Die teenstrydigheid tussen haar sagte woorde en haar dooie oë het my egter goed laat verstaan dat sy probeer om haarself aan my te verkoop. Toe ek hapana ahsante sê, het haar hande stilgeword. Sy het moeg weggeloop om by iemand anders te gaan aanlê.
16 Junie 2011
Jeugdag. Vandag presies ’n jaar gelede was ek in Bloemcare en die wêreldbeker was goed op dreef. Ek het nie toe gedink dat ek die krag en moed sou hê om vandag in een van die beste duikplekke in die wêreld te gaan skuba nie. Ons het saam met Zanzibar Watersports op ’n enjin-aangedrewe dhow na die Mnemba atol aan die oostekant van die eiland gevaar. Orals om ons was Zanzibari’s besig om kos uit die see te haal. Vrouens het die vlak seegras gefynkam vir seekatte, krappe en ander seediertjies, terwyl die mans hul nette oopgegooi het op soek na vis. Lokvalle het kreef versamel terwyl hul eienaars agteroor in dhows gelê het om die groeiende reënwolke te aanskou. Na ’n twee-uur lange tog het ons uiteindelik die atol bereik. Die water is helder turkoois en ’n paar dolfyne steek hul vinne bo die water uit. Ek het glo lekker diep afgedwaal tydens my eerste duik. Ek het nie geweet waar om te kyk nie: veelkleurige skole het oral om ons rondgeswem. Ons het glo, onder andere, engelvisse, klipvisse, snellervisse, geel snappers, papegaaivisse en pypvisse gesien. Ek het na so ’n halfuur onder die water op ’n plastiekonderdeel van my mondstuk verstik nadat ek dit te styf vasgebyt het. Ek was te diep om tot op die oppervlak te swem en het die stuk plastiek maar sukkel-sukkel ingesluk.
Ons het ’n welkome middagete op die boot geniet en die twee Johannesburgers wat saam met ons geduik het se oë het gesing van plesier terwyl hulle ons vertel dat hulle nog nooit so ’n groot konsentrasie en diversiteit van seelewe gesien het nie. Ek wens ek het meer van die verskillende kreature onder die water geweet. ’n Sesstuk Kanadese meisies, wat die dhow met ons gedeel het, het gaan snorkel en almal was lekker seesiek gewees. Hulle het een na die ander opgesteun, opgegooi en weer kreunend gaan lê.
Ons tweede duik was selfs meer opwindend as die eerste een: Ons het ’n groot paling en twee seeskilpaaie gesien. Daar was ook plaatkoraal wat vir hektaars in alle rigtings gestrek het en verskeie nuuskierige hansworsvisspesies het uit hul koraalhuisies vir ons geloer. In ’n stadium het ek op my rug gaan lê en opgekyk – honderde vreedsame silhouette het oor die son geswem terwyl my asemborrels soos jellievisse na bo dryf.

Teen sononder was ons terug in Nungwi en my esofagus was nie baie beïndruk met die stuk plastiek wat steeds in my keel vasgesit het nie. Ek het ’n bietjie gaan slaap en later met ’n vreeslike seer keel opgestaan. Die duikinstrukteur het ’n dokter gebel wat aanbeveel het dat ek drie eetlepels sout in water oplos en drink sodat ek kan opgooi. Ons almal het gedink dis moer snaaks, maar die volgende 15 minute was baie onaangenaam soos my lyf desperaat probeer het om van die oormaat sout ontslae te raak. Helaas kon ek nie die plastiek met my blinde, soekende vingers vasknyp nie. Ek het natgesweet en uitgeput aan die slaap geraak.
Dis nou eenuur in die oggend en ek voel reeds beter. Ek dink ek het die plastiek in my slaap afgesluk gekry en hy geniet die groter ruimte wat my dermkanaal hom bied. Hoop maar dat ek môre goed genoeg voel om weer te kan duik. Ek stap strand toe en gesels met drie Masai van Arusha. Hulleis in hulle kenmerkende komberse geklee (die toeriste laaik dit glo) en hou elk ’n Kilimanjaro-bier vas. Hulle Engels is skaars beter as my Kiswahili, alhoewel ek vermoed dat die alkohol ook ’n inhiberende effek op hul tonge het, so die gesprek sukkel maar. Abdul, Moses en Lazer se werk is om die strand veilig te hou vir toeriste wat in die klein oggendure na hulle beddens toe terugstrompel. “This, our mountain,” sê Abdul na ’n lang stilte en wys na die plakker op die bierbottel, “our mountain.” Die golwe breek op die donker sand.
@Leon – dankie vir jou gedagtes. Ek is tans seker in wat ‘n mens my “meem-fase” kan noem. Ek het eers so vier jaar gelede met die begrip kennis gemaak en dit boei my omdat dit so radikaal verskil van ons “gewone” blik op sake. Sal graag verder hieroor wil gesels as jy terug is. Dit was waarskynlik oorhaastig om die woord “alles” te gebruik. En ja, ek sal graag gaan kyk na Wilson se boek. Maar ek het ook gedink aan bv. Dawkins wat daarop wys dat ons blik op die wereld dikwels die een is wat ons in staat stel om in daardie wereld te oorleef. So kan ons meeste van ons sterflinge die konsep van veelvuldige werelde (“many worlds”) nie juis kleinkry nie – die idee dat jy in die een heelal lewendig is, in ‘n ander dood en in ‘n ander se maar ‘n boom is. Dit maak nie vir ons sin nie, want ons breine het ontwikkel om juis “sin” te wil maak ter wille van oorlewing. Veelvuldige heelalle opereer op ‘n vlak waarop ons breine nie hoef te opereer om die individu in stand te hou nie. Iets in daardie lyn. Blackmore se werk oor die biologiese basis van wat ons die paranormale noem, is hier ook vir my boeiend. Maar tog fassineer van die soiobioloe se idees my, al het ek nog veel te leer.
@Digters – watter fassinerende perspektiewe en taalspel! Johann – dis ook goed om weer aan Pretorius herinner te word.
PIETER PRAAT MET HOMSELF
met apologie
my brein (hieroor moet ek uitwei, sien,
die melkweg selle, twee vuiste groot)
is ’n toring
sodat ek jou van vêr kan sien kom
deur die polsende fotone
met skraal bome waterkastele
oor die kleurlose vlaktes van atome
deur die tralies van my lensselle (verspied verspied)
my biologie staan gedek, die organelle wag sluimerend
in hulle membrane soos dromende musikante
my sintuie registreer krieke, die aandster, ’n vlei
ek luister asemloos vir jou voeteval
(in watter vou van my korteks dool jy?)
ek hang fosfor in die venster
en verstel die mikrofone van my ore
(het ek genoeg verstand vir die tog tussen sel en self?)
bloed bestyg gereeld die hysers van my are
ek kan nie my verteringsensieme beheer nie
en hoor jy hoe my selle verlangend ruis
kom jy dan nooit nader nie?
soos ’n skildwag leun ek oor die borswering van my brein
soek ek jou met die afvuur van my moedelose neurone
Die Kranksinnige
S.J Pretorius
In hierdie sel
agter die grense
van die vel
en die hoë
vensters van die oë
is twee mense:
die een is gek,
die ander, ek.
Dis hy wat kerm en gil
maar ek is bang en stil.
In elke klein uur van die nag
veg ek teen hom met minder krag
en as hy wen dan skree hy luid
sy wrok teen God en wêreld uit.
In hierdie klein vertrek
van vlees en been,
is twee. Die een
is gek,
die ander, Ek.
@Amanda: Die meem-begrip word nie deur almal aanvaar nie, self het ek nog so hier en daar bietjie twyfel daaroor, mar as ek nou MOET kies sou ek dink dat ja, dis wel ‘n geldige begrip. Oor jou stelling dat daar ‘n evolusionere/biologiese basis is vir älles”waaraan ons dikwels ander name gee – as jy hier verwys na sg evolusionere psigologie dan dink ek moet mens baie, baie versigtig loop – heelwat geskrifte in daardie vakgebied is niks anders as “just so stories”nie, en ek praat as ‘n geswore evolusionis. Nogtans, ‘n goeie begin is dalk EO Wilson se “Sociobiology”, ‘n werklik interessante en insiggewende boek, ongelukkig het evolusionere psigoloe die dam onder die eend gaan uitpluk.
