Menu
Versindaba
  • Nuwe Bundels
    • Digbundels (2024)
    • Digbundels (2023)
    • Digbundels (2022)
    • Digbundels (2021)
    • Digbundels (2020)
    • Digbundels (2019)
    • Digbundels (2018)
    • Digbundels (2017)
    • Digbundels (2016)
    • Digbundels (2015)
    • Digbundels (2014)
    • Digbundels (2013)
    • Digbundels (2012)
    • Digbundels (2011 & 2010)
  • Resensies
    • Resensies
    • Resensente
  • Gedigte
    • Gedigte (A-L)
    • Gedigte (M-Z)
    • Kompetisies
    • Vertalings
      • 100 Duitse bestes uit die 20ste eeu
  • Digters
    • Digters
    • Onderhoude
    • Stemgrepe
  • Skryfhulp
  • Borge
  • Oor Versindaba
    • Kontak
Versindaba
17 July 201120 July 2024

Pieter Odendaal. Twee Mzungu’s in Tanzanië – deel twee

17 Junie

Vanoggend lekker laat geslaap en wakker geword met die wete dat die stuk plastiek nie meer in my esofagus vassit nie. Op die strand gaan stap: daar was weer vroue en kinders in die water en semi-kaalgat toeriste besig om op die strand te verbruin.

'n Toeris omring deur vrouens op soek na kos
‘n Toeris omring deur vrouens wat vir kos soek

’n Minibussie Ras Nungwi toe gevat waar Andy, ons duikinstrukteur vir die dag vanaf Engeland, ons ingewag het. Yoli het tereg opgemerk dat hy lyk of hy lankal nie meer gelukkig is met sy werk nie en dat hy baie alleen op hierdie ewenaareiland is. Ons eerste duik het skeefgeloop omdat ons op die verkeerde plek afgegaan het – oral om ons was woestyn en geen teken van die veelkleurige bewegings wat ons gister gesien het nie. Na 22 minute is ons weer terug boontoe en ’n drywende Andy het halfhartig om verskoning gevra en beloftes van terugbetalings gemaak. ’n Duitse egpaar met meer as 80 duike op hulle kerfstok het onbeïndruk teruggeglimlag.

Later is ons weer af en die tweede duik was ook onvergelykbaar met gister s’n. Ek het wél leeuvisse en ’n pylstertvis gesien, maar was so meegevoer met die leeuvisse se gestreepte uitsteeksels dat ek heeltemal vergeet het om my diepte te monitor – terug in die boot het die Duitse egpaar my vertel dat ek in ’n stadium meer as 7m te diep was. Ek en Yolande het ook te vinnig opgestyg en sy het met haar dryfbaarheid by die 5m noodstop gesukkel. Die egpaar het ons streng aanbeveel om nie drank te drink of môre weer te duik nie. Andy was halfhartig onbeïndruk en het herhaaldelik ons vertel wat die simptome van die bends is. Yoli was kwaad dat ek so onverantwoordelik afgedwaal het en beide van ons het dom gevoel oor ons nie versigtiger was nie. Omdat die visse ’n mens so onnadenkend aanvaar as jy saam met hulle swem, is dit maklik om te vergeet dat jou liggaam nie gemaak is om die druk van honderde kilogramme water te hanteer nie. Dis maklik om te vergeet hoe maklik dit is om dood te gaan.

Ons het onsself probeer opbeur deur ’n fantastiese aandete by die Paradise Beach restaurant te eet. Ons kelner het vreeslik aangegaan oor hoe welkom ons in Zanzibar is en het begin om een of ander berugte toeristeliedjie te sing. Ek het nêrens vandag tuisgevoel nie: Ek was te terrestrieel en onervare vir die see en te wit om werklik welkom te voel in Nungwi. Yoli het gesê sy’s moeg vir Hakuna Matata-land en ons het oor die dinamiek tussen die mzungu’s en die inwoners van Nungwi gesels. Daar was vroeër vanoggend beeste op die strand gewees wat gelê en herkou het terwyl gecocktailde toeriste luilekker gelê en lees het.

Koeie geniet ook die strand
Beeste span uit op die strand

18 Junie 2011

’n Gerieflike busrit terug Stone Town toe gevat. Die drywer het ’n kasset van ’n a capella Islamitiese gebed gespeel. Dit was vreedsaam in die bussie en ek was bly om uit Nungwi te kom. In Stone Town het ons gou geld omgeruil en ’n vinnige middagete by die gebruiklike Lukmaan genuttig. ’n Middelklas gesin van Dar es Salaam het ’n tafel met ons gedeel: Sylva wou sy twee seuntjies wys hoe Zanzibar lyk en sy vrou was die heeltyd op haar Blackberry besig terwyl sy tussendeur die woelige knape in Engels probeer betig het. Die jongste een het die heeltyd na die soutpotjie gewys en vir sy pa gesê, “This is red, red. R-e-d.”

