Marlies Taljard: “A Place of divine poetry”: Book of Kells

Books of Kells

Books of Kells

Twaalfuur is die kongres in Limerick verby en voordat ons na ons hotel in die stad vertrek, onderneem ek en kollega Henk ‘n betowerde wandeltog langs die Shannon op die kampus van die University of Limerick wat my in die regte stemming kry vir die paar dae wat ek myself in Ierland veroorloof. Waterpoele met drywende swane, die vinnig vloeiende Shannonrivier, woude met regte “bracken”, yarrow, wilde rose, viooltjies en fuchsias langs die pad is vir dié kind van die Suid-Afrikaanse Hoëveld reeds ‘n soort faerie-ruimte. Ons hotel is reg op die Shannon en vanaf my kamer sien ek ‘n indrukwekkende moderne brug en ‘n ou-ou Middeleeuse een, op die horison King James’ Castle en St. Mary’s Cathedral wat ons die volgende dag besoek. Dan met die trein Dublin toe.

Ek het die goeie geluk van ‘n taxi-bestuurder wat die stad kén en nie skaam is om sy kennis met my te deel nie, iemand wat werklik hartstogtelik in sy bekende ruimte lééf! Danksy dié Dubliner kry die plekke wat ek op sy aanbeveling besoek addisionele betekenis en word dit vir my gelaai met die emosie van my begeesterde gids: ek besoek die pragtige St. Stephen’s Greens in die middel van Dublin – ‘n park waar jonk en oud die dag se sonskyn kom indrink – ‘n standbeeld ter ere van die digter William Butler Yeats op ‘n mistieke, donker plek tussen bome, onverwagse stil poele onder swaar hangende takke, spuitfonteine en kinders … St. Partick’s Cathedral is nie ver van daar nie en ek sien selfs die berugte Temple Bar. Grafton Street se winkels trek my in hulle bekoring in … ek vat honderd keer aan die weelderige cashmere truie, wanneer die winkelassistente nie kyk nie, druk ek my gesig in die behaaglike sagtheid …

Die volgende dag sien ons die Guinness-Storehouse, drink ‘n Guiness in die Gravity Bar, die hoogste kroeg in Dublin, bo-op die gebou met ‘n uitsig van 360 grade! Ons sien die huis van James Joyce, die uithangplekke van skrywers soos George Bernard Shaw en Samuel Becket. Ons toergids beveel aan dat ek later die Writers’ Museum besoek – sienende dat ek in die Letterkunde belangstel. Ek gaan – en dis eintlik ‘n storie vir ‘n ander dag … woorde is daar genoeg, maar woorde om dit te beskryf, ontwyk my! Die museum word gewy aan alle Ierse skrywers, maar een van die twee vertrekke daarvan word aan moderne en lewende skrywers opgedra. Hier word seldsame uitgawes uitgestal, meestal eerste uitgawes wat die wêreld betower het, soos Gulliver’s Travels,, Dracula, Ulysses en Waiting for Godot. Dan is daar die handgeskrewe manuskripte soos Patrick Kavanagh se “The Great Hunger” wat deur die eerste uitgewer aan wie dit voorgelê is, afgekeur is!

Maar dan … maar dan … was daar die volgende dag, die dag vir Trinity College. Die dag toe die Old Library met sy eikehoutboekrakke wat meer as twee verdiepings hoog staan en 65 meter lank is, vol oeroue manuskripte in leer gebind (meer as 200 000 glo!), my asem letterlik wegslaan. Niks kom by die reuk van ou boeke en hout nie! En wonder bo wonder, ‘n harp uit die vyftiende eeu wat volgens die brosjure die oudste harp in Ierland is en aan die beroemde Brian Boru behoort het – afgebeeld op die agterkant van die Euro!

