Ek het reeds in ’n vorige bydrae verwys na die literatuur wat deur die vroulike lede van die Klerewerkersunie gepubliseer is. Vandag deel ek graag die gedig “Die Stryd in die Stad” deur Johanna Cornelius (oorspronklik gepuliseer in Klerewerker, Desember 1939, en opgeneem in SA in poësie / SA in poetry [1988], saamgestel deur Van Wyk, Conradie en Constandaras):
Ek kom van die plaas, van die platteland;
Te verdruk om daar langer te woon,
Ek is gebroke, gedrywe van my land,
Erfenis van my voorvaders, dis my loon.
Hoe het ek gesukkel en gesoek;
Hier in die woelige selfsugtige plek,
Na ’n werkie. My familie moet lewe.
Wat ’n vloek om voedsel te kry en klere om die liggaam te dek.
Hier is ’n uitweg – sluit aan by ’n Unie,
Waar mense wat strewe na ’n beter dag
Verenig, saamstaan en veg in één linie,
Die leuse van ons volk – “Eendrag maak mag!”
Nou staan ek tesaam met die werkendeklas
Ons werk en ons ly, daar’s ’n stryd wat ons stry,
Ons strewe en ons bou, tot die hoogste mas,
Vir ’n beter lewe vir almal, vir jou en vir my!
Alhoewel ons almal waarskynlik sal saamstem dat hier van min of geen tegniese sofistikasie sprake is nie, is dit nietemin ’n gedig wat myns insiens sy plek in die kanon verdien. Die huis van die kanon behoort immers vele wonings te hê. In die eerste plek gaan dit hier oor die ontheemdheid van ’n ongesofistikeerde vrou in die vreemde en vyandige stadsomgewing; ook haar besorgdheid oor haar familie. In hierdie sin is die stem van die spreker hier ook die stem van talle migrantewerkers in verskillende plekke en tye.
In die tweede plek kan die didaktiese element nie misgelees word nie. Wat my hier wel opval – te midde van die nogal prekerige inslag – is hoe die Unie-leuse “Eendrag maak mag” (ook die ou ZAR se leuse) sonder moeite aan die strewe van die kommunisties-gesinde werkers gekoppel word. Die boodskap hiervan is moontlik dat “volksbesit” presies is wat dit is – dit is tot die beskikking van alle faksies van die “volk” (vergewe tog maar dié term), en die appropriëring daarvan deur een groepering kan hoogstens ’n illusie van “besit” wees.
Slegs enkele bladsye voor “Die Stryd in die Stad” in die versamelbundel, lees ek toe ook hierdie gedig uit 1936 deur Walter Nhlapo raak, wat op merkwaardige manier met Cornelius se gedig resoneer:
The Revolution Song
The revolution song travels wide
’Tis constant as the flowing tide –
A murmuring distinct to all
Whose ears will listen to the call.
Hark, hear the strain, the melody,
It fills the listeners with glee,
It causes faint hearts to grow strong
And lend their voices to the throng.
So join the tune, ye black folk;
Someday ‘twill remove the yoke.
O, chant it loud, you dusky braves,
Sing of the day your spirit craves.
Mix concrete and make roads, but softly croon,
On ancient talkin’ drums beat loud the tune;
Go forth uniting every heart
In links no foe can ever part.
Go across the deserts and the sea,
And sing, ‘Blackmen shall be free!’
Go everywhere beneath the sun,
Join all black souls into one.
Ja, eendrag maak voorwaar mag.