Andries Bezuidenhout. Hi Way Motors

Ek het hierdie skildery gisteraand voltooi. ʼn Toneel by Welverdiend, net buite Carletonville, op die pad Potchefstroom toe. Ek is daar verby met Aardklop vroeër hierdie maand. Die skildery se titel is “Hi Way Motors”. Dis ook die titel van die gedig wat daarmee saamgaan.

Ek móés net hier stilhou
al kan jy nie meer diesel koop nie –
pompe seker skroot, saam met foondrade, kragdrade
in suur gedoop, toe opgesmelt en herverbruik.
Sinkplaat op stelte kamp nog skadu af
al skakel niemand meer hier enjin af nie:
“Tien rand, asseblief.” Lood standaard.
Iewers ondergronds dalk le
ë tenks,
koud soos die murg van uitgemynde skagte.
Parkeer, klim uit. Kamera gereed.
op skrefies, son op teer en sement
suggereer nog die woord “Wes-Transvaal”,
soos daai ou gedig van Eybers.
Iewers op die agterpad tussen Carletonville en Potchefstroom
m
óés ek vir ʼn oomblik stilhou –
die afdak, die afdop, die afgeskilferde naam
wat steeds vol hoop in verf geskryf staan:
Hi Way Motors.

Bookmark and Share

Comments are closed.