Andries Bezuidenhout. Sylvia Plath se pen

Plath was natuurlik een van vele digters wat ook ʼn beeldende kunstenaar was. Nou word ʼn hele reeks van haar sketse in Londen uitgestal en te koop aangebied. Blykbaar het die meeste van hulle al ronde, rooi plakkers op. Sam Leith het ʼn heel positiewe resensie van die uitstalling in die Guardian  geskryf. Maar oudergewoonte is daar teenstemme as kommentaar op die resensie. Een leser beweer: “If Sylvia Plath’s name wasn’t attached to these drawings, we would give them a second look. Simply as. They are rather conservative and amateurish, the sort of fare you’d expect from a hobby artist.” Iemand anders beweer Hitler se waterverfskilderye was beter.

Wens ek kon more Londen toe vlieg om vir myself te gaan besluit.

Bookmark and Share

43 Kommentare op “Andries Bezuidenhout. Sylvia Plath se pen”

  1. ilze :

    Daar’s reeds ‘n boek beskikbaar oor haar kuns: http://www.goodreads.com/review/show/139016528

  2. Andries Bezuidenhout :

    Dankie Ilze!

  3. Breyten Breytenbach :

    Andries: Interessante perspektiewe. Sylvia Plath se werk was te sien saam met dié van ‘n groot groep ander “dubious mules” – sg. “dual muse” kunstenaars, skilderende skrywers en af en toe andersom – in ‘n uitstalling, “The Writer’s Brush”, by Anita Shapolsky se galery in Manhattan. Dit was 2007. (Ek het meer gehou van haar man, Ted Hughes, se werk.) Die werke is ook aangebied in ‘n werklik oorsiggewende boek met dieselfde titel saamgestel deur Donald Friedman. Mense waarvan jy dit die minste verwag – ék altans – was duidelik ook ‘vollende’ skilders: e.e. cummings, Elizabeth Bishop, Lorca… Uit die Dietse gebied het ons natuurlik die werklik imposante voorbeeld van Lucebert. Wat ‘n meester! Die Vyftigers was blykbaar byna almal tweepotig gebore. En dan was daar die tragiese geval van Ernesto Sabato wat opgehou skryf het om voltyds te skilder, en toe blind geword het.
    Die “Writer’s Brush” uitstalling is daarná na die Pierre Menard Gallery in Cambridge, Massachusetts. Die man wat dit daar georganiseer het se naam was John Wronoski. Hy is ook die uitgewer van Lame Duck Books en, vir dié wat belang sou stel, ‘n “specialist in the assessment and sale of literary archives on behalf of writers who wish to locate an apposite research institution for their papers.” Onder sy slagoffers, sê hy (hy sê nie ‘slagoffers’ nie), is daar vanaf Saul Bellow en Susan sontag tot en met Dorothea Tanning en Salman Rushdie.

  4. Van argiewe gepraat, Breyten. Waar gaan joune heen? Wellington?

  5. Johann :

    Ek dink Wilma het nog die beste benadering: daar is géén variante, manuskripte briewe etc nie. Sy vernietig áls.

  6. Nee, nee, nee! Groot digters soos Wilma Stockenstr”om en Breyten Breytenbach se argiewe is onontbeerlike dokumente vir die geskiedskrywing van ‘n literatuur, ‘n land en ‘n tydperk. Bewaar, bewaar, bewaar!

  7. Johann, ek hoop nie jy vernietig jou dokumente nie!

  8. Andries Bezuidenhout :

    Breyten, op die tema van Hughes:

    Ek maak my kop vir die gedagte-jakkals oop.
    Tregter by my oogkas ingeprop sodat die tuit
    tot in die pit van my roereierbrein kan spuit –
    amigdala, hipotalamus ronduit kan inspireer.
    Kyk hoe dobber my kop, hoor hoe my oog roep.
    Kom nóú warm vos, stink jakkals. Ek is hier.

    Toe die foks maar gaan soek in die linkerheg,
    onder onhorige lug, tussen bars staalbene
    van hoogspanningslyne op die Hoëveld waar
    hy dalk sy blaas kon verlig. Woude gesoek
    waar ʼn jakkals se neus aan takkies kon roer,
    sy oë in oomblikke flits. Rooijakkals. Bakoor-
    jakkals. Glyjakkals. Enige vos wat donker
    deur my kop op hierdie blink bladsy spoor.

    Helaas, woude is hier nie. Bloot bome aangeplant
    as mynstutte, beskutting teen die blinde somerson.
    Wat ek sien is ʼn mikrogolf se oog. Wat ek hoor
    is ʼn yskas wat bibber. Wat ek ruik is sojaburgers
    wat vasbrand. Wat ek voel is plastiekhittegolwe
    uit die vinne van ʼn olieverwarmer. Al wat ek proe
    is swaeldioksied (E220). Buite snuffel ʼn hond
    brandsiek deur moppe vullis, tjank honger
    vir die besoedelde maan. Vannag, só vrees ek,
    word hierdie papier meganies beskryf.

