Andries Bezuidenhout. Vanaf Bellavista kan jy Swede sien

Arne Jacobsen (1902-1971)

Ek sit op die oomblik op stoel nommer 3107. Wel, dalk eerder ontwerp nommer 3107, deur Arne Jacobsen (1902-1971). Buite Denemarke is hierdie modernistiese argitek en ontwerper (in die foto hier bo) meer bekend vir stoele as geboue. Dink maar aan die sogenaamde swaanstoel en die eierstoel (twee van laasgenoemde in die agtergrond). Vroeër vandag het ons gaan kyk hoe een van sy beroemdste argitektoniese projekte lyk – in ʼn plek met die naam Klampenborg, teen die kus in die noorde van Kopenhagen. Verskillende dele van die ontwikkeling is oor ʼn aantal jare – vanaf 1932 tot 1961 – deur Jacobsen ontwerp. Die hele ontwikkeling kyk op die see uit en is heel toepaslik Bellavista en Bellevue genoem.

Die eerste deel van die residensiële ontwikkelings, Bellavista, is van 1932 tot 1934 gebou. Sommige noem dit Mediterreense modernisme, of wit funksionalisme. In 1925, toe Jacobsen nog ʼn student was, het hy reeds aan die beroemde Exposition Internationale des Arts Décoratifs et Industriels Modernes (waarvan die term Art Deco kom) deelgeneem en ʼn silwer medalje vir die ontwerp van ʼn stoel verower. Hier het hy onder die ondruk van die Switsers-Franse argitek Le Corbusier se werk gekom. Kort daarna het hy na Duitsland gereis en met beide Mies van der Rohe en Walter Gropius se werk in aanraking gekom.

Die volgende twee foto’s uit die argiewe wys hoe die stand by Bellavista destyds gelyk het, en die een daarna hoe die strand se ablusiegeriewe vandag lyk. Jacobsen het die aantrekkamers, torings vir lewensredders en kaartjiekantore ontwerp en selfs voorgeskryf hoe die toegangskaartjies en werknemers se uniforms moes lyk:

Strand by Bellevue

Lewensreddertoring in die agtergrond

Geboue op Bellevue se strand, vandag

Vandag lyk Bellavista só:

Bellevista, vooraansig

Bellavista, syaansig

Bellavista, syaansig detail

Bellavista, vooraansig detail

Bellavista in die 1930s

In 1937 het ʼn tweede gedeelte van die projek gevolg, die Bellevue Teater. Die teater het in onbruik geraak en verval, maar in 2002 het die argitekte Rolf Henning Jensen en Jes Kølpen dit restoureer. Deesdae word dit weer ten volle benut en mense het buite die teater gestaan om ʼn balletvertoning by te woon toe ons daar was. Langs die teater is daar ʼn restaurant met die naam Jacobsen.

Bellevue Teater, vooraansig

Bellevue Teater, vanaf die see gesien

Bellevue Teater, syaansig detail

Vanaf 1950 tot 1954 is ʼn verdere deel van die ontwikkeling aangepak – die Søholmhuise. ʼn Mens kan sien hoe modernistiese styl verander het in ʼn paar dekades. Arne Jacobsen het self tot met sy dood in 1971 in een van die huise gewoon, sover ek kan vasstel, die een op die punt – naaste aan die see.

Søholmhuise

Søholmhuise, van nader

Søholmhuise, vanuit 'n ander hoek

Arne Jacobsen se huis, dink ek...

Jacobsen se kenmerkende lewensreddertorings is nou weg. My Deens is nog maar sleg, maar dit blyk uit ʼn kennisgewing dat daar darem planne is om replikas op te rig. Tydens die Tweede Wêreldoorlog, met die Duitse besetting van Denemarke, moes Jacobsen vir sy lewe vlug, omdat daar planne was om hom te deporteer. Hy het met ʼn roeiboot Swede toe ontsnap. Vanaf die strand by Bellavista kan mens Swede op die horison sien.

Bronne:

Olaf Lind en Annemarie Lund. Top 50 Architecture Copenhagen (2007, Arkitektens Forlag), bls. 92-95; Wikipedia. Lees hier meer Arne Jacobsen.

Bookmark and Share

5 Kommentare op “Andries Bezuidenhout. Vanaf Bellavista kan jy Swede sien”

  1. Desmond :

    Baie lekker blog, Andries. Hoop jy kry tyd om nog te skryf! (Ook oor kos; wat eet die Dene?)

  2. Andries Bezuidenhout :

    Desmond, met die skryf gaan dit sommer baie goed, omdat daar nie vergaderings en institusionele politiek is nie. Dis vreemd as om weg te kom van jou werksplek die enigste manier is om werklik produktief te wees. Oor kos sal ek nog skryf. Die wêreld se beste restaurant (Noma) is hier, maar dis my nie beskore nie. Vir eers, een woord: Smørrebrød. Later meer daaroor, asook iets genaamd “die veearts se laataandmaal”.
    NS. Ons het natuurlik reeds Kierkegaard se graf besoek. Die Dene is heeltemal verstom daaroor dat mense buite Denemarke in hom belangstel. “But why? He was Christian.” Dan prewel ek maar iets oor eksistensialisme. (As student het ek ʼn ent in Either/Or ingekom, maar opgegee.)

  3. Desmond :

    Andries, ek moet bieg, as student het ek nogal ‘n DING vir Kierkegaard gehad. Ek wou op ‘n stadium selfs ‘n lenige novelletjie skryf oor sy verhouding met Regina (was dit haar naam?).

    Willie Esterhuizen het in my eerstejaar ‘n kursus in filosofiese antropologie aangebied. Die twee figure wat by my gespook het was Kierkegaard en Foucault. Vreemde kombinasie. Kierkegaard is ‘n mooi herinnering, maar Foucault het bly klou. Lees juis nou sy College de France- lesings uit die laat-1970s, “Security, Territory, Population” en “The Birth of Biopolitics”. Wonderlik — vir die inhoud, maar ook omdat ‘n mens ervaar hoe hy soekend, krities en tentatief deur sy eie materiaal beweeg. Thought in the making.

    Ek vind dit nogal neerdrukkend dat ‘n mens jou akademiese werk (lees, reflekteer, skryf) soveel beter WEG van die kantoor af doen. Om die waarheid te s^e, ek vind dit bitter moeilik om ENIGIETS akademies op kampus uit te rig, terwyl ek allerlei goeie idees en insigte bekom wanneer ek weg van die plek is.

    Maar, on the up side, dit lyk my my Sao Paulo trippie is weer aan… Jipee.

  4. Evette Weyers :

    Dis baie lekker om saam met jou te reis! In al jou blogs!Doe so voort.Toneelstukke/films soos Festen en die Hornet’s Nest series, wys ‘n meer brutaal onderliggende Denemarke en Swede. Jou invalshoek bring lekker balans Die Skandinawiers was nog altyd PUIK ontwerpers met ‘n gesofistikeerde maar eie estetiek.

  5. Andries Bezuidenhout :

    Evette, en die Sweedse film “Songs from the second floor”. Lieflike, donker film. Slegs statiese kameraskote. Ek het vandag in die Nasionale Museum meer oor menslike offerandes uitgevind – spesifiek jong meisies wat geoffer word in die pagan tydperk. Ek verstaan een van die temas uit die film nou beter, dink ek. Tonele daaruit hier:
    http://www.youtube.com/watch?v=EW8J5LvzeZI

  •