Amanda Lourens. Die Klerewerkerstekste: ’n Haas vergete korpus

Andries Bezuidenhout het vroeg in 2010 in ’n blog verwys na die Afrikanervroue wat tussen die 1920’s en 1940’s lede van die destydse Klerewerkersunie was.  Soos hy tereg opmerk, is dit ’n stuk geskiedenis wat volledig in die doofpot gestop is en is die meeste Afrikaners vandag salig onbewus van die feit dat vroue met stoere Afrikaanse name sterk gefigureer het in ’n organisasie wat gekenmerk is deur onder meer kommunistiese sentimente en ’n sterk verset teen kapitalisme. 

My generasie (die sogenaamde Generasie X) het natuurlik grootgeword met skrikpraatjies oor die “Rooi Gevaar” wat geskuil het in alles van jeans tot popmusiek.  Name soos Beyers Naudé of Bram Fischer is slegs uitgespreek met die subteks van “verraaier” as weerklank.  Van Bram Fischer het ek wel te hore gekom in Gerard Ludi en Blaar Grobbelaar se boek Die Verbasende Bram Fischer wat Fischer se kommunistiese uitkyk glad nie simpatiek hanteer het nie en in my tienerverbeelding ’n propagandistiese beeld probeer neerlê het van die “losbandige  kommuniste”.  Nietemin het die gevaarlik-opwindende gedagte van Afrikanerverset teen alles wat destyds “orde” gespel het, my bygebly.  Toe ek dus jare later Elsabe Brink se navorsing oor die vroue van die Klerewerkersunie ontdek, was ek mateloos gefassineer.

Brink het naamlik aangedui dat die vroue wat in die jare tussen die twee wêreldoorloë aan die Witwatersrand in die klerebedryf gewerk het, nie net klere gemaak het nie, maar ook aktief in die linkse politiek was en bowendien ’n aansienlike stuk Afrikaanse literatuur geproduseer het (Brink 1989:108).  Die Klerewerkersunie het die tweetalige blad Klerewerker/Garment Worker gepubliseer, waarin ’n redelike korpus Afrikaanse poësie, prosa, en toneelstukke verskyn het.  Hierdie stuk literatuur het in die vergetelheid geraak, en die sogenaamde “Klerewerkersliteratuur” is bykans onbekend.  (Annemarie van Niekerk het wel een van die kortverhale opgeneem in haar bundel Vrouevertellers 1843-1993.)

Dit was Elsabe Brink se baanbrekersnavorsing wat hierdie vergete stuk geskiedenis en literêre produkte begin ontgin en bekendstel het.  Alhoewel gesofistikeerde hedendaagse lesers heel moontlik hulle neuse sal optrek vir die eenvoudige aard van baie van die tekste (en dis presies wat ’n deftige damesleeskring op ’n slag gedoen het toe ek hulle hiervan probeer vertel het), dink ek tog dat dit ten minste ’n herbesoek en ’n optekening verdien – as dit dan nie om die “literêre” waarde daarvan is nie, wel om die waarde daarvan dat hierdie tekste ’n blik bied op die leefwêreld van die arm werkersklasvroue in die eerste deel van die twintigste eeu.  Want, soos René Marais reeds in 1988 uitgewys het:  Daar is wel in toenemende mate ‘n verwoording van die leefwêreld en gevoelens van die vrou deur meer en meer skryfsters, maar dan is dit ook waar dat die Afrikaanse letterkunde in hierdie opsig byna uitsluitlik ‘n perspektief bied op die leefwêreld van die meer gegoede vrou met naskoolse opleiding … daar sal in hierdie verband ook na die literatuur van die Afrikaanse klerewerkersunie gekyk kan word, soos Elsabe Brink doen.”