    Ek hou van die idee van verskillende weergawes van gedigte. Bg. het bv. reeds verander, alhoewel ek dit nie nou kan opspoor nie. ‘n Voorbeeld: Hockney se onlangse iPad-sketse wat jy kan terugspeel om te sien hoe die “skilder” die lyne getrek het. Die web word ook ‘n organiese argief. Dis hoe ek blogs sien – ‘n tipe dagboek van energie en misverstande.

  9. Desmond Painter :

    Andries, ‘dagboek van energie en misverstande’ — mooi! Dit klink vir my ook sommer ‘n bietjie Deleuziaans, waarvan ek natuurlik hou. En wat verskillende weergawes van gedigte (en lirieke) betref: dit bly ‘n ding wat my by Bob Dylan fassineer, daardie eindelose herskryf, sodat dit op die ou end nie meer moontlik is om die gedig van sy variasies te onderskei nie.

  10. Breyten Breytenbach :

    Inderdaad – die web as ‘n tipe dagboek (vir die opteken van organe en orkane) en soms nagvertaal van energie en misverstande en missoeke.
    ‘Missoeke’ het vir my so ‘n verre Jiddisje klankie, amper ‘n rokerigheid, maar ek het eintlik in gedagte die soort navorsing waarin Ampie Coetzee se hond so gekonfyt was. Jasper had ‘n allemintagge padskrapersnor soos Nietzsche of Wyatt Earp of Eenklip Einstein, en dag na dag het hy geloop en snuffelsoek na daai been wat nog nooit daar was nie.
    Die snorbaard was dalk die probleem.
    En Daniël, met respekte, van argiewe gepraat. (Is die meervoud nie dalk ‘argaaie’ nie?) Dis soos Andries verduidelik van Philip se swaartekrag: mens wou nog arg toe gief die pretensierigheid daarvan onder jou pad soos ‘n vrot stellasie. Nee wat, ek is van die oortuiging dat mens tannie Tyd haar vreetwerk moet laat doen, al laat val sy ook hier en daar ‘n stekie. Mens moenie snoep wees nie. Met wat oorbly sal foks in die linkerheg wel vir kraai probeer ore aansit. Goed so! Daar moet geheg word om die maan te kan vang en verorber. Saamstaan, manne! Dis soos om in die heg verbind te wees, hopelik met ruimte ook vir die knor in die hek. Solank dit net nie weer dagbreek in daardie ou linkse skeet, ‘n nuwe hegemonie nie.

    argaai aaihaai
    daar vreet die kraai
    die brief –
    fokken dief!

    Bloggies Joebêr

  11. Missoeke — dit laat my dink aan my middag. Ek het ‘n langerige blog gemaak, met prentjies nogal, oor my besoek aan die Katolieke Universiteit in Sao Paulo, waar Paulo Freire en ‘n spul ander destyds gewerk het. Toe ek na “publikasie” wil kyk hoe lyk die blog, toe is als skoonveld. Ek soek en soek, maar net een prentjie het oorgebly, geen teks nie. Dis ‘n onbetroubare medium hierdie — ek hou daarvan!

  12. Breyten is die Jiddisje woord wat jy in gedagte het mesjoche = kranksinnig?

  13. Breyten Breytenbach :

    Presies, Daniël. Ook meshuga (spelling?) – iets soos ‘n swaap. Soos mense wat dink hulle is nou gelaaf van die patriargale klankie wat kleef aan ‘digkuns’ deur dit tot ‘poetry’ te herdoop, want dan is mens nie meer aansitterig nie en dan is jy deel van die ‘volk’,

    Desmond: welkom in die klub van mense soos ek wat taks meer verloor as wat hulle kan probeer red. Prys die Heer met bly-y-y-e galme.

  14. Johann :

    Breyten ek het self ‘n broertjie dood aan Afrikaanse digters wat van hulle poetry praat & Engelse sleng ingooi vir effek, maar ek voel jy is hier ‘n bietjie onnodig fél op jy-weet-wie. Kan daardie strydbyl nie begrawe word nie?

  15. Breyten Breytenbach :

    Jy het gelyk, Johann. Ek het my weer gaan vergryp – is ‘n sucker (sakker?) vir ‘n gaping. So ek vra om verskoning – regtig! – al weet ek nie eintlik aan wie nie! Jyweetwie word sommer uit lawwigheid ‘n karikatuur van gemaak – terwyl mens nie sonder ontsag, en waardering dikwels, rondom haar gedigte/poetry kan beweeg nie. Punt is (soos jy dalk na beduie): daar is veel meer rede om die ou gode om te skop, en dieper vorme van broodnodige ondermyning, as net cultural slumming en die feelgood niceness van PC eufemismes en leë gebare. Moeilikheid is: ons dink daar is ‘digters’ (net soos ons glo daar is ‘filosowe’ of ‘vryheidsvegters’ of ‘volksvaders/moeders/voeders’) en ons dink dis vreeslik spesiaal – terwyl dit tog net ‘n noodsaaklike én nuttelose DOEN is wat elke dag (of nag) weer uitgevind, besing, betwyfel, versaak moet word. ‘n Afwyking. Indien Jyweetwie bedoel (het) om die selfopgeblase ballon van kûns te prik klap ek al my hande en vra nog meer om verskoning. As ek egter steun moes uitspreek vir ‘n woordverandering sou ek liewer Poësie kies.
    (Ja ja, ek is bewus van die lastige kolletjies soos ‘n stralekrans op die ê se kop. Alle begrip is afspraak.)

