Tom Gouws wen ATKV-veertjie vir Poësie

 

Die ATKV se tweede Woordveertjie vir Poësie word vanjaar toegeken aan die digter Tom Gouws vir sy digbundel Ligloop. Verlede jaar se wenner was Gilbert Gibson.

Dié prestige geleentheid vir die ontvangers van Woordveertjies in 2011 het by Nooitgedacht op 9 September, net buite Stellenbosch, plaasgevind.

  Veels geluk, Tom!

 

Tom Gouws en gade by die toekennings-aand. Foto: Book SA

Tom Gouws en gade by die toekennings-aand. Foto: Book SA

Omslag

Omslag

“Met hierdie vierde bundel van hom in 20 jaar versterk Tom Gouws sy aansien as Afrikaanse digter van die Christelike, selfs Christelik-mistieke lewens- en werklikheidservaring. Dié belewing is sterk intellektueel getint, en literêr bewus – en herinner vandaar in bepaalde opsigte, soos al deur heelparty kritici uitgewys is, aan dié van ‘n T.T. Cloete in Afrikaans. ”  Lees verder aan Bernard Odendaal se resensie oor Ligloop op hierdie webblad. Daar is ook ‘n interessante onderhoud wat met Tom Gouws gevoer is.

 

 

 

advent

 

“She said to me: ‘What an instrument your body!

            Single and perfectly distinct from everything else!

            What a tool in the hands of the Lord!

Only God could have brought it to its shape!”

            -D.H. Lawrence

 

2 Kor. 4:16

 

sy kyk stip na die troufoto teen die muur,

dan stip na hom waar hy stol as naakfiguur,

die los buiteflappe van sy vleestent weggeskuif.

“my bruidegom het nou ‘n middeljarige se lyf,”

sê sy hartseer bruid gedemp. met dowwe oë kyk

hy onwillekeurig na die spieël wat vaagweg lyk

soos hy, skaamherken die indertydse bruidegom,

maar veel, véél is anders nou aan hom:

die eens welige swart boskaas is nou asgrys yl;

die tande afgevyl deur tyd; die lyf wat soepel geil

en passievol kon buig, is seer en stadig, ‘n ou kolos

met wit deeg aan die flanke; uit ‘n woeste klos

snorbaard loer ‘n moeë leeu se droë snoet;

vel verlep tot ou skil, mangogeel-en-swart gesproet.

 

sy kyk stip na die bruidegom se gerinneweerde tent.

met dieper oë probeer sy sin sien in dié patent

van weerloosheid. diep binne eien sy dit wat latent

gloei, ‘n sagte lig wat dié ou lap sonder fondamente

openbaar: ‘n staning vol goud en edelsteen, talente

silwer, spesery … die lyf word ‘n sakrament

– beleë wyn en uitgespaarde brood – ‘n testament

sonder sediment. sy kyk stip na dié spotprent

van die Bruidegom en hoe óngesiens Hy Hom inent.

 

© Tom Gouws (Uit: Ligloop, 2010: Human & Rousseau)

 

 

 

Bookmark and Share

3 Kommentare op “Tom Gouws wen ATKV-veertjie vir Poësie”

  1. Johann Lodewyk Marais :

    Hartlik geluk met die toekenning, Tom. Jy het ‘n buitengewone bundel geskryf.

  2. Tom Gouws :

    Beste Johann

    Ek waardeer jou gawe gelukwensing en mooi woorde geweldig. Baie dankie.

    Tom

  3. Johann :

    Hartlik van my kant af ook, Tom. Welverdiend.

  •