Die inskrywing wat ek vandag pleeg, sou stellig beter gehoort het in Vrouemaand, omdat dit (ten dele) oor ’n vertelling deur ’n vrou gaan. Maar dalk is dit beter (of veiliger) dat dit nou gebeur, want die uitkoms is nie heeltemal die polities korrekte geluide waarop ek my voorberei het nie. Dit gaan onder meer oor my persoonlike reaksie op ’n “vroulike” geskrif – ’n reaksie wat my verbaas gelaat het en wat ek probeer ontrafel. In elk geval, ek wil hier teen die einde van Oktober my gedagtes rondom ’n vrouestem uit die Anglo-Boereoorlog probeer orden, nadat dit reeds ’n hele paar weke lank met my saamkom en ek die kloutjie nie so mooi by die verwagte oor kan uitbring nie.
Ek geniet dit om werk deur vroue te ondersoek en om een of ander rede hou ek ook van “die ou tyd” – so ongeveer tussen die Kambrium en 1970, oftewel die dinge wat ek net by proxy kan ken. As kind het die meer glansryke stories van vervloë tye my gefassineer – die lotgevalle van Marie Antoinette, Mary van Skotland, Lucrezia Borgia, noem maar op. Die plaaslike geskiedenis was maar droog in vergelyking met die opwinding wat ander wêrelddele se stories ingehou het. Die Anglo-Boereoorlog is, naas die relase oor dapper generaals en veragtelike hensoppers op skool, verteenwoordig deur die geween en gewroeg oor konsentrasiekampe wat jy by ouer familielede gehoor het. Maar met die jare is ek al hoe meer bekoor deur die alledaagse stories oor die lewe van weleer; ook dié wat jou laat vrae vra oor jou eie plek in verhouding tot die verlede.
Een van die ontstellende aspekte van die kontemplasie van die Boereoorlog is juis die soort vrae wat dit by jou laat wanneer jy jouself in verbeelding na daardie tyd transponeer – soos om te vra: Wat sou ek in daardie situasie gedoen het? Oorgegee, gehensop het? Of tot die bittere einde toe bly vasklou het aan idees van “vryheid”; onversetlik gebly het teenoor die magte wat alles om my vernietig het? Waarom ’n mens jouself met sulke vrae treiter? Dit laat my terugdink aan katkisasieklas lank terug in ’n ander verlede toe die ouderling jou tienergemoed sou laat steier onder ’n vraag van die orde of jy jou geloof sou versaak by die aanskoue van ’n spul honger leeus in ’n Romeinse arena. Miskien omdat ons waarde heg aan die idee dat jou ware karakter in tye van krisisse ontbloot word, dat ons onsself treiter met hierdie tipe vrae as ’n soort sadistiese soeke na die self.
Toe ’n kollega dus na die oorlye van ’n verlangse familielid ’n lys titels aanstuur waaruit ons kon kies, was ek dadelik geïnteresseerd in Tant Miem Fischer se Kampdagboek – die gepubliseerde vertelling van ’n vrou wat die Anglo-Boereoorlog self beleef het.
Hierdie besondere titel het in 1964 na die outeur, Maria Adriana (Miem) Fischer, se dood by Tafelberg-Uitgewers verskyn en is in 2000 deur Protea heruitgegee. Miem Fischer se kampdagboek het ook gedien as een van die bronne vir J.E.H. Grobler se publikasie The war reporter: The Anglo-Boer War through the eyes of the burghers (2004), gebaseer op individuele artikels wat tydens die honderdjarige herdenking van die Anglo-Boereoorlog in Beeld verskyn het. Ook Antjie Krog verwys na hierdie dagboek in ’n bydrae in Rapport van 24 Februarie 2002. Dit het dus duidelik aandag uit die hoofstroom ontvang, alhoewel veel later as die ontstaansdatum van die teks – Krog se verwysing geskied haas ’n eeu na die ontstaan van die manuskrip. (Dit is wel interessant om daarop te let dat die meerderheid getuieverslae oor die Anglo-Boereoorlog egter al vroeër in die twintigste eeu gepubliseer is, met hernieude aandag in die 1930’s en 1940’s, waarskynlik om die nasionalistiese vlamme in daardie era aan te blaas. ’n Mens sou dus kon wonder oor juis 1964 as publikasiedatum, en in watter mate dit ook kon dien as ondersteuning vir die nuwe republiek.)