Ons het die dalladalla na Bwejuu met ’n Franse couple gedeel wat op hulle wittebrood is. (Daar’s glo ’n restaurant naby die man se woonstel in Lyon genaamd “Zanzibar” wat lekker kos bedien. Sy vrou, Taïs, het gehou van die klank van die woord in haar mond en het dit gegoogle – dié dat hulle besluit het om Zanzibar toe te kom.) In elk geval, ons het iewers in suburbia vir 20 minute lank gestop om planke, pype en bedrame op te laai, waarna ons gevra is om ’n ekstra Tsh 1000 te betaal omdat ons nie weer iewers onderweg sou stop om goedere of mense op te laai nie. Die kondukteur het egter later nog 6 passassiers in ’n stampvol dalladalla probeer indruk – ’n groot gasbottel en 10 bolplante inkluis. Taïs en haar gade het redelik neusoptrekkerig toegekyk, maar ek en Yoli het dit maar net gevat soos wat dit kom. TIA, wou ek vir die eerste keer tydens ons reis sê. Na ’n rit deur die Jozani-oerwoud het ons uiteindelik in Bwejuu aangekom.

My bungalow by Mustapha's Place
My bungalow by Mustapha’s Place

Mohammed, ’n behulpsame local, het ons na Mustapha’s Place toe gevat waarna ons saam ’n Kilimanjaro gedrink het. Die bungalows word deur ’n groep rastafariërs bestuur en hulle het self die plek uit koraal en hout gebou. Die atmosfeer is heeltemal anders as in Nungwi – Bob Marley speel in die kroeg en verskeie locals kom drink ietsie of nuttig ’n sogenaamde “Marley sigara”. Die strand is stil en baie Tanzaniërs hou ook hier vakansie. Tydens hoogwater spoeg die see allerhande afval uit – seewiere, stukke koraal, kokosneute. Honderde wit krappe bevolk die strand. Ons het wyn langs die see gedrink en gepraat oor hoe ons anders dink oor ons ouers noudat ons ouer is: hulle het sterflik vir ons geword – feilbaar, liefliker. Ek het onthou hoe my pa gehuil het na my eerste groot klavieruitvoering. Yoli het vertel oor hoe sy nie meer haar Ma kwalik neem vir wat sy as ’n gebrek aan aandag ervaar het toe sy jonger was nie.

Na aandete is ons terug Mustapha’s Place toe. Ek het ’n gesprek in gebrekkige Frans met Veronique aangeknoop: Sy is ’n Franse onderwyseres by die Alliance Française in Moshi (halfpad tussen Arusha en Dar es Salaam). Sy bly by ’n vriend in Bwejuu vir die week en vertel hoe sleg dit met die toeristebedryf hier gaan. Al die toeriste gaan glo noorde toe deesdae (Hakuna Matata-land) so dit gaan maar broekskeur hier. Dis jammer, want die mense hier kom voor asof hulle nie dieselfde agendas as die performers in Nungwi het nie. Hulle doen wat hulle doen en as jy nie daarby wil inskakel nie is dit jou probleem. Ek voel tuis hier, ten spyte van die Waka Waka en Madiba opmerkings as mense uitvind ek kom van Afrika Kosini af. Dit voel asof ek ’n vreemde soort patriotisme ontwikkel het sedert ek hier is.

19 Junie 2011

Fantastiese ontbyt by Mustapha’s gehad met pannekoek, omelette en vrugte. Laatoggend (soos gewoonlik – om vroeg op te staan is onnatuurlik) het ons Paje toe gestap – ’n dorpie 3km suid van Bwejuu. Die sand op die strand is poeiersag om dit kalsteen is. Ons het op verpulpte koraalriwwe geloop; die reste van koraaldiertjies se huise tussen ons tone.

Ons het middagete by African BBQ geëet. Die restaurant word deur ’n Kanadese vrou en haar Zambiese man, Teddy, bedryf. Sy groot droom was altyd om vir ’n Westerse sokkerklub te speel, maar hy is reeds 31 en sy droom lê nog net in sy oë.