Ek het ’n klompie jare gelede spesifiek navorsing gedoen oor die literatuur van die klerewerkers, en ook vantevore gekyk na die vroue wat vroeg in die twintigste eeu gedigte in tydskrifte soos Die Huisgenoot gepubliseer het.  Wat opvallend was, was die totaal verskillende wêreldbeelde wat enersyds deur Die Huisgenoot en andersyds deur Klerewerker gereflekteer is.  Sonder om die “literêre” bydraes in ag te neem, was dit duidelik dat die artikels, advertensies en redaksionele kommentaar in die onderskeie publikasies representasies van twee volkome van mekaar verwyderde wêrelde verskaf het. Die “vrouedeel” van die destydse Huisgenoot was opvallend middelklas, of dan aspirantmiddelklas, met volop advertensies van sykouse, haarborsels en lipstiffies, tesame met raad oor die versorging of berging van hierdie kommoditeite. Daarteenoor was Klerewerker aangrypend in die duidelike solidariteit en empatie met die lesers.  Daar was volop beriggewing oor die lief en leed van die vakbondlede, tesame met artikels wat praktiese raad verskaf het om die vroue te help oorleef in die onvriendelike stadsomgewing.  Wanneer die gedigte en prosastukke beskou word, vind ’n mens dan ook daarin ’n aangrypende stuk menswees, met die wil om te oorleef en die geldmag te opponeer as ’n deurlopende en onontkenbare tema.  

Antjie Krog het spesifiek na hierdie literatuur se funksie as ’n oorlewingsmeganisme verwys. Haar uitspraak laat ’n mens opnuut besef dat poësie óók die funksie het om menswaardigheid aan ’n gedepriveerde lewe te gee, ook onder omstandighede wat eietydse lesers dalk nie herken as deel van hulle geskiedenis nie.  Want helaas het baie van hierdie vroue in omstandighede geleef wat inderdaad nie veel anders was as dié in eietydse plakkerskampe nie. 

Krog (1989) skryf naamlik: “ There is nothing dishonourable in writing a poem that can help someone to survive a certain experience – even if such a poem were to die together with the prejudices of its time and politics.  That is why I derive so much pleasure from reading how, while Elisabeth Eybers was busy formulating motherhood for so many women after her, her contemporaries (die Klerewerkers  – AL) fought for survival, albeit in rhyme not devoid of rhetoric …  

Armblankes voor hulle "plakkershut"

Ek sal in ’n paar volgende bydraes ’n oorsig gee van die historiese agtergrond van die klerewerkers asook hulle vernaamste geskrifte. 

Ten slotte plaas ek vandag die gedig “Die Plig van die Vrou” deur ene Maggie Meyer wat in Klerewerker van Maart/April 1941 verskyn het.  Seer sekerlik is dit geen groot poësie met groot tegniese vernuf nie, maar gedagtig aan Meyer se waarskynlik beskeie agtergrond en gebrekkige opleiding, getuig dit nietemin van ’n wil om te skep en haar gedagtes oor aktuele sake met haar gehoor te deel.  As sodanig verteenwoordig dit dan ’n soort strydpoësie.  Vir my is dit veral beteknisvol dat sy die werkersklasvroue as die direkte “afstammelinge” van die Voortrekkervroue sien, en daardeur dus (bewustelik?) die Christelik-nasionale kaping van die Voortrekkervrou ondermyn.  Voorts word ’n parallel getrek tussen die Brits-imperiale onderdrukkking in die negentiende eeu en die onderdrukking deur “Kapitaal” in die twintigste eeu.  Boonop laat die feministiese boodskap ’n mens die retoriek en rymdwang in die slotkoeplet so byna vergewe.  

 

                        Oor Drakensberg en vlakte heen,

                        Deur koue nagte, hael en reen,

                        Dit het sy vir ons land gedoen,

                        En sonder om daarmee te roem.

 

                        Vir die Vryheid het sy al laat staan,

                        Die Kaap het hul verlaat tesaam.

                        Om in die Vryheid te gaan leef

                        Wat hulle jare lank na streef.

 

                        Die Vryheid het nie lank geduur,

                        Want wat eers soet was word toe suur

                        Toe Kapitaal die oorhand kry,

                        Was sy die een wat swaar moes ly.

 

                        In die fabriek van vroeg tot laat,

                        Daar leer jy Kapitaal te haat,

                        Saam word daar ‘n besluit gemaak,

                        In 1932 gaan hul uit op staak.