Maar terug na my verwagtinge voor die lees van die teks. Van Niekerk (2001) se navorsing oor vroue se egotekste uit die oorlog wys daarop dat die gekanoniseerde literatuur oor die oorlog deur mans gedomineer is, terwyl vroue hulle tot die meer persoonlike vorm van die dagboek gewend het. Vir Van Niekerk (2001) is die mees prominente boodskap in die tekste deur vroue “the communal and personal voice of suffering – physically, emotionally and mentally”. Ek vermoed ek het in ooreenstemming hiermee verwag om ’n outentieke “vroulike” stem aan die woord te vind, een wat stem gee aan die individuele en kollektiewe lyding van vroue in hierdie oorlog, een wat op “ons” bodem afgespeel het en dus op ’n manier “nader” aan my behoort te wees as lyding elders ter wêreld. Ek het stellig gehoop dat ek iets sou kon probeer begryp van die ervaring van ontsettende pyn deur vroue, maar ook het ek gehoop om te lees oor die verwerking daarvan; iets in die lyn van “hoe oorleef enige mens so iets?” Dalk het ek ’n vroulike pendant van Man’s search for meaning verwag – ’n verhaal wat tóg sou inspireer, ten spyte van die verontmenslikende ellende wat die skrywer aan eie lyf ervaar het. Ek het waarskynlik ook op idealistiese wyse gehoop om die vrou wat deur Leipoldt bestempel is as die beste wat die nasie het, die “lei-ster”, se eie stem te hoor praat en sodoende ’n ontmoeting met ’n byna bomenslike en inspirerende soort vroulikheid te beleef.
Ek het die onthutsende ervaring gehad dat ek as leser, ten spyte van my positiewe verwagtinge, vervreem gevoel het van die Fischer-teks. Die dinge wat ek verwag het om daar te vind, was nie daar nie, of altans, ek het dit nie as daar ervaar nie. Die vraag is dus: Waarom dan so? Waarom wil ek my distansieer van die vroulike ek-stem in die dagboek? Soos ek hierdie vraag in my omgedra het, het ek ook ander vrae hoor deelneem aan die gesprek: Waarom jou bemoei met hierdie neerdrukkende dinge uit die verlede? Waarom het julle Afrikaners tog hierdie ding oor die Boereoorlog? Waarom nie om jou kyk en liewer betoog teen iets soos die Dalai Lama-petalje nie? Waarom jouself kasty met vertwyfelende vrae oor jou eie karakter, ingeboender in ’n nagmerrie-verlede se etiese mynveld?
’n Mens kan natuurlik spekuleer. Een argument sou kon wees dat die Fischer-dagboek redelik ongesofistikeerd is en dat die leeservaring nie juis esteties bevredigend is nie. Sekerlik is hierdie stelling nie onwaar nie, maar nietemin glo ek dat ’n ongesofistikeerde stem kán ontroer. Dresden (2006:7) skryf byvoorbeeld: “ … documenten in ongepolijste en ongekunstelde vorm [kunnen] dienst doen voor een nadere en zuivere kennis van zaken …”.
’n Ander, maar afgesaagde siening sou kon wees dat die manlike stem die gekanoniseerde een is waaraan ons gewoond geraak het – dat ek bloot maar gekondisioneer is om die manlike narratief te aanvaar, eerder as die outentiek vroulike. Hier sukkel ek om myself oortuig te kry dat Celliers en Leipoldt se stemme die vroulike stem op die een of ander wyse kompromitteer. Alhoewel die vrou hier sélf aan die woord is, besig om haar eie verhaal te vertel en dan waarskynlik onverdraaid deur enige patriargale ingreep, is daar iets aan die vertelling wat my as leser koud laat. Mag ek selfs so ver gaan as om te sê: wat my vervreem, my negatief instel teenoor die vertellende stem?