Ek kan ongelukkig nie verder kommentaar lewer nie, ons is tans met vakansie in Newfoundland en is op die punt om te vertrek na Gros Morne Park waar ek nie toegang tot die internet gaan he nie.
Nuutste Navorsing
Ek dink ek dink dus dink ek (ek dink) ek is
(ek dink).
Iemand dink (ek dink), maar nie ek nie
(dink hulle).
Daar is niemand soos ek nie
(word daar gedink).
Ek het myself verbeel
(verbeel ek my).
Ek dog ek is ‘n mensekind
Ek dog ek praat
dog ek voel
dog ek dink.
Glinsterind godsplinterende sterretjiekind.
Ek dog ek omvat meniges
ek dog gooi hul in jou in
en maak hul snagslik snoesies toe
met soentjies en drukkies en laggies en soentjies.
Ek dog ek sien myself in jou.
Ek het myself verbeel.
Ek is ‘n weg (nie waar nie).
Ek dra meme (slegte meme)
en ek dra gene (slegte gene)
en ek dra slegte kieme en goed.
Ek wens ek kon ons weg verbeel.
En ek is nie alleen nie
(ek dink).
SELFPLEKSPERTIEF?
om met Descartes te praat:
die ek is die spook
in die nagmasjien
van die gedig
dis wanneer daardie gedagte
dag word op papier
dat die nagtyding
as beweging as beweging
kaplaks mond in die híér
se woordverdrietige kaartehuis
Dankie julle, dis boeiende gedagtes. Pieter, jy kan gerus na Blackmore se “The Meme Machine” kyk. (Ek sal ‘n sekere boekwinkel besoek om die nuutste aan te skaf.) Sy argumenteer daarin dat die
“self” soos ons dit in die omgang ken, eintlik een van die grootste memeplekse is en bestempel die konsep van die self as die “selfplex”. Sy werk natuurlik voort op Dawkins se gedagtes in hierdie verband. Sy vra byvoorbeeld die vraag wat die evolusionêre voordele van die selfpleks sou wees – wat ek baie opwindend vind. (Hoe meer ek hieroor lees, hoe meer kom ek onder die indruk van die evolusionêre/biologiese basis van alles waaraan ons dikwels ander name gee.) Ek dink wel – soos Desmond tereg opmerk – dat ons moet onthou dat daar verskillende “selwe”. Die Westerse “Self” met sy neerslag in die beeld van die geniale maar gekwelde kunstenaar (met iemand soos Beethoven dalk as prototipe) is gewis nie dieselfde as die memepleks van die self nie – laasgenoemde het stellig sy wortels in ‘n tyd toe skrif nog nie bestaan het nie en dit in die biologiese entiteit se belang was om ‘n illusie van self te skep. Dit verskil weer van die Boeddhistiese siening, wat die self byvoorbeeld as die bron van ons (selfkoesterende) wroeging beskou. Oor die ekkerigheid van die poësie? ‘n Moeilike een daardie. Ons gaan moeilik by die illusie van die self verbykom. En daarby – wil ons en moet ons? Dit is immers hoe die menslike brein (klaarblyklik) opereer, ook om die organisme in stand te hou, wat immers ‘n evolusionêre gegewe skyn te wees.
Maar soos Desmond sê: die letterkunde kan juis kommentaar lewer oor ons ervaring van subjek-wees, in watter vorm ons ook al kies. Maar vir ons eie balans en behoud is dit dalk juis sinvol om van “interconnectedness” kennis te neem as nog ‘n manier van menswees, naas net die selfplex? Want ek stem saam dat die verheerliking van die “Self”, veral in ‘n land soos ons s’n en ten koste van die “interconnectedness”, sekerlik veel skade aangerig het.
Laaste gedagte: “ekkerigheid” is ook nie altyd waarna dit lyk nie (onthou Grové wat Breyten destyds daarvan beskuldig het en klaarblyklik nie verstaan het met watter soort “ek” die digter gewerk het nie.)
Pieter, met die herlees klink bostaande vir my asof ek probeer “les” gee… Nie die bedoeling nie! Ek mymer maar sommer oor jou interessante vraag oor die poësie en die self.