 

                        Hulle het mos glo die reg gekry

                        Om al wat voorkom plat te ry

                        Maar dit het hulle niks gebaat,

                        Die vrou het weer die eer gehad.

 

                        As ons net saamstaan sal ons wen

                        dit sal die mans ook moet erken.

 

Bronne

Brink, E. 1986. The Afrikaner Women in the Garment Workers’ Union, 1918-1939.  MA-verhandeling, Universiteit van die Witwatersrand. 

Brink, E. 1987. Maar ‘n klomp “factory” meide: Afrikaner Family and Community on the Witwatersrand during the 1920s.  In: Bozzoli, B. (red.).  Class, community  and conflict: South African perspectives.  Johannesburg: Ravan, pp.177-208.

Brink, E. 1989. Purposeful Plays, Prose and Poems: The Writings of the Garment Workers, 1929-1945.  In: Clayton, C. (red.). Women and Writing in South Africa: a Critical Anthology. Kaapstad: Heineman, pp.107-127.

Krog, A.  1989.  A community is as liberated as its women.  A critical look at women in South African poetry.  IDASA occasional papers  (18).

 

Marais, R. 1988. Vrouwees: perspektiewe in die meer onlangse  Afrikaanse poësie en prosa.  Literator 9(3),29-43.

 

 

Bookmark and Share

13 Kommentare op “Amanda Lourens. Die Klerewerkerstekste: ’n Haas vergete korpus”

  1. Andries Bezuidenhout :

    Amanda, baie dankie hiervoor! Daar’s klassieke foto van ‘n vrou in volle Voortrekkermondering (kappie en al), met ‘n kopie van “Die Klerewerker” onder die arm. Deesdae noem ons dit seker “intersectionality”, iets waarmee mense soos Jack Simons en Ray Alexander gesukkel het toe hulle “Class and Colour in South Africa” geskryf het.

  2. Daniel Hugo :

    Amanda, as ek reg onthou het Johan van Wyk, P.J.J. Conradie en Nik Constandaras van die klerewerksters se gedigte opgeneem in hulle bloemlesing “S.A. in Poësie / S.A. in Poetry” (1988).

  3. Louis :

    Jy’s heeltemal reg, Daniel. Behalwe dat ek nie my kopie van “SA in poësie” opgespoor kry om te kontroleer nie. Moes dit vir iemand geleen het wat dit nooit terugbesorg het nie … Sug. 🙁

  4. Amanda Lourens :

    Baie dankie Daniel, ek sal graag na die bundel gaan kyk (het dit ongelukkig nie self nie). Dit is goed om te hoor dat hulle werk dan wel daardie erkenning gekry het. Weet jy dalk wie se gedigte opgeneem is? Andries, dankie vir die gedagte oor die foto – is dit dalk op die internet beskikbaar? Ek het gesoek, maar kon geen internetfoto’s van die klerewerkers(behalwe die een wat jy verlede jaar geplaas het) opspoor nie. Ek het heelwat fotokopiee uit “Klerewerker: gemaak, maar dis iewers in ‘n boks in Bellville gestoor.

  5. Andries Bezuidenhout :

    Amanda, dis op bl. 223 van Luli Callinicos se boek “Working Life: Factories, Townships and Popular Culture on the Rand, 1886-1940” (1987, Ravan). Sy noem dat die Klerewerkersunie aan die eeufees van die Groot Trek in 1938 deelgeneem het, “trying bravely to show that nationalism and class struggle need not work against one another.”

  6. Daniel Hugo :

    Amanda, ek weet ongelukkig nie wie opgeneem is in Van Wyk-hulle se bloemlesing nie. Ek het my eksemplaar destyds vir jou kollega Etienne Britz geleen … As ek reg onthou, is een of twee van die klerewerkstersgedigte ook in Komrij se bloemlesing opgeneem.