Ena Jansen (1998) het genoem dat ’n ander getuieverslag (ek gebruik dan ook hier Jansen se term vir hierdie soort tekste) uit die Anglo-Boereoorlog, naamlik dié van Johanna van Warmelo, haar ook minder geroer het as wat sy verwag het. Sy raak dan ook die kwessie aan van die “etiese ongemak” waarmee die lesers van oorlogsdagboeke dikwels gekonfronteer word. (Ek het wel gesukkel om te begryp presies hoe Jansen “etiese ongemak” definieer.) Ten slotte skryf Jansen haar eie ongemak met Van Warmelo se getuieverslag toe aan die feit dat die teks te “sentimenteel” is; ook dat die skrywer in so ’n mate begin domineer dat die leser se aandag nie meer op die slagoffers of die sisteme verantwoordelik vir die ellende gerig is nie. Jansen (1998:124) openbaar in haar kritiek iets van haar eie opvatting oor die rol van die skrywer van ’n getuieverslag: Die skrywer behoort eerder ’n “doorgeefluik” te wees. Jansen se fokus op die rol van die leser is wel vir Van Vuuren (2001) problematies, en sy reken dat daar eerder gefokus moet word op die funksie wat die dagboek gehad het vir die skrywer binne haar historiese konteks. Die vraag is dus: In watter mate is hierdie tipe teks vir ’n leser se ore bedoel? Oftewel, is my – en ander leser se – resepsie hoegenaamd ter sake? Watter rol kan die skrywer dan in haar eie teks speel – is sy slegs die medium of mag haar eie emosies voorrang geniet? Simons (in Stanley & Dampier 2006) byvoorbeeld, sien die dagboekgenre as ’n private ruimte “which liberates a freedom of expression which need not take others’ strictures into account”.
Enkele stukke navorsing oor soortgelyke tekste lewer nie klinkklare antwoorde op nie. Indien die Fischer-teks, synde ’n dagboek, as ’n ego-dokument beskou word, is dit volgens Van Niekerk (2001) ’n teks waarin die outeur, die verteller, die fokaliseerder, die hoofkarakter en die teikenleser binne dieselfde persoon gesitueer is – dus ’n teks deur, oor en vir die self. (Van Niekerk gee wel toe in ’n eindnota dat die ego-teks nie vaste begrensinge het nie en dat ’n presiese beskrywing daarvan dus ontwykend bly.)
Van Vuuren (2001) se navorsing wys egter daarop dat die dagboek in ’n oorlogskonteks ook ander funksies het naas funksies vir die self: naamlik om as woordvoerder van die gedeelde ellende op te tree, om ’n teken van verset te wees en om die lewendes se verpligtinge teenoor die dode na te kom. Sy wys in hierdie trant daarop dat die dagboeke uit die Anglo-Boereoorlog “veel meer as persoonlike dokumente [is]; hul kry veral waarde en betekenis as getuienis” (Van Vuuren 2001:89). Die genre van getuieverslae maak tipies gebruik van konkrete detail, selfs trivialiteite, wat die leser aangryp en hom/haar in staat stel “om hulle in te leef in die beskrewe ervarings” (Van Vuuren 2001:89). Dit lyk dus asof daar wel ruimte is vir ’n leser en dié se reaksies op die teks, maar terselfdertyd is dit ’n teks waarin die skrywer die ruimte gegun word om bepaalde emosionele behoeftes te vervul – hetsy ontvlugting deur die skryfhandeling, die verwerking van trauma, en dies meer.
Fischer se dagboek blyk inderdaad die nosie van die teks as ’n private ruimte te ondermyn, en dit lyk asof sy juis bedoel dat die leser daarby betrokke moet raak. Dit sal uiteraard tot gevolg hê dat die besware of kritiek van die lesers die ruimte van die teks kan en mag betree. Oor die inleiding tot die dagboek, geskryf deur Fischer self voor haar dood, word gemeld dat sy hierdie teksdeel “met die oog op publikasie” geskryf het (Fischer 1964:2). Hierdeur word die teks se status as slegs vir die self opgehef. Die sone wat kontak tussen leser en teks fasiliteer, is die sogenaamde parateks, wat deur Genette gesien word as ’n sone wat resepsie en daaropvolgende diskoers moontlik maak:
More than a boundary or a sealed border, the paratext is […] an ‘undefined zone’ between the inside and the outside, a zone without any hard and fast boundary on either the inward side (turned toward the text) or the outward side (turned toward the world’s discourse about the text), an edge, or, as Philippe Lejeune put it, ‘a fringe of the printed text which in reality controls one’s whole reading of the text’ (my kursivering). Genette (1997:1-2).
Die inleiding, as deel van die parateks, behoort dus tot dié teksgedeelte wat die leser toegang tot die teks gee en wat sy/haar leeshandeling rig.