Pieter, die idee van ‘n geisoleerde “self” is darem redelik volledige afgeransel in die meer “postmodernistiese” bewegings in die digkuns — die “interconnectedness” wat daar ter sprake is, is dalk die verweefdheid van tekste en tekstualiteite.
Daar is natuurlik ook verskillende soorte “ekkerigheid” — rasionalisties, romanties, boeddhisties, wat ook al. Daar is immers ‘n groot verskil tussen die Louws se preokkuspasie met die “ek” en Breyten Breytenbach se preokkupasie met die “ek”…
Of: dalk is poësie per definisie ‘n soort spel met die spanning tussen die “ek” van ervaring en die “jy” (of die “thou”…) van taal. Herinner die poësie as sodanig ons nie heeltyd aan hoe talig verweefd ervaring, betekenis, die “ek” is nie?
En: ten spyte van die oorderewe “ekkerigheid” van ons era, word “subjektiwiteit” nogtans verskraal en vervreem en “ervaring” verpak en verkoop. Verweefdheid en interafhanklikheid is deel van ons “subjektiwiteit”. ‘n Poësie wat die geisoleerde self bevraagteken behoort myns insiens nie “subjekloos” te wees nie — een van die goed wat die letterkunde kan doen, is dalk juis ‘n soort bevestiging van subjektiwiteit en ervaring. Dis iets anders, dink ek, as ‘n “Westerse” aandrang op die Self.
Pieter, twee opmerkings:
1) Indien ek jou vraag hierbo reg lees, beantwoord jy dit in der waarheid ook self. Aangesien die “ek” ‘n illusie is en verweef lê met die “geheel”, karteer “ekkerige” poësie dus by implikasie reeds ook die groep se emosionele en/of intellektuele landskap; amper iets soos “painting by numbers”, myns insiens. Hoe meer blokkies ingekleur word, hoe duideliker kom die prent na vore …
2) Ek is nie seker na watter boek van Susan Blackmore julle verwys nie. Van “The Meme Machine” en “Consciousness” het ‘n bepaalde boekwinkel in Stellenbosch ongelukkig nie voorraad nie. Van haar mees onlangse, “Zen and the art of conciousness”, egter wel.
Dankie vir jou besonderse bydraes tot die webblad.
Dr. Lourens, waar kan ek Blackmore se argument in die hande kry?
Dis nou so ‘n bietjie van die os op die jas, maar hoe dink u kan poësie anders gekonseptualiseer word in die lig van die onthulling dat die geisoleerde “self” ‘n illusie is, aangesien die ontstaan van moderne poësie hand aan hand loop met die virale verspreiding van die meem van die outonome en geisoleerde Westerse individu. Ek dink my vraag kom eintlik maar daarop neer of die beofening van die dominante Westerse vorm van poësie (waar die ekkerige poeët worstel met die “self”) hoegenaamd sinvol is binne ‘n ontologiese raamwerk van interconnectedness. En indien nie, hoe kan ‘n mens anders daaroor begin dink? Want ten spyte van Barthes se dood van die Outeur, voel dit vir my of die idee van die ekkerige poeët steeds die poësiewêreld domineer.
Ek dink jy het ‘n geldige punt beet, en belangrik tydens ‘n gesprek oor wat in die land verkeerd is. Ek hou van jou tipering van die gedagte van die geisoleerde indidivu as ‘n “illusie” – beslis uitdagend ten opsigte van ons gekondisioneerde kyk na onsself. Susan Blackmore het byvoorbeeld ook – weliswaar in ‘n ander konteks – geskryf oor die groei van individualisme as ‘n meem in sigself.
Dr. Lourens, ek stem dat die uitrafeling van die interconnected sosiale web een van die groot redes is waarom dit so hinkepink met die land gaan. Meer spesifiek, dink ek dat die spanning tussen hierdie interconnectedness (veerweefdheid dalk?) en die (Westerse) illusie van die geisoleerde individu (of homogene groep) die dryfkrag agter so baie strooi in ons land was en steeds is.
