Andries Bezuidenhout. Oubaas Mærsk se Operagebou

Let op die “poetry slam” wat in die banier in die foto hier bo adverteer word. In die agtergrond is die Deense Operahuis. Die foto is van die oorkant van die hawe geneem. Ek en Irma vat nou die aand die Metro Christianshavn toe om dit van nader te besigtig. Geen uitvoerings op die oomblik nie, want dis somervakansie. Soprane se stembande moet ook rus. Dis een van die duurste operahuise te wêreld. Die gebou is ʼn geskenk aan die land deur een van die rykste inwoners, Mærsk McKinney Møller, wat hierdie jaar 98 jaar oud is. Hy was van 1965 tot 1993 die baas van Mærsk, die Deense skeepsmaatskappy. Konsternasie toe Møller die helfte van sy $500 miljoen skenking van belasting aftrek, wat basies beteken dat hy die regering forseer het om ʼn groot deel van sy projek te befonds. Konstruksie het in Junie 2001 begin en bouwerk is eers in Oktober 2004 voltooi. Van die brûe oor dele van die hawe wat na die gebou toe lei, is gemaak van eikebome wat in 1807 geplant is. Daar is ook baie marmer (uit Sicilië), brons en goud.

Die gebou is deur die argitek Henning Larsen ontwerp en die struwelinge tussen hom en oubaas Mærsk is legendaries. Die magnaat het die wêreld vol getoer en gaan kyk na hoe operahuise elders lyk. Wat hom klaarblyklik onstig het, is dat baie van hulle nie goed verouder nie. Hy het met die ontwerpproses ingemeng en op veranderings aan Larsen se planne aangedring. Larsen wou byvoorbeeld hê die suile aan die gebou se voorkant moes heeltemal van glas wees. Møller het gevoel dit sou sleg verouder en sy ingrepe het die rooster van vlekvrye staal tot gevolg gehad.

Ons stap om die gebou. Dis groot. Ek soek na moontlike kamera skote, maar sukkel. Irma gaan sit op ʼn bankie en kyk vir die hawe, haar rug na die gebou toe.

Syaansig, vanuit die suide

As jy by die ingang staan en omdraai

Stoep en deure

 

 

Die oubaas se metaalrooster

 

 

Uitsig van die kaai

 

 

Ek dink nie ek hou van die gebou nie. Die enigste woord wat ek kan vind om dit te beskryf is “opdringerig”.

Bookmark and Share

2 Kommentare op “Andries Bezuidenhout. Oubaas Mærsk se Operagebou”

  1. Desmond :

    Dankie, Andries — jy’s ons man in Kopenhagen en jy bring jou kant! Ja-nee, ek het al mooier operahuise gesien. Dit stel my nogtans om een of ander rede gerus dat mense soveel geld op iets soos klassieke musiek spandeer. Wanneer keer julle terug? Ek is mid-maand weer in Pretoria…

  2. Andries Bezuidenhout :

    Desmond, hulle het ‘n baie mooi teater vir klassieke musiek aan die ander kant van die hawe. Hierdie een gaan oor ego, dink ek. Die oubaas gee ook baie geld vir die regse party wat aan bewind is. Hopelik word hulle op 15 September uit die kussings gelig deur die sosiaal-demokrate en die sosialiste. Ons is Woensdag terug in Pretoria, so loer asseblief in as jy daar is!

  •