Teddy se ouers het hom gedwing om kollege toe te gaan in Zambië, maar na ’n paar weke het hy weggeloop Tanzanië toe om sokker te gaan speel. Hy’t glo vir twee weke in die kommentatorboks in die sokkerstadion in Dar es Salaam geslaap. Oor die jare het hy vir polisie- en tronkklubs gespeel, maar nooit die geleentheid gekry om Europa toe te gaan nie. Cindy, aan die ander kant, het vir van haar vriende kom kuier wat besig was met die laaste been van ’n wêreldtoer en vir Teddy deur hulle ontmoet. Hulle bly vir die afdgelope twee jaar in Paje en bedryf die restaurant. Sy’t hom gevra om sy dreads af te skeer toe sy hoor dat sy swanger is en sy’s in Mei verlede jaar terug Kanada toe om geboorte te skenk aan hulle seun, Abraham. Hy het twee weke gelede sy eerste treë gegee. Hulle beplan om volgende jaar saam Amerika toe te gaan sodat Teddy kan probeer om vir ’n klub daar te speel. (Gelukkig sê sy ID dat hy net 26 jaar oud is, wat beteken dat hy glo ’n goeie vier jaar oor het voor hy amptelik te oud sal wees om professioneel sokker te speel.)

Het vanmiddag vir Pa en Ma gebel. Ek mis my huis en die liefde wat ek so onvoorwaardelik daar ontvang. Ons het die hele middag op die strand deurgebring en ek het van Virginia Woolf se kortverhale gelees. Haar sensitiwiteit vir die lukraakheid van opeenvolgenende gedagtes is verstommend en haar gedetailleerde beskrywings van plante en diere is pragtig. Op pad terug het ek ’n vaalwit gecko so groot soos my hand gesien. Ons het pynappelskywe geëet waarna ons die Arabella pinotage (die laaste van my bottels wyn) langs die vuur leeggedrink het. Veronique was weer daar gewees en dit lyk of sy hier is omdat sy noodwendig hier wil wees nie, maar omdat sy emfaties nie in Frankryk wil wees nie. As sy dans, kan ’n mens sien dat sy in ’n konserwatiewe gemeenskap grootgeword het. Haar heupe maak tentatiewe bewegings en haar arms hang onseker langs haar sye. Sy is ’n ketting mentholroker.

Yoli het te veel gedrink en het vroeg gaan inkruip, terwyl Chaggi, Veronique, Osman en ek na die local Vuvuzela klub toe gery het. Daar was seker omtrent 200 mense en die musiek was fantasties. Ek het rustig gevoel tussen die ander Afrikane op die dansvloer. Vuvuzela is sekerlik die Sodom in hierdie streng Moslemgemeenskap en ek dink dat die bar aanvanklik as ’n toeriste-uithangplek ontstaan het. Die mense wat deesdae soontoe gaan, is egter locals – die invloed van toerisme op die gemeenskappe in Zanzibar is orals merkbaar.

20 Junie 2011

'n Maandagmiddag in Bwejuu
‘n Maandagmiddag in Bwejuu

Domino’s na ontbyt gespeel en vir ure lank op die strand gelê soos dit goeie toeriste betaam. Smoothies gedrink. In hangmatte gedut en gelees. Dit alles terwyl mans visvang, vrouens hul seewierbeddings opknap, kinders kastele op die strand bou en strandverkopers agter geld aanskarrel. Ek het ’n Zanzibar-pizza vir aandete bestel en ons het oor interrassige verhoudings in Suid-Afrika gesels. Die sekelmaan het soos ’n dhow tussen die sterre gevaar.

Drie Amerikaanse meisies het ons by Mustapha’s ingewag. Ek en Moira het omtrent presies dieselfde voorkeure en afkeure in kontemporêre musiek. Ons het saam gelag oor hoe “Friday night” en die spektakel daaraan verbonde ’n paradigmatiese voorbeeld van Amerikaanse kultuur dien. Moira het ’n tattoo op haar bors wat Fragile lees. Sy kom van ’n klein dorpie in Nebraska af en was ’n eenkantkind op skool gewees.

Ek en Ali (een van die rastas wat help om Mustapha’s te bedryf) het baklei oor wat dit beteken om ’n African te wees. Dis nie die kleur van ’n mens se vel nie, sê Ali. Maar hy sê ook dat ek nie ’n African is bloot omdat my voorvaders 300 jaar lank al in die Suide van Afrika doodgaan nie. Nou wat kenmerk Afrikane? pleit ek. Ali is ontduikend en hou geografiese voorwaardes voor: ’n Mens moet van Wes, Oos of Sentraal-Afrika afkomstig wees, sê hy. Ons is altwee moeggepraat en besluit om eerder op die Bao te konsentreer wat Ali en Chaggi begin speel het – ek probeer om uit te vis wat die reëls is, maar hulle slim hande beweeg te vinnig heen en weer oor die bord vir my om die spel te volg. Miskien sal ek tog eendag kan saamspeel, solank my hande net nie dink dat hulle vooraf weet wat om te doen nie.

