Andries Bezuidenhout. Die toekoms van ʼn ander verlede

Ek werk aan skilderye van geboue en infrastruktuur. Ek dink konstant aan James Ferguson se boek Expectations of Modernity. Wat doen mense as moderniteit deel van ʼn nostalgiese verlede word, soos in die geval van gemeenskappe rondom Zambië se kopermyne? Is dit moontlik om ʼn gevoel te ontwikkel vir die skoonheid van verval? Hier is ʼn gedig, saam met ʼn ou poskaart (hier bo) en twee skilderye. Ek probeer om lig te verf. Dis die moeilikste van alles.

Vesting of tronk?
Met súlke tralies sal jy nooit weet nie,
ook of ons die mure verder of nader moes bou.
Troos jou darem hieraan,
aan dít wat ons deurgaans
met die buitewêreld in verbinding hou –
beheerkamers waar gewapende mans
halfhartig op ons rookseine wag,
die tentakels van krag- en foonsentrales,
pype wat water uit damme slurp,
pulse wat luglangs akrobaat
met skottel-antennas wat dit grond toe laat.

Soms word die drade stil
en hoor ons hoe helder sterre oor steenkoolstrate kan suis;
dan staan motors in kinkels verstrengel,
pype suig holmaag aan wind,
die stemme van ons bewaarders word stom.

Dis dán wanneer ons wonder oor ons lewe
in hierdie sterrewag met skanse en skakels,
gragte en valbrûe – oor of hierdie drade
vangtoue of spinnerakke is.

Bookmark and Share

Comments are closed.

  •