  7. Amanda Lourens :

    Dankie Andries en Daniel, ek sal beslis gaan kyk. Wonder net of ek dalk erens ‘n kopie van “S.A. in Poësie / S.A. in Poetry” geleen sal kry, gegee die ongelukkige leengeskiedenis van Daniel en Louis se kopiee 🙂

  8. Louis :

    Dit kan jy weer sê, Amanda. ‘n Versamelaarsitem, inderdaad! En haas onverkygbaar, boonop. (Het nie eens in die winkel ‘n kopie nie; trouens ek herinner my dat ek my kopie geleen het aan ‘n kliënt wat besig was met navorsing oor die versetpoësie in die 80s …)Hoop jy kom reg. Die Gericke-biblioteek behoort darem seker ‘n kopie te hê?

  9. Amanda Lourens :

    Daar is sowaar vier kopiee in die Gericke-biblioteek. Ek sal gaan kyk en in ‘n volgende blog meer kom vertel. Ek wil ook bietjie lees oor die teorie van “intersectionality” waarna Andries verwys het; lyk na ‘n boeiende perspektief op feminisme. Is ek reg as ek dit het dat dit Crenshaw se werk is?

  10. Breyten Breytenbach :

    Groot baie dankie vir hierdie baie belangrike in-ere-herstel, Amanda. (Mens wil jou amper veroorloof om dankie te sê vir hulle wat nie meer daar is om dit self te doen nie.) Dit gaan die moeite werd wees om ook te kyk na wat sekerlik tans geskryf word deur ‘n nuwe generasie van arm wit en bruin vroue – as mens nou praat van wat in Afrikaans gebeur. Miskien minder ‘georganiseerd’ polities as die Klerewerkers destyds; miskien ook nie. Mens het in gedagte dat daar van die jonger mense is wat tussen die nuwe wit armes in die plakkerskampe en halfwegstasies werk (Helpende Hand) en daaroor skryf, en sekerlik doen van die betrokkenes dit ook. Trouens, mens wag nog om te sien wanneer ons skrywers aktief betrokke gaan raak by hierdie maatskaplike probleme, ook alreeds d.m.v. besoeke en voorlesings en boeke skenk en gesprekke deel. Dalk gebeur dit meer as wat ek van weet. Verskoon dan my onkunde.

  11. Desmond :

    Die bloemlesing “S.A. in Poësie / S.A. in Poetry” was die eerste digbundel wat ek ooit by ons dorpsbiblioteek uitgeneem het (Brackenfell se onvolprese, destyds werklik uitstekende biblioteek). Ek was in Standerd 7. Ek kan nie onthou wat my laat besluit het om dit uit te neem nie, maar dit het my bekeer. En nou sit ek met die gebakte pere: allerlei onwinsgewende belangstellings en obsessies. Demmit.

  12. Amanda Lourens :

    Dankie Breyten, dit is sulke belangrike gedagtes. Ek weet ongelukkig nie wat die stand van sake (betreffende taal, lees, letterkunde?) onder die nuwe armes is nie, maar werk op hierdie terrein sal waardevol wees. En die kwessie van skrywers en boekemense se betrokkenheid by Afrikaanse armes – ja, een honderd persent “ja” daarvoor. Miskien kan die nuwe Skrywersorganisasie daaraan aandag gee – kyk wat word reeds gedoen, wat kan meer gedoen word. Soos jy tereg ook by die eerste vergadering oor die beoogde organisasie opgemerk het – om aan hierdie mense se lewens menswaardigheid te gee (vergewe asb. as ek nie jou presiese woorde hier weergee nie), soos die klerewerkers probeer doen het. Dat dit nie in ‘n volgende eeu sal nodig wees om weer te gaan hersien aan ‘n skeefgetrekte kanon nie.

  13. Breyten Breytenbach :

    Uitstekende voorstelle, Amanda. Ons sal werk daarvan maak! In die Kaapse voorstad – Ruyterwacht (Ruiterwacht?) – is daar reeds heelwat aktiwiteite gekoördineer deur Helpende Hand onder jonk en minder jonk, maar nog geen “literêre” inisiatiewe so ver my kennis strek nie. Alhoewel (tog!) ‘n ‘reisende biblioteek’ in die vorm van ‘n groot ou liasseerkabinet van staal wat glo druk besoek word.

  •