Andries Bezuidenhout. Rilke en Hammershøi – die digter en die skilder

Rainer Maria Rilke was een van die Deense skilder Vilhelm Hammershøi (in die foto hier bo) se aanhangers. Oor Hammershøi se skilderye het Rilke in 1905 gesê: “Hammershøi is nie een van daardie mense oor wie ʼn mens haastig moet praat nie. Sy werk is standhoudend en stadig en by welke geleentheid ʼn mens dit ook al mag teëkom, sal dit betekenisvol wees en spreek van die belangrikheid en wesensaard van kuns.” [“Hammershöj ist nicht von denen über die man rasch sprechen muss. Sein Werk ist lang und langsam und in welchem Augenblick man es auch erfassen mag, es wird immer voll Anlass sein, vom Wichtigsten und Wesentlichen in der Kunst zu sprechen.”]

Oor die digter se ontmoeting met Hammershøi: “Ek het Hammershöj gister vir die eerste keer ontmoet… ek is seker as ʼn mens hom meer gereeld sien, sal jy hom beter leer ken en soveel meer van sy natuurlike eenvoud verstaan. Ek gaan hom weer sien, maar sonder om met hom te praat, want hy praat net Deens en verstaan geen Duits nie. ʼn Mens kan aanvoel dat hy net skilder en niks anders kan of wil doen nie.” [“Gestern habe ich zum erstenmal Hammershöj gesehen… ich bin sicher, je öfter man ihn sieht, desto deutlicher wird man ihn erkennen, und desto mehr wird man seine wesentliche Schlichtheit finden. Ich werde ihn wiedersehen, ohne mit ihm zu sprechen, denn er spricht nur Dänisch und versteht kaum Deutsch. Man fühlt, daß er nur malt und nichts anderes kann oder will.”]

 Hammershøi is in 1864 gebore. Sy pa was ʼn winkelier en hy het reeds met tekenlesse op skool presteer. Hy het aan die kunsakademie in Kopenhagen studeer en het redelik vroeg sukses behaal. In 1891 is hy met Ida Ilsted getroud en het saam met haar in Kopenhagen gewoon tot met sy dood in 1916. Ida is die model in die meeste van sy skilderye. ʼn Mens sien haar meestal van agter. Hul woonstel in Kopenhagen se binnekant is die onderwerp van die meeste van sy skilderye, maar hy het ook landskappe en studies van geboue geskilder.

Hammershøi self was sterk deur die Amerikaanse skilder James McNeill Whistler beïnvloed en het Whistler in Engeland probeer ontmoet, maar sonder sukses. Hier is een van Whistler se bekendste skilderye, ʼn studie van sy ma:

Hammershøi se eie werke was realisties, maar sonder om onderwerpe op te hemel of te verfraai – amper melancholies. Sy kwas het die verf amper onseker binne sterk lyne aangewend. Stukkies doek skyn deurgaans deur. Hammershøi was veral goed daarmee om lig te skilder. Sy werk het egter vinnig konserwatief voorgekom in die konteks van meer abstrakte modernistiese eksperimente wat op impressionisme gevolg het. Eers onlangs het mense Hammershøi se werk weer begin waardeer, deels as gevolg van Rilke se bewondering – al kon die twee nooit ʼn gesprek voer nie.

In die Suid-Afrikaanse konteks laat Hammershøi my aan Andries Gouws se werk dink. Dis ook stadige skilderye, fyn detail, binnekamers en lig. Heeltemal stroomop, op dieselfde manier.

Nota:

Al die skilderye, behalwe die een deur Whistler, deur Vilhelm Hammershøi. Oorspronklike Rilke-aanhalings hier.

Bookmark and Share

2 Kommentare op “Andries Bezuidenhout. Rilke en Hammershøi – die digter en die skilder”

  1. Marlise :

    Andries, dis ongelooflik mooi vir my! Die melankolie en gestrooptheid spreek my aan, en natuurlik die lig. Dis uiters moeilik om perspektief reg te kry as dit by geboue, vensters en deure kom (met waterverf meer spesifiek). Ek het hard probeer om daardie heuningkorf en karamelhuisies in klein Franse dorpies realisties te skilder, maar alles kom so skeef en krom uit, dat ek moed opgegee het! Nou is ek maar terug na die ‘impressie’ van die visuele, die eie interpretasie. En dan verkies ek maar weereens landskappe.

  2. Andries Bezuidenhout :

    Marlise, waterverf is ‘n medium waarvoor ek glad nie opgewasse is nie. So, respek! Hammershoi se werk is lieflik, deels omdat dit so onderspeel. Artikels oor hom in die Britse pers:
    http://www.independent.co.uk/arts-entertainment/art/features/vilhelm-hammershois-show-at-the-royal-academy-proves-he-should-be-better-known-872712.html
    En: http://www.guardian.co.uk/books/2008/jun/28/saturdayreviewsfeatres.guardianreview2
    En ‘n effe dramatiese aanhaling uit die volgende een:
    “The texture of Vilhelm Hammershøi’s paintings is what starts you thinking. Pictures like this should not be painted in the way he paints them. This Danish artist… depicted, again and again, a woman in an interior, standing alone, sometimes reading a letter. Other interiors are devoid of people. His landscapes and architectural views are just as still and cool… But there is something wrong… There is a lack of fit between the objective theme and imprecise execution. And then it hits you. The most satisfying art is its own critic: it makes its structure visible. Its meaning is inherent in its form. The lack of ‘fit’ between Hammershøi’s intimate themes and his bleakly incurious eye makes you realise with a shudder that he is not recording exterior reality at all, but finding correlatives for his state of mind… Hammershøi ranks with Edvard Munch as a Scandinavian prophet of the void. That woman in his pictures is not reading – she’s silently screaming.”
    http://www.guardian.co.uk/artanddesign/2008/jul/11/art
    Nogal erg as ‘n mens weet dat dit meestal sy vrou is.
    Foto’s van skilderye:
    http://www.guardian.co.uk/artanddesign/gallery/2008/jun/25/art.denmark

  •