21 Junie 2011

Deur die dorpie en die reën gestap om ’n dalladalla op die teerpad te kry om ons terug Stone Town toe te vat. Weer by Annex of Abdullah ingeboek vir ons laaste aand in Zanzibar, waarna ons films by ZIFF (die Zanzibar Internasionale Filmfees) gaan kyk het. Togetherness Supreme, ’n film oor die politieke onluste in Kenia in 2007, het my diep geraak. ’n Dokumentêr oor Karibiese identiteit en die mate waartoe Karabiners hulself as Afrikane kan/moet beskou het my weer oor my eie situasie laat dink. Is ek Europees bloot omdat my voorvaders van daar kom, nes sommige Karibiërs beweer dat hulle Afrikane is omdat hulle voorvaders in Afrika gebore is? Of is ek ’n Afrikaan? Is dit eens moontlik vir ’n mzungu om ’n Afrikaan te wees, ongeag wat Ali gisteraand oor velkleur gesê het?

Later die middag het ons twee Ugandese filmmakers ontmoet. Die maer een met ’n keps en ’n bril, Davidson, sê kortfilm Black Hill wys hierdie jaar by ZIFF en een van Ian se films was verlede jaar hier gewees. Hulle is so jonk soos ek en weet meer van Suid-Afrikaanse musiek as ek. Ons het tot vroegoggend saamgekuier – my lyf was lamgedans. Ons het saam gelag vir die toeriste se stokkerige danspassies.

22 Junie 2011

Ons het weer ’n paar ZIFF flieks gaan kyk, onder andere ’n dokumentêr oor albinisme in Tanzanië en die lewensgevaar waarin baie albino’s hier verkeer omdat toordokters dikwels hul ledemate aan kliënte verkoop wat op soek is na geluk. Ek is baie bly dat ons weer vir Bah raakgeloop het – hy het geglimlag toe hy ons aan die ander kant van die straat sien staan en vir my sy verbruinde armband gegee wat hy al jare dra. Ons het op ’n ferry geklim en Zanzibar gegroet. Dar es Salaam het goud en bekend in die laatmiddagson gelê. Ek het die armband om my pols gevoel en besef wat alle gesoute reisigers lank reeds weet: die eintlike reis is om binnetoe te vaar, om nuwe dele van jouself te karteer.

My laaste dag in Tanzanië

Deel:

  • Click to share on Facebook (Opens in new window) Facebook
  • Click to share on X (Opens in new window) X

Like this:

Like Loading...

Lewer kommentaar Cancel reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Meeste gelees

  • Augustus-kompetisie
  • Resensie: "Kinderlê" deur Lynthia Julius
  • Resensie: "Miniatuur". (Johann de Lange)
  • Boekbespreking: “Taboek” (Riku Lätti)
  • Resensie: “Stil gesprek” (Jan Pretorius)

Nuutste bydraes

  • Joan Hambidge. Watter danige lieflikheid was ons?
  • Maritha Broschk. laat dié wat oë het, voel
  • Hennie Nortjé. Shaka
  • Yolanda-Faye Holden. Beeld
  • Willem M. Roggeman. Een diva met vakantie

Nuutste kommentaar

  1. Maritha Broschk on Keith Oliver Lewis. vroeg ryp, vroeg vrot: mirror chat before the runway21 June 2025

    Liewe hemel. Dié het my nou wragtigwaar geráák.

  2. Bernard Odendaal on 100 Duitse Bestes: Rainer Maria Rilke (1875-1926) (I)17 June 2025

    Baie dankie, Ilse. Dié vertaalprojek is ‘n opwindende en uitdagende onderneming soos min vir my en Robert.

  3. Ilse on 100 Duitse Bestes: Rainer Maria Rilke (1875-1926) (I)9 June 2025

    Dankie vir die lieflike vertalings!

  4. Heleen Louw on Jacobus Swart. Franz Kafka4 June 2025

    Treffend uitgebeeld. Jou vermoe om die essensie van 'n lewe' te omskryf is iets besonders vir my. En dan jou…

  5. Caren Kearley on Resensie: “Dawerende stiltes” (Caren Kearley)4 June 2025

    Dankie Maria, jy is welkom om my te kontak as jy een wil bestel. carenkearley@gmail.com. Ek is Ninni ewig dankbaar…

Kategorieë

  • Artikels, essays, e.a.
  • Binneblik
  • Blogs
  • Digstring
  • Gedigte
  • Kompetisies
  • Nuus / Briewe
  • Nuwe Publikasie
  • Onderhoude
  • onderhoude
  • Resensies
  • Stemgrepe
  • Uncategorized
  • Vertalings
  • VWL 50 jaar later
  • Wisselkaarten
©2025 Versindaba | Ontwerp deur Frikkie van Biljon
%d