Tog is die voorafgaande slegs inleidende notas, want … die helfte is nimmer vertel! Die biblioteek van Trinity College is éintlik wêreldberoemd omdat dit die boek bevat wat deur ‘n onbekende skrywer beskryf word as “a place of divine beauty” – die Book of Kells. Hierdie manuskrip, wat algemeen bekend staan as die mooiste Middeleeuse manuskrip, is die argetipe van alle boeke. Elke bladsy getuig van buitengewone meesterskap, verbeelding en konsentrasie. Hoewel daar groot sorg bestee is aan die oorkoepelende geheel van die boek, getuig elke bladsy van ‘n toegewydheid aan detail. Van die 680 bladsye is slegs 2 sonder enige illustrasie of kleur. Die grootse formalisme wat spreek uit die weergalose illuminasies, word gebalanseer deur meesleurende spirale, knope en randpatrone, deur stoute sketsies van muise, katte en honde, otters en visse wat in hoeke of tussen die reëls van die heilige teks ingeteken is – waarskynlik deur leerlingkalligrawe en jong monnike wat nog nie hulle sin vir pret verloor het nie. Dit is ‘n boek wat vir spesiale geleenthede bedoel is en wat permanent op die altaar van die Abdykerk sou bly.

Die Book of Kells bevat die Latynse weergawe van die vier Evangelies: Mattheus, Markus, Lukas en Johannes, met die hand gekalligrafeer in ‘n ornate skrif wat vandag bekend staan as Insular Majuscule oftewel Irish Uncial, ‘n styl wat gekenmerk word deur ronde letters wat van die Grieks afstam. Dit is ongeveer in die jaar 800 nC begin, waarskynlik op die eiland Iona wat tussen Skotland en Ierland geleë is, maar is na ‘n inval van die Vikings na die Abdy van Kells in die Ierse Middellande geneem waar dit tot 1541 gebly het toe dit gesteel is. Wonderbaarlik is die boek teruggevind, maar die omslag, wat met kosbare edelstene versier was, is nooit weer gevind nie. Sedert 1661 word dit in Trinity College in Dublin bewaar waar Koningin Elizabeth II dit enkele weke gelede besigtig het!

Maar wat weet ons van die kunstenaars wat hierdie manuskrip gemaak het? – want daar was beslis ‘n paar mense by betrokke. Die antwoord is dat daar geen nagelate dokument is wat ons enige iets vertel van enige individu wat aan hierdie grootse meesterwerk gewerk het nie! Wat navorsing aan die lig gebring het, is dat ten minste vier belangrike skribente se style nagespeur kon word. Omdat Middeleeuse kunstenaars dikwels hulleself as modelle gebruik het, kan ons vermoed dat die afbeelding van 9 dissipels van Jesus op bladsy 202 dalk die kunstenaars was … Ten minste vier van die kunstenaars was meesterkalligrawe, die ander vyf sou waarskynlik assistente gewees het wat die verf gemeng het, die tee gemaak het en die amusante diertjies, voëls en insekte op obskure plekke in die teks ingeverf het. Wat ons ook weet, is dat die meesters buitengewoon bysiende moes gewees het, want wanneer ‘n mens die illustrasie van Lukas op bladsy 201 van die teks beskou, kan jy eers wanneer die illustrasie tienkeer vergroot word, die asembenemende ingewikkelde en presiese versiering sien wat daarop aangebring is. Daar is letterlik tientalle ander soortgelyke voorbeelde in die teks, en dit terwyl vergrootglase in dié tyd nie naastenby kragtig genoeg was om tienvoudig te vergroot nie!

Die anonimiteit van hierdie en ander kunswerke uit dieselfde tydperk bring ‘n mens te staan voor vrae wat in ‘n postmoderne plagiaat-bejagde wêreld selde gevra word, vrae soos wat is die verhouding tussen kuns en inspirasie; wat is die aard van verbeelding – kan verbeelding kollektief wees; kan die persepsie van “waarheid” kollektief aangevoel en sinesteties deur ‘n groep kunstenaars gerepresenteer word? Die beheptheid van die moderne gemeenskap met oorspronklikheid en die stem van die kunstenaar wat in sy kunswerk gehoor word, word deur sulke kuns onder verdenking geplaas. Dit konfronteer ook die moderne leser met die doel van sulke kunswerke wat bedoel was as heilige, God-geïnspireerde kuns: waarom spreek so ‘n kunswerk nog tot moderne lesers en kykers; kan dit selfs vandag nog ons kuns en ons kunsbeskouing beïnvloed?