Fischer (1964:6) skryf aan die einde van die inleiding dat haar doel met die teks is om “ … alles wat tot beskawing van die boerevroue nodig geag word, op te teken.” Hier sien sy haar enersyds dus as optekenaar/woordvoerder (wat alreeds ’n leser of toehoorder impliseer), maar andersyds is dit duidelik dat hierdie uitspraak ironies bedoel is en dat sy haar lesers wil rig om die teks ook op hierdie vlak te ontvang. Met “beskawing” verwys sy natuurlik op skel ironiese wyse na die vroue se ontberinge in die konsentrasiekampe, en die ingreep daarvan op hulle lewens.
Sy vertel vroeër in die inleiding dat sy tot en met die uitbreek van die oorlog ’n eenvoudige maar bevredigende lewe gelei het. Sy open haar ironiserende narratief egter spesifiek wanneer sy skryf:
Ek het wel gehoor dat dit onbeskaafs was om altyd met jou man en kinders tuis te bly, niks anders te eet as wat ons tuine en landerye opgelewer het nie, of dikwels dieselfde rok aan te hê, gesond te wees en gesonde kinders te hê. Hoe die dinge verander en ons beskaaf moes word, moes ek nog leer – ook om sonder vleis, botter, melk, groente, eiers en vrugte wat alle boere volop het, te leef, was ’n geslote boek. As kind het ek nooit veel van beskawing gehoor nie. Later, nadat ons land so ryk aan goudvelde geword het, is daar gesê dat ons onbeskaaf is en dat Engeland ons moes reghelp. Hoe dit alles gedoen sou word, kon ek nie begryp nie, maar weet dit nou, helaas, alte goed – en ek vrees dat dit nog maar die begin van my skooltyd is. (Fischer 1964:5-6).
Dat sy inderdaad ’n leser in gedagte gehad het tydens die skryf van die inleiding, en ’n effek op die leser in die vooruitsig stel, blyk uit haar laaste opmerking: “As dit my geluk, kan [die teks] nog vir die een of ander onbeskaafde skepsel tot nut wees.”
Wanneer die leser die teks resepteer teen die agtergrond van die inleiding, is dit met spesifieke aandag aan die oorvloedige ironiese verwysings na die “beskaafdheid” van die Britse magte en die “onbeskaafdheid” van die Boere wat deur pyn en ontbering “gekorrigeer” moes word. Die vraag ontstaan wel by my of hierdie tema reeds in die oorspronklike manuskrip teenwoordig was en dus net in die parateks uitgelig is, en of dit moontlik later – gelyktydig met die inleiding – ingebring is. Ongeag watter opsie korrek is, word die leser se prosessering van die teks wel in ’n groot mate deur die “instruksie” in die parateks gerig; word die leser as’t ware beheer en gemanipuleer om dieselfde ironies-bitter perspektief as die skrywer aan te neem. Dit is moontlik dat die leser se weerstand teen hierdie poging tot manipulasie vir die vervreemdingseffek verantwoordelik is.
Die keuse van die skrywer om ’n ironiserende blik op die “beskaafdheid” van die Britse Ryk die kapstok te maak waaraan groot dele van die vertelling gehang word, het waarskynlik dus ’n betekenisvolle aandeel in die mislukking van die teks as getuienisdokument wat die leser se simpatie moet ontlok. Die deurlopende en dominante tema van die “beskaafde” en “mensliewende” vyand wat verantwoordelik is vir die lyding in die kamp word in so ’n mate die spil van die vertelling dat die narratief van menslike lyding die onderspit delf.
Selfs na ene mev. Harris, op ’n religieuse missie wat bes moontlik die heil van die vroue ten doel het, word ironiserend verwys as die “dame uit Engeland” wat dalk nie “haar beskaafde hoof” in die tente sal steek nie. Ek vermoed dat hierdie en soortgelyke perspektiewe veral ’n vertroebelende rol speel wat betref die meelewing deur die leser en juis weerstand opwek. Hier verwys ek ook na die skrywer se reaksie op die oproep wat in The Natal Mercury van 20 Februarie 1902 verskyn het waarin ’n anonieme “colonist of 50 years” vra om skenkings van klere vir die kampgevangenes. Volgens die weldoener sal sulke gebare op die lang termyn versoenend wees: “ … such deeds as this would all tend to heal any racial hatred or malice engendered through the war. The Boer and British have to live side by side in this country, and little deeds of kindness and thoughtfulness all tend to break down the barrier of separation.” (Fischer 1964:92). Oor hierdie oproep skryf Fischer (1964:90-91) afwysend dat die “ …edelmoedige grysaard [behoort te] weet dat hul met bloed besmeerde dade nie met pluiings bedek kan word nie, en dat die aanbied van sulke vuil pluiings ’n tasbare bewys is van hóé goed hier deur die magtige Engeland vir sy sogenaamde refugees gesorg word. … Miskien was dit nog moontlik om hom met veel dank ook daarop te wys dat refugees, onses insiens, geen reg op ‘hatred’ of ‘malice’ het nie. Om ‘thankful’ te wees, ou meer pas by soveel ‘good work’.”
Verder in die teks was daar (vir my) soms relatief min blyke van rou oor die lewensverlies in die kampe, en het ek soms die indruk gekry dat die haatdraende, ironiserende toon en die negatiewe uitbeelding van die vyand domineer. Dit kan natuurlik die gevolg wees van die depersonalisasie wat in tye van trauma kan intree, soos einste Frankl op gewys het. Fischer (1964:119) skryf immers: “Alles in my is dood, ongevoelig dood.” Nietemin is daar duidelike emosie in haar verdere inskrywing: “Ons voormanne moes ’n vernederende vrede teken. Waar sal ek woorde kry om my gevoel te beskrywe waarmee ek hier sit? … Die vreugdeskote bulder tot teken van Engeland se oorwinning, maar vir ons beteken dit die dood vir ons so dierbare twee klein republieke. Kan dit waar wees?”
Weer eens is dit vir my onthutsend dat die felste gevoelens van verlies in die dagboek met die verlies van die Boererepublieke verband hou, eerder as met die verlies aan lewens. Voorts is daar blyke van ’n blinde vashou aan die Boerevolk se vryheidsideaal, byna teen alle rede in, maar ook in teen die een aspek wat ek self as ’n primêre waarde van vrou- en menswees beskou, naamlik die besorgdheid oor lewe en die koestering daarvan, ongeag die omstandighede. Fischer (1964:119) skryf naamlik: “Vrede, oorwinning vir Engeland, stryd en slawerny vir ons en ons kinders? … O, dan nog liewer die kamp-ellende, met al sy verskrikking. Sou die lyke in die uitgestrekte kerkhowe nie nou gelukkiger wees as ons nie?”
Haar gedagtes oor haar enigste kind volg op dieselfde patroon: “Dit is my kind Karel se verjaarsdag. Ek moet, glo ek, dankbaar wees dat hy nog nie soos duisende ander van sy leeftyd geroep is om vir Engeland se hebsug met sy lewe te betaal nie. Maar wat die lewe in latere tye vir hom sal wees onder die vervloekte juk, kan ek nie aan dink nie. … Alleen die gedagte dat alles, alles verniet is, my kind, my enigste ’n slaaf sal word saam met soveel duisende ander wat dood en ellende trotseer om vry te bly, is om van gek te word. Dan is die dood verkiesliker.”
Natuurlik gaan dit hier oor ’n botsing tussen lewensbeskouings en waardestelsels. Moontlik is ek bloot ’n bedorwe produk van die “beskawing” van die Ou Suid-Afrika wat nog nooit onderdrukking aan eie lyf ervaar het nie. Tog vermoed ek dat die vooruitsig van “slawerny” waarna die skrywer verwys ’n politieke verknegting sou wees, eerder as die soort sistematiese onderdrukking deur bose regerings? Ek het nog nooit die idee gekry dat daar daadwerklik gely is deur Afrikaners in die Unie-era nie. Of is ek bloot onkundig?
Maar terug na die dagboek self. Dit is moontlik die bitter, skellende klank van die vertelling wat jou laat voel dat daar nie veel uit hierdie gegewe te haal is nie. Die vertelling self bied min nuanses en steek vas in die “beskawing”-ironisering. Ook mis ek ’n poging om hierdie tragedie te verwerk, om op enige manier, hoe ongesofistikeerd ook al, sin daarvan te maak. Eerder is daar ’n uitgesproke hoop op vergelding, weliswaar met ’n sweem selfrefleksie, maar dan gefokus op die moontlike “sondigheid” daarvan: “Sou dit sonde wees om van harte te verlang om eenmaal ook Engeland se vroue en kinders so te sien?”
Dit wil my ook voorkom asof die spreker haar algaande onthul as sonder ’n diepere insig in die situasie. Die insig dat dit hier oor ’n menslike/politieke konflik gaan, ontbreek klaarblyklik, en die kwessie word getransponeer na die vlak van ’n religieuse lotsbestemming. Op sy beurt lei dit weer tot die spreker se geloofsvertwyfeling, soos blyk uit haar woorde: “Kan dit wees dat die God wat ons vaders uit soveel ellende gehelp het, nou nie meer barmhartig wil wees nie? Wat van al die gebede, die smekinge wat al die maande opgestuur is, al die bloed en trane, al die ellende in hoop en vertroue op ’n séker verlossing? Niks, niks van dit alles.” Ook as teken van Fischer se gebrekkige insig is daar die geloof dat die lydende party as ’n gegewe morele geregtigheid aan sy kant het. Alhoewel hierdie soort oortuiging dikwels kenmerkend is van die genre van die getuieverslag, en moontlik uitmaak van die bewerking van die gegewe deur “post/memory” (Stanley 2006), is juis hierdie eensydigheid dalk deel van my teleurstelling.
Stanley (2006) skryf dat hierdie genre van getuieverslae (“testimonials”) deur vroue gesien as absolute feite, as onbetwisbaar die waarheid en dat dit ook herlees is binne die raamwerk van nasionale mitevorming deur ’n geslag van nasionalisties-gesindes met hulle eie agenda. Hierdie genre word normaalweg gekenmerk deur ’n perspektief van ek-was-daar, en dus ’n beroep op die volle waarheid. Hierdie genre gedy dikwels in tye van verset teen onregverdige regerings – iets waarteen geen regdenkende leser sal beswaar aanteken nie, maar waarvan die eensydigheid problematies kan raak. Hierdie genre word daarnaas gekenmerk deur die oortuiging dat die skrywer-waarnemer (die ek-getuie) morele geregtigheid volkome aan sy/haar kant het; ook word gestel dat God aan die kant van die onderdrukte is (’n debat wat tans weer in die kollig is).
Dampier en Stanley (2008:9) bied ’n model van getuietekste aan as niebehorende tot die domeine van beide feit en fiksie en feit: “ … research shows that these Boer women’s testimonial narratives, while presented as entirely factual, cannot be classes straightforwardly as either fact or fiction, but instead inhabit an ‘in-between’ area, with their factual claims – claims which may sometimes not be ‘true facts’ – often supported by what Eakin (1985) calls fictive devices.”
Stanley (1992) noem dat sulke “fictive devices” kan insluit die keuse vir of uitsluiting van bepaalde materiaal; die aanwending van ’n bepaalde narratiewe vorm; die rig van die leser se interpretasie van die onderwerp; ook direkte interpretasie en gevolgtrekking. Wat in die Fischer-teks aan die werk is, is heel moontlik die aanwending van ’n spesifieke “fiktive device”, naamlik die aanbied van die skel ironiese perspektief as direktief vir die leser in die parateks, wat die teks dan ook mede-interpreteer.
Die gevolg, soos ek reeds probeer aantoon het, is dat ’n moderne leser vervreem raak juis as gevolg van die direktiewe aard daarvan wat probeer om die leser se interpretasie te rig. Dit is op hierdie moment wat die leser die kontaksone betree en ’n teendiskoers begin vorm met die mag om ook die gesag van die vertelling in twyfel te trek, juis omdat manipulasie ter sprake is. Die leser kan selfs begin twyfel aan die korrektheid van die skrywer se waarnemings en stellings, sodat die verslag sy status as “feit” kwyt is en die leser begin fokus op bepaalde momente van mitevorming en die fragmente “waarheid” negeer. Amper ’n tekstuele wolf-wolf-speletjie.
Uit die literatuur blyk dit dat mitevorming wel ’n algemene kenmerk van getuieverslae is, en dan moontlik ook ’n verdere voorbeeld van ’n “fictive device” beskou kan word. As voorbeeld kan genoem word die verwysings na die “dodelike” maagpoeier wat deur Britse dokters voorgeskryf is, maar wat allerweë deur die Boerevroue as doelbewuste “vergiftiging” beskou is. Ook grens die berigte van volkome samehorigheid in die kampe aan die verdagte: “Mens hoor nooit van kyf- of vegpartye nie. Ek het gehoor dat vroue oor die algemeen nie met mekaar klaarkom sonder kyfery nie; dit, sien ek nou, is ten minste nie op boervroue van toepassing nie.” (Fischer 1964:80)
Tog is dit belangrik om te besef waaroor mitevorming gaan, alvorens ons te vinnig in ons oordeel is. Mitevorming, volgens Stanley (2006), gaan oor die daarstel van inhoude wat die eie vormgewing aan die Self én die Ander – in hierdie geval die vyand – onderhou en versterk. Mites kom tot stand om die eie siening van die self te konstrueer, te regverdig en te laat voortleef. Die siening van volk as die grootste ideaal en as God se “uitverkorenes” behoort tot hierdie kategorie; so ook die voorstelling van die vyand as demonies-beskaafd.
So wat is die rol van die leser dan nou, meer as ’n eeu later, ten opsigte van hierdie prosesse van mitevorming en manipulering? Ek sou reken dit spreek vanself dat die leser se rol een van kritiese lees en bevraagtekening sal bly, ongeag die identiteit van die “regverdige” en die “skuldige”. En of dít van ons hensoppers of joiners maak? Ek weet eerlikwaar nie, want ek weet steeds nie regtig wat hierdie name beteken nie. Maar hopelik vind ons, as alle Suid-Afrikaners, ’n gedeelde ruimte waarin ons ’n gedagte skenk aan ons geskiedenis van slagofferwees én skuld.
Ek sluit af met ’n omskrywing van die rouproses, oftewel, wat dit in ’n gesonde wêreld kan wees, tesame met ’n waarskuwing oor die gevolge van weerwraak: “Mourning accepts the loss of those who died, and acceptance eventually commutes mourning, blunts its sharpness, enables life to resume and memory to fade, with the tragedy of loss not forgotten but not dominating either. But vengeance remembers only the wrongs done to her, with sorrow for others replaced by anger at the hurt to self.” (Stanley 2006:26).
Bronnelys
Dampier, H. Stanley, L. 2008. Parallel Narratives? Photographs in Boer Women’s Wartime Testimonies. In: Robinson, D. et al. (eds.) Narratives and Fiction. Huddersfield: University of Huddersfield Press.
Dresden, S. 2006. Vervolging, vernietiging, literatuur [Internet]. Beskikbaar: http://www.amazon.com/Vervolging-vernietiging-literatuur-Meulenhoff-editie/dp/9029029013#reader_9029029013. [Oktober 22, 2011].
Genette, G. 1997. Paratexts: Thresholds of Interpretation. Vertaal deur Lewin, J.E. Cambridge: Cambridge University Press.
Jansen, E. 1998. “Eene eeuw van onrecht” – De etische en esthetische problemen van getuigenverslagen. Van Johanna van Warmelo tot Antjie Krog. Tydskrif vir Nederlands en Afrikaans 5(2):113-127.
Krog, A. 2002. Tant Miem Fischer se kampdagboek [Internet]. Beskikbaar: http://152.111.1.87/argief/berigte/rapport/2002/02/24/17/1.html. [Augustus 15, 2011].
Stanley, L. 1992. The auto/biographical I [Internet].
http://books.google.co.za/books?id=GhcNAQAAIAAJ&pg=PA135&lpg=PA135&dq=eakin+fictive+devices&source
=bl&ots=oTVi6M0dwG&sig=95xwomamQSZRlB3zV0UR0u9NH8&hl=af&ei=
SuOvTpv8KYLRhAe758G9Ag&sa=X&oi=book_result&ct=result&resnum=3&ved=
0CCYQ6AEwAg#v=onepage&q=eakin%20fictive%20devices&f=false. [Oktober 14,2011].
Van Niekerk, A. 2001. “Finding my own voice”? Women’s ego texts from the South African war – a genre exploration. Stilet 13(2):103-122.
Van Vuuren, H. 2001. Skrywersdagboeke uit die Anglo-Boereoorlog. Stilet 13(1):88-102.
Stanley, L. 2006. Mourning Becomes… Post/memory and commemoration of the concentration camps of the South African War 1899-1902. Manchester: Manchester UniversityPress.
Stanley, L. & Dampier, H. 2006. “Simulacrum Diaries: Time, the ‘moment of writing’ and the diaries of Johanna Brandt-Van Warmelo.” LifeWriting 3(2):25-52.
Ek het ‘n ruk terug ‘n onderhoud met die filmmaker Orson Welles gesien.
Wanneer hulle hom vra oor regie, sê hy
“All directors are actors, just as all writers are actors…”