Louis Esterhuizen. Intimiteit van die kleiner boekwinkel

Synde ‘n boekhandelaar, sal berigte oor die stand van boekwinkels altyd my aandag trek. Vandaar my opgewondenheid toe ek op Washington Post se webblad lees dat daar te midde van die druk op wêreld-ekonomie en somber berigte van boekwinkelreuse soos Borders en Barnes & Noble wat deure sluit, die afgelope jaar ‘n toename van 7% was in die aantal onafhanklike, gemeenskapsgerigte  boekwinkels in die VSA. Hierdie groeikurwe, wat 400 nuwe geregistreerde winkels verteenwoordig, bring die getal kleinhandelsake in die boekbedryf nou op 1,830 te staan.

Volgens Meg Smith, voorsitter van The American Booksellers Association, kan hierdie groei toegeskryf word aan ‘n aantal faktore, naamlik: ” …the demise of large bookstores; a general social identification with locally owned businesses, an offshoot of the ‘go-local’ movement in restaurants and grocery stores; and a number of store owners who have identified a small but viable market in their communities.” Volgens haar is die groot boekwinkels in die pekel juis omrede hulle té groot is: “The lesson in the decline of big stores, is not that no one wants to buy books. It’s that the big stores were too big. They had overreached and, in trying to be all things to all readers, had lost a sense of intimacy that books and reading seem to thrive on.”

En dit is juis dié intimiteit wat die kleiner boekwinkel bied, wat deur die kliënte as hul vernaamste pluspunt uitgesonder word: “Every time I go down there, it’s like meeting family, hanging out with people who like what I like. They even got me started drinking wine again!” het ene Alma Katsu aan die Washington Post se beriggewer gesê.

Vir jou leesplesier volg een van my gunsteling Loftus Marais-gedigte hieronder. En lees sommer ook die vorige blog wat ek verlede jaar as Nuuswekker geskryf het oor die finansiële verknorsing van Barnes & Noble.

***

 

Gedig vir my Seamus Heaney New Selected Poems 1966-1987

 

potloodnotas van ‘n vreemdeling wat blyk

katoliek te wees, ‘n koffievlek

‘n verdagte merk op “Digging” wat na ‘n snotkol lyk

‘n spinnekoppie platgedruk op bl. 203 –

o, dis poësie dié

die ganse wêreld is tweedehands te koop

 

die rug van die boek (isbn 0-571-14372-5)

is geplooi en daar val sand

uit die blaaie as ek skud

(god, van watter tuin of park of strand?)

kon ons maar woorde tussen vingertoppe vryf

soos swart stukkies turf

 

die boek in my hand sê woorde is restant –

die swart skeletjies van dooie idees

geperste memento’s van die eerstehandse dinge

 

meneer Heaney, u weet tog een van u moerasse

selfs vol subtiliteit en melodie

kan nie soos modder onder toonnaels vassit nie

 

ons kan jou plekname darem hoor

die wind in “Aarhus” en “Anahorish”

en in “Carrickfergus” die klank van oor nat turf stap

 

maar luister: die wêreld bars

uit alle metrum uit

‘n gedig bly slegs ‘n flou epitoom

meneer Heaney, voel:

selfs dié papier was eens ‘n boom

 

© Loftus Marais (Uit: Staan in die algemeen nader aan vensters, 2008: Tafelberg Uitgewers)

 

Bookmark and Share

Comments are closed.

  •