Ek beaam! Ja, ek wonder ook maar baie dae hoeveel van ons wil werklik soek en verstaan. En dit raak al nodiger; inteendeel dink ek ons is by ‘n punt waar dit nodig is vir oorlewing op alle vlakke van menswees. Ek dink jy slaan die spyker op die kop met jou gedagtes oor die titel – sekerlik ‘n ongelukkige keuse. Ook buitelanders (lyk dit my) verstaan dit heel verkeerd. Self het ek die dele oor Moesoeshoe bitter insiggewend – en natuurlik tragies – gevind. Dis so ‘n versweë stuk geskiedenis. Dit was vir my opvallend dat Moeshoeshoe se vermoë om diverse mense in die nasie te integreer (tot almal se voordeel) so sterk na vore gekom het (ten spyte van die utopiese inkleding) – iets wat Amy Chua ‘n tyd gelede aangeraak het in Day Of Empire as ‘n kenmerk van die groot wêreldryke vand ie geskiedenis. Seker is daar kritiek teen haar metodes ens., maar tog vir my so relevant in ons eie land. Ja, stellig is Krog besig om bietjie te romantiseer/idealiseer wat interconnectedness betref, maar dit het nietemin ook my oë oopgemaak vir ‘n totaal andersoortige blik op die wêreld. Sou die vernietiging van hierdie weefsel van menslikheid iets te doen hê met die allesbehalwe optimale kondisie van ons land op die oomblik?
Goeie en wyse kommentaar, Pieter! Ek hoop julle geniet verder van Oos-Afrika. Van ‘pluralisme’ gepraat…
Dr. Lourens, jammer dat ek nou eers op u kommentaar reageer, maar ek was nie baie aanlyn die afgelope ruk nie. Begging to be black was ook vir my ‘n baie intense ervaring gewees. Ek weet nie hoeveel ander mense daar in hierdie land van ons is wat so graag wil probeer verstaan wat aangaan nie, wat bereid is om te luister eerder as om voorafbepaalde idees na te praat nie.
Terloops, ek stem nie saam met Max du Preez as hy sê dat die boek op ‘n soort identiteitselfmoord neerkom nie. Ek dink dit is veel eerder ‘n poging om die buitelyne van ‘n nuwe identiteit te trek deur beide die geskiedenis te herskryf en ‘n lewensoriënteerde fondasie uiteen te sit wat gewortel is in ‘n verstaan van menswees wat nie primêr egosentries is nie.
Ongelukkig kan mens maklik dink dat Du Preez reg is deur net na die titel te kyk. Ek moet erken dat ek self skepties was toe ek die eerste keer van die boek gehoor het. Ek dink die titel is ‘n jammerte, want dit gaan heel moontlik ‘n klomp mense keer om die boek te lees.
Maar goed, genoeg oor die titel. Krog se geskiedkundige skrywes oor Moshoeshoe is myns insiens die sterkste deel van die boek. Die verskillende tekste praat egter nie so lekker saam soos wat die geval in ‘n Ander tongval was nie (Ek herinner my veral aan die gedeeltes waar die faksfragmente oor verskillende dele van ons geskiedenis naas mekaar geplaas word).
Sy idealiseer na my mening die hele interconectedness-besigheid so ‘n bietjie, maar ek dink ook dat hierdie idealisering en haar beskrywings van die Basotho koninkryk as ‘n soort utopiese samelewing neerkom op ‘n poging om Suid-Afrika te herverbeel. Miskien is dit hierin waar die krag van die boek vir my lê: Die feit dat Krog die geskiedenis herskryf sodat ons ‘n toekoms kan verbeel. En dit is iets wat ons broodnodig het.
Pieter, laat weet ‘n bietjie wat julle van Begging to be black gedink het. Ek het die boek baie aangrypend gevind.
Pieter, dankie hiervoor! Ek hoop jy vang mooi gedigte tussen die dhows. Sien “Bagamoyo” en “Dar es Salaam: hawe van vrede” in die eerste afdeling van “Skryt”. Kort aanhaling oor die eerste (Bagamoyo het soveel bose geeste!):
as jy die sand van ‘n vreemde land lek
wanneer jy daar op besoek aankom
dan verwerp jy sy bose geeste en kwale