  16. Johann :

    Met baie raar uitsonderings is digters nogal verbasend naïef wanneer dit by politiek kom, of dalk moet ek sê idealisties (selwers ingesluit onder die delwers na die ontwykende, afwykende woord). En dan is daar politieke opportunisme wat floreer, ook helaas onder ons digters & dis nogal pateties. Weet hulle nie, as hulle hulle éintlike werk góéd doen, & ‘n paar kan selfs gróót doen, dat wat hulle agterlaat & soms nalaat dinastieë mag sien kom & gaan nie. Ek het ‘n keer versigtig Jyweetwie probeer wegkeer van die gekose weg, maar besluit vriendskap is méér werd. En menslikheid. As ek die Grote mag byhaal: wie naand sê, moet goed wees vir wie daar naand gesê word. Is dit nie naand tyd om dit te sê nie? Om die ingekorte sig & insig van die oomblik maar te sien vir wat dit is nie? Falings langs ‘n donkerende pad. Vergewe die kriptiek, maar ek wil nie op tone trap nie, & soos Cloete oor die arme Monroe gesê het, “soms kan met ‘n omweg … bysake die aandag trek op hoofsake”. Namaste.

  17. Breyten Breytenbach :

    Dankie Johann. Wyse en ware woorde. Dis goed om soms bietjie stil te staan (en stil te bly!) en te onthou dat ons maar almal struikel op daardie donkerende pad en dan uit ontsteltenis heethoofdig en heftig links en regs begin slaan na spoke en klippe. Temeer so by pynlike oorgangstyse (of ondergangstye) in stukkende samelewings. (Is álle samelewings dan nie altyd stukkend nie?) Alles is onderling en anderling verbind. Hierdie self gaan soms so te kere teen die sedepolisie – gewaand of eg of opreg – dat hy self ‘n skril sedepoliesmannetjie word!
    Vrede vir jou ook.
    Breyten

  18. Solange :

    Ingewikkelde gesprekke hier aan die gang, wat net julle sal verstaan. Dit alles omdat ek die verkeerde woord gebruik het. Miskien beter om nooit weer hier ‘n kommentaartjie te lewer nie. Elke woord word skynbaar skoolmeesteragtig omgedraai soos ‘n muntstuk om te besluit of dit kop of stert is. Ek dig nie, maar ek is malverlief op poësie en poetry, Afrikaans of Engels. (Die webblad het ek eers onlangs ontdek). Ek koop julle bundels, sommer baie daarvan. Maar ek praat nie suiwer gebottelde Valpré of Oasis Afrikaans nie. Ek praat plein kraanwater. Met al daai bastergogga’s daarin gemix. Nes die land waarin ons grootgeword het. Tot siens dan. Ek sal maar my bek hou. Hoewel ek nog vir Evette wou sê dat ek saamstem met haar wat daardie klein reis met stippelkoei betref van Breyten Breytenbach.

  19. AJ :

    Praat julle van Antjie Krog? Dis redelik obvious as julle my vra. Hoekom noem julle nie eenvoudig name nie? Ons leef mos nou nie meer in die totalitaristiese staat van apartheid-verhullings nie, of is julle bang dat sy julle op julle eie politieke versetverse sal wys?

  20. Wysneus :

    Solange

    Nog ‘n woord wat jy lisensieloos strooi
    is die nom de blog Solange.
    Klink dit soos die Franse of boere-Legrange,
    of rym dit bloot met ons eie verlange?
    Het ons dalk nou ‘n maat vir orange?

    P.S.
    Moenie liggeraak wees nie.

  21. Solange :

    Meneer/Mevrou/Me Wysneus: ‘n mens spreek my naam so uit: so-LANZH. Die naam beteken ‘engel van die son’. My Franse ouma se naam. En ek is heel trots op my Franse naam en Boere-van.
    ‘n Engel is altyd LIG-geraak.

  22. Wysneus :

    O gits, o gaats. Ek dog dit is ‘n skuilnaampie. Ek ervaar dieselfde verwarring jeens my boere-joodse oupa, Wysneus.

  23. Johann :

    AJ, beide ek & Breyten (as ek vermetel namens hom mag praat) voel ons nie genope om met mense wat agter skuilname skuil in gesprek te tree nie.
    Ons leef glo mos nou nie meer in ‘n totalitaristiese apartheidstaat waar verhullings nodig is nie, so is dit nie tyd dat j’y uit die kas val nie, & jou vrae onder jou eie naam & in die daglig vra nie?

  24. Breyten Breytenbach :

    Ek beaam wat Johann sê omtrent skuilname. Dis meestal sinnelose speletjies – om dit nