Andries Bezuidenhout. Die kleur van pampoen

ʼn Kattebak vol –
boerpampoene, karkoere, narras, skorsies.
Rasper, kook, roer, braai.
Droog die brousel uit.
Meng en skommel dan saam met olie.
Doop die kwas en smeer oor doek.
Helaas, keer op keer verweer die kleur
en kraak tot bruin kapoen.

Wat gedoen? Die dag kom nader.

ʼn Keisteen uit Wellington
baksteen uit ʼn tronk
(rooi onder die gloeidraad in ʼn glasige vakuum)
rots uit Port Bou
pleister uit die muur van die mark by Beaubourg
gruis uit ʼn steeg van Goree
plavei gepatineer uit ʼn pad in Palestina
en ʼn stukkie fondament van die brug na Manhattan.

Breek en stamp en maal en haal
die pigment uit klip
om met roulynolie te meng.

Die prent is gereed vir die sestiende September –
steeds nie die kleur van die klank van pampoen nie
yl gesmeer, die son skyn deur
en ook nie droog nie
maar die olie het reeds weer tot klip begin stol.

Bookmark and Share

5 Kommentare op “Andries Bezuidenhout. Die kleur van pampoen”

  1. Breyten Breytenbach :

    Andries: Daardie lelike ou (met meer kontradiksies as ‘n Kanadese karakoelboer wat eintlik kamele wou kweek) sê ek moet vir jou groot dankie sê vir die mooi gedig. Ek doen dit maar want die ou is te babbelaas en te fensie om dit self te kan doen. Hy pla my regtig – maar ek moet saamstem met sy mening oor jou vers.
    Hy sê ook ek moet laat weet dat hy nou al ‘n tydjie sukkel om vonkposse by jou bestemming te kry. Met sy grootheidswaan dink hy natuurlik dis omdat hy op ‘n swartlys is iewers. Gmmff. Maar miskien kan jy vir hom ‘n adres stuur waar hy jou kan bereik? Hy dreig ook sommer so in die bloute in dat hy gaan aanhou skryf, al is dit ook net “om die boere te vererg” – oftewel, hy sê solank hy nog kan lieg sal hy nie ophou skryf nie. (Ek gee maar net die holle beloftes aan…)
    En hy sê ek moet vir jou groete sê en herhaal dat hy jou skrywes besonder baie geniet. En daar het ek nogal ontsag vir sy oordeelvermoë en sy smaak!
    Jan Afrika

  2. Andries Bezuidenhout :

    Beste Jan Afrika
    Hoe vreemd dat ek juis vanoggend deur “Papierblom” blaai. Dis amper beter as Breytenbach self, al het jy ‘n vuiler bek as hy (veral na die einde van die bundel toe)! Dis helaas hoe ver my letterkundige oordeel strek. Ook nie veel beter as daardie Andries s’n nie. Om nie van sy onbehendige kwas (dis nou sy verfkwas) te praat nie. Ek laat hom weet.
    Groete,
    Roof
    NS. Baie geluk met Breyten Breytenbach se verjaarsdag.

  3. Breyten Breytenbach :

    Beste Meneer Bezuidenhout (ek kom nou eers agter dat ek voorbarig was in my vorige skrywe: ons ken mekaar mos eintlik nie?),

    Breytenbach (Bullebag), hoewel getrek, het my so pas duidelik laat verstaan dat ek dit sterk moet oordra dat hy nie geweet het van jou skilderwerk nie (dis sy onkunde en skande, maar ek moet darem sê myne ook), dat hy regtig onder die indruk daarvan is (ek ook, al weet ek meer van skilderwerk as hy, en aflei dat dit in olie gedoen is) en nuuskierig om meer te sien. Hy hoop hy kry meer daardie geleentheid en hy het my belowe dat hy sy indrukke met my sal deel. Hy beter!
    Wat die vuilbekkigheid betref stem ek saam. Seker maar omdat ek minder uitgelewer is as hy aan wat mense van my dink! Ek onthou nou skielik die staaltjie van hoe dinge lelik agteruitgegaan het in Duitsland na die Oorlog, dat ‘n afvaardiging toe vir Hitler gaan sien het daar in sy ballingskap in – waar was dit nou weer? Argentinië? – en gepleit het hy moet terugkom, en hoe hy toe glo oplaas ingestem het maar met die waarskuwing: “This time no no more Mister Nice Guy!” (En nou weet ek ook nie wat ek probeer sê met die anekdote nie. Sal vir Breedebek moet vra…)
    Met hartlike groete. Ook vir Roof.
    Jan

  4. Desmond :

    Andries, hierdie is baie mooi.

  5. Andries Bezuidenhout :

    Roof sê ek moet ophou om hom te gebruik om vir komplimente te vis. Weer ‘n dankie Jan Afrika, en Desmond. So van vis gepraat. Jan, ek hoop Breyten het darem vaste stowwe geëet en dat hy ook so lekker soos ek lag vanoggend. Sin vir waardes ho! Mannekyne! (Ek wil sien hoe daai een vertaal word!)

  •