Die volgende gedig deur Constantine of Rhodes uit die negende eeu werp lig op die kunsbeskouing van die tyd:

In order to paint you, O Virgin, stars rather than colours
would be needed, so that you, the Gate of Light,
should be depicted in luminosities. But the stars do not
obey the voices of mortals. Therefore we
delineate and paint you with what nature
and the laws of painting can provide.

 

Books of Kells

Books of Kells

 

Manuskripte soos die Book of Kells is natuurlik nie op papier geskryf nie, maar op vellum of perkament (spesiaal voorbereide kalfsvel) wat in ewe groot bladsye gesny is. Die Book of Kells is op ongeveer 185 velle geskryf wat verkry is van die troppe beeste wat kloosters aangehou het. Wanneer ‘n kopieerder ‘n fout maak, kon hy dit met ‘n spesiale mes uitkrap en oorskryf. Die Book of Kells het baie sulke regstellings, en op een plek teen die einde van die boek het die skrywer die volgende opmerking in Geallic in die Latynse teks ingeskryf: “… very long, very verbose, and very tedious for the scribe.” Nou ja …! Die hele werk aan die manuskrip is natuurlik by daglig gedoen sonder enige vorm van beligting, omdat die monnike bang was vir vuur. Daarom is alle kerse, olielampe of kaggels verbied. ‘n Monnik sou tipies die hele dag terwyl daglig beskikbaar was (in die somer tot 18 ure) staan en skryf en net ophou om te bid en te eet.

Die ink is uiteraard tuis gemeng deur assistente en het enige iets bevat, onder andere gal, bloed, akkers, plantpigment en metaalsoute. Kleure is gemaak van o.a. lapis lazuli, arseenverbindings, blare, wortels en blomme, asook eksotiese pigment wat dikwels ten duurste uit die Ooste bekom is. Dit is dan gemeng met eierwit om dit te bind en met ‘n pen wat dikwels van ‘n swaanveer gemaak is, op die perkament aangebring.

Die Book of Kells is so tipies Iers soos die shamrock, waarskynlik dié bekendste boek op aarde; dit is ‘n boek wat inspireer en in sy geheel dikwels as poësie-in-aksie beskryf word; dit is ‘n boek wat baie digters geïnspireer het – die gedig hieronder wat uit die elfde eeu dateer en deur ‘n anonieme digter geskryf is, is een van vele wat met hierdie heilige en uitsonderlike boek geassosieer word:

My hand is weary with writing
My sharp quill is not steady
My slender-beaked pen pours forth
A black draught of shining dark-blue ink.

                                                                                                                                                                                                                                               

Bookmark and Share

3 Kommentare op “Marlies Taljard: “A Place of divine poetry”: Book of Kells”

  1. Annie :

    Dankie Marlies vir hierdie wonderlike leersame vertelling. Ek het dit nou werklik geniet!

  2. Evette Weyers :

    Marlies baie dankie vir die heerlike reis deur die Ierse wêreld en die Book of Kells! Jy tower daardie wêreld pragtig op en lok my weereens om die land te besoek. David Whyte, Iers gebore digter wat nou in die Noorde van die VSA woon, verwys na die magiese wêreld van die Iere. Ek het dit op ‘n CD gehoor en dit klink soos Tienne Novin. Die magiese wêreld waarna ons almal soek,wat net om die draai is maar ook amper heeltemaal buite bereik. Sekerlik Kelties in oorsprong en lank voor die tyd van hierdie pragtige Book of Kells, met sy humoristiese tekening van jong monikke op party bladsye. Nogmaals dankie. Ek het ook jou bespreking van die naratiewe in Antjie Krog se KLEUR KOM NOOIT ALLEEN nie , terdeë geniet.

  3. Marlies Taljard :

    Evette, dankie vir jou reaksie: Ierland is inderdaad ‘n betowerende land waar ou-ou mites en legendes saam met die daaglikse brood geëet word. Geen boer sal oor ‘n faerie-ring ploeg nie, die nasionale snelweg maak ‘n draai om ‘n faerie-grove wat niks anders is nie as ‘n hawthorn struik!Dis ‘n land waarheen ek altyd sal terugaan, ‘n aangrypende kultuur! Om nog n ie eers te praat van die skrywers wat dit voortgebring het nie!!

  •