Andries Bezuidenhout. Ongegronde skilderye en Abjater Ronkedoor se volgende plan

Skryf, skryf, skryf. Alles behalwe gedigte. ʼn Gids oor hoe om lirieke te skryf. ʼn Stuk oor kerkargitektuur. ʼn Stuk oor digters en musiek. Artikels oor werkers in die klerefabrieke van Lesotho en Swaziland. Skryf, skryf, skryf. Blogs voel darem nie soos plig nie. Dit help my om te dink oor alles wat aangaan. As ek nie tyd kry vir blogs nie, beteken dit iets is verkeerd.

Iets is verkeerd. In Noorweë en by Amy Winehouse se huis.

Aan die positiewe kant. Ek kom by verf uit. Ek werk aan ʼn reeks landskappe sonder landskappe in. Of dalk eerder grondlose landskappe. Ongegronde landskappe. Soos hierdie een van ʼn stoep:

ʼn Ander een van Copal Mansion in Wete, Pemba – die eiland noord van Zanzibar. Toe ons in Wete was, was daar nie elektrisiteit nie. In skilderye mag jy egter digterlike vryheid gebruik:

Ek ry na die weste van Pretoria, neem ʼn reeks foto’s van kragstasies. My kollega Jon Hyslop sê daar was ʼn tradisie van skilderye van kragstasies in Roosevelt se tyd. Dalk Ed Hopper ook? Sal ondersoek instel. Min dinge so mooi soos ʼn kragstasie uit die dertigs.

Die volgende boodskap, van Abjater Ronkedoor, in my inboks:

“Die Dowe Digters is ʼn Facebook-groep wat bietjie minder as 6 maande gelede begin is deur Abjater Ronkedoor. Die idee agter die groep was om ‘n plekkie in die son te skep vir digters om op papier of skerm hul werk te publiseer & sonder om te skroom op mekaar se gedigte kommentaar te lewer. Ook ‘n manier om maandelikse kreatiewe vuur, wyn & woordaande te organiseer. Na ʼn paar maande se soek en swoeg het die groep uiteindelik ʼn huis gekry – Pandora Kuns Huis. Elke Donderdagaand – skuins na 7 – sal Pandora haar woordkant vir Pretoria wys. Gepubliseerde en ongepubliseerde digters van die stad sal saamtrek en gedigte en wyn deel. Toegang sal R30pp wees vir die wat wil kom luister en nie noodwendig deelneem nie.”

Die boodskap noem dat die volgende mense gaan afskop: Abjater Ronkedoor, Luna – a.k.a- gypsy da grey, MoAfrika ‘a Mokgathi, Yabadaka, Erna Jo, Nicolaas Steenkamp en Claudi Mailovich.

Meer inligting hier en hier.

Bookmark and Share

4 Kommentare op “Andries Bezuidenhout. Ongegronde skilderye en Abjater Ronkedoor se volgende plan”

  1. Desmond :

    Ek het die naweek ‘n lysie gemaak van al die (akademiese) skryfprojekte wat hierdie semester moet klaar. Dit het my erg swaarmoedig gestem… Een van die skryfprojekte vat my weer volgende maand Pretoria toe. Pasop, ek daag dalk weer op vir tee..

  2. Andries Bezuidenhout :

    Desmond, jy’s enige tyd welkom vir tee (of wyn). My skryfprojekte neem my volgende maand Kopenhagen toe, so check net voor jy aanklop. Ek sien uit na meer stukke (en foto’s) oor Griekeland!

  3. Desmond :

    Wat gaan jy in Kopenhagen maak? Gaan jy die bier kan bekostig?

    Ek wil baie graag meer goed oor Griekeland neerskryf, en van my reisdroedeltjies deel, maar tussen my eie skryf- en adminwerk en agterstallige terugvoer op nagraadse studente se werk, brand ek erg vas.

    Maar as ek jou in Augustus mis, September is ek weer in die Noorde vir die jaarlikse PsySSA kongres — heel gepas aangebied in ‘n casino.

  4. Andries Bezuidenhout :

    Desmond, dis die kwessie van die klerefabrieke wat my daarheen neem. Bykbaar is die w^reld se beste restaurant in Kopenhagen, maar ek sou ‘n paar jaar terug moes bespreek as ek ‘n tafel wou h^. En ‘n tweede verband op die huis in Trompsburg uitneem, wat teoreties seker darem die helfte van die rekening sou kon dek.

  •