Amanda Lourens. Lig en donker in ’n lang gang.

Dit is ’n pragtige Bolandse oggend, maar my hart is allesbehalwe wat dit op só ’n oggend behoort te wees.  Teen hierdie tyd weet almal reeds dat die US die koerantopskrifte gehaal het met die afgryslike gebeure gister op die sesde vloer in die Lettere en Sosialewetenskappegebou (ook die tuiste van die Departement Afrikaans en Nederlands).  Ek het nie veel woorde nie, behalwe intense teleurstelling, skok en woede dat ’n akademikus van prof. Van Niekerk se formaat  nie eens veilig in sy eie kantoor is nie.  En die rede?  Dat iemand – en dan ’n klaarblyklik opgevoede Afrikaner daarby – nie van sy idees gehou het nie. 

Ek het vanoggend die berig op Die Burger se webwerf gaan lees.  Nadat ek die kommentare daarop gelees het (wat nie eens ’n skakel daarheen verdien nie), is ek volkome oorstelp, siek, verbyster.  Die haat  en minagting daarin, in ons eie taal,  is haas onomskryfbaar.  Het hierdie mense nog nooit van intellektuele debat, van ’n oop gesprek gehoor nie?  Het hulle nie op skool ook moes toesprake maak met die tema “die pen is magtiger as die swaard” nie?   

Sosioloë, sielkundiges, help asseblief.  Wat gaan aan in die Afrikanerpsige?  Hoe gaan ons ooit ’n nasie word op Suid-Afrikaanse bodem met hierdie soort sentimente wat openlik broei?  Digters en ander woordwerkers, skryf asseblief hieroor sodat ons die kanker se aard kan probeer peil om dit te bestry. 

’n Ligpunt: Op die einste sesde vloer kon die Departement Afrikaans en Nederlands vandeesweek ’n kortkursus in vertaling aanbied wat deur ’n wonderlike verskeidenheid van mense bygewoon is.  Ek kan nie begin om julle te vertel van die goeie wil en medemenslikheid wat ek daar ervaar het nie, en daarby in ’n lieflike samekoms van tale.  As hierdie stemme – letterlik hetereoglossia in aksie – maar die krag kan hê om die donker aan die ander kant van die lang gang uit te wis. 

Bookmark and Share

6 Kommentare op “Amanda Lourens. Lig en donker in ’n lang gang.”

  1. Desmond :

    Suid-Afrika is nou maar eenmaal nog nie ‘n plek waar openbare debat, goeie argumente en eerlike gesprek op sterk bene staan nie. Om iemand “te gaan regsien”, “uit te sort”, “op te neuk”, “te wys wie’s baas”, “by te kom”, ens., is meer ons styl. En nie net die Afrikaners nie. Hierdie Malan vent en die Jeugliga se woordvoerder, die een wat so op die joernalis gevloek het (ek vergeet sy naam nou), is van dieselfde stoffasie. Tawwe ouens. En blerrie belaglik.

  2. jan schrik :

    Wat moet ik erop zeggen, Zolang er dit soort kortzichtigen bestaan die denken dat je het woord kunt vernietigen door een man het zwijgen op te leggen is het moeilijk

  3. Leon Retief :

    @Jan: Jan! Nie geweet jy lees ook Versindaba nie! Gaaf om jou hier raak te lees!

  4. Jasper van Zyl :

    Ek laat sak vanaand my kop in skaamte. Ek is nie een vir vloekwoorde op ‘n openbare forum nie, jammer, maar dis ‘n donnerse skande hoe hierdie mense optree.

  5. Breyten Breytenbach :

    Ek het gisteraand in alle haas die ondergaande brief vir Die Burger se meningsblad gestuur nadat ek van die aanval ingelig is. Sover ek weet (ek is sedert douvoordag op reis en het so pas by my bestemming aangekom) is dit nog nie geplaas nie. Dis duidelik dat my inligting nie heeltemal korrek was nie – dis aan my vertel dat die aanvaller ‘n boer uit Nelspruit se wêreld is wat al misdaad gepleeg teen plaasbewoners beleef het. Dit verander egter wesentliks niks aan wat ek probeer sê het nie. Wat sterker kon oorkom en toe met die min tyd en spasie nie moontlik was nie is dat hierdie twee historiese politieke misdade (Apartheid en nou die kriminalisering van ‘n vraatstaat), hoe verskillend van oorsprong en omvang ook, nie mekaar kan kanselleer nie.

    Die voorval is tekenend van die gemors waarin die land se politieke gesprekke verval het. Aan die een kant ‘n professor met uiters swak argumente (in die lig van sy vak) wat as arrogant en ongevoelig oorkom teenoor die dom Boere en praat vanuit die toring van die selfingenome bourgeoisie nou so reg in die hart van polities korrekte mag (soos miskien ook vroeër), en aan die ander kant die brute populisme en anti-intellektualisme van die bruinhemp, fascis en trots daarop.
    Wat gaan ons meer doen as net hande saam slaan?

    Geagte redakteur,

    Ek het so pas gehoor dat Professor Anton van Niekerk blykbaar erg aangerand is vanmiddag in sy kantoor op Stellenbosch. Die vermoede is dat die aanranding veroorsaak is deur sy stellingname van onlangs dat witmense eintlik meer boetvaardig behoort te wees vir wat hulle in die Apartheidsjare gedoen het, of toegelaat het, en dat hulle en hulle nageslag nog steeds bevoorreg is as gevolg van hulle huidskleur. Ek verneem ook dat die aanrander bes moontlik ‘n boer is wat net genoeg gehad het van die dubbele standaarde en van die onkennis en minagting wat spreek uit die professor se miserabele betoë. Ook dat die boer waarskynlik by geleentheid pogings tot die byna stelselmatige uitwissing van mense soos hy – soos ons – aan eie bas ervaar het.

    Alhoewel ek persoonlik nie die minste tyd of respek vir die professor se sofisme en ongevoeligheid het nie en dit betreur dat dit as ‘filosofie’ aangebied word, wil ek ten sterkste my afgryse uitspreek teen die fisieke aanval op sy persoon, vir watter rede ook, en my simpatie met hom en sy familie betuig.

    Mens wil ‘n beroep doen op die media om versigtig om te gaan met hierdie pynlike situasie. Daar is ‘n aantal waarhede wat ons onder die oë moet sien.

    Apartheid as ideologie en stelsel was ‘n misdaad teen swart en bruin medeburgers en die verantwoordelikes daarvoor sou gestraf moes word. Die ‘bevrydingsbewegingregering’ is besig om die land kaal te steel en misdaad (soos teen die boer) sienderoë toe te laat en aan te hits. Hulle verraai die mense in wie se naam die stryd teen Apartheid gevoer is. Hulle probeer hul kriminaliteit en onbevoegdheid bedek onder die mantel van historiese regstelling. Apologete, soos die professor, uit die ydelheid van selfverloëning of om redes wat slegs hulle van weet, bly olie op die vuur gooi. Keffertjies, soos ook mense wat rubrieke vir julle skrywe, kom leedvermakerig agterna en sê, “nou sal julle eers begin vóél!”

    Julle speel met ander mense se lewens.

    Dis nou meer nodig as ooit om plurale gesprekvoering en werklike denke en respek vir mekaar te bevorder.

    Hokaai!

    Die uwe,

    Breyten Breytenbach
    (Barcelona)

  6. Wysneus :

    Was die geweldenaar ‘n Griekse staker,’n studente rewolusionêr, of ‘n onwettige immigrant sou dit ‘n kreet deur die stemlose onsigbare slagoffers aan die ontvangkant van ‘n institusionele kulterele hegemonie wees.

    Kom ons hou ‘n openbare debat, maar julle met die ongekose vel en die onaanvaarde taal moet maar eerder stilbly, bietjie luister, laat ons lekker kan debateer. Bloei elders.

    Maar boewe soos dié maak alles erger.

  •