Andries Bezuidenhout. Koningin Victoria op die perron in Kopenhagen

Dat Leonard Cohen nou die eerste persoon is aan wie ek dink in Kopenhagen. Spesifiek sy gedig oor Koningin Victoria, wat uiteindelik in een of ander hotelkamer opgeneem is – net sy dreunstem saam met enkele kitaarsnare as begeleiding – en op een van sy albums met lewendige opnames ingesluit is.

Queen Victoria,
My father and all his tobacco loved you,
I love you too in all your forms,
the slim unlovely virgin floating among German beards,
the mean governess of the huge pink maps,
the solitary mourner of a prince.

Dit verwys natuurlik na Prins Albert, haar man, wat dood is. Vir jare het niemand haar gesien nie. Maar dis die volgende vers se mooi beskrywing van hoe vuil die glasdak van ʼn stasie kan wees wat my aan Cohen laat dink. Ek is seker hy verwys hier na Victoriastasie in Londen se dak – daardie Gotiese konstruksie van gietyster en glas.

Queen Victoria,
I am cold and rainy,
I am dirty as a glass roof in a train station,
I feel like an empty cast iron exhibition,
I want ornaments on everything,
because my love, she gone with other boys.

My Deense kollega bring konfyt wat sy ma ingelê het. Dit het minder suiker as Engelse konfyt. Op die botteltjie het die onseker pen van ʼn ou vrou geskryf: “Rabarber Jordbær 30/7.09” Rabarber en aarbei. Dit smaak lekker op rogbrood. Nie so soet nie.

Queen Victoria,
I’m not much nourished by modern love,
will you come into my life
with your sorrow and your black carriages,
And your perfect
memories.

Beland per ongeluk op Kopenhagen se sentraalstasie. Verdwaal op soek na ʼn manier om op die metrotreine te kom. Die stasie is tussen 1904 en 1911 gebou en is deur die argitek Heinrich Wenck ontwerp. Sterk elemente van wat die Engelse “arts and crafts” noem; fyn inlegwerk met bakstene, die gebruik van houtbalke en loodglasvensters. Staan vir lank stil en neem foto’s, Leonard Cohen in my kop. Die lampskerms lyk soos konfytflesse. In die nag skyn die lampe seker teen baksteenmure, die kleur van rabarber en aarbei. Of dalk donkerder. Deesdae spuug treine nie meer roet nie en is die glasdakke nogal skoon.

Queen Victoria,
the Twentieth Century belongs to you and me.
Let us be two severe giants not less lonely for our partnership,
who discoloured test tubes in the halls of Science,
who turned up unwelcome at every World’s Fair,
heavy with proverb and correction
confusing the star-dazed tourists
with our incomparable sense of loss.

Bookmark and Share

Comments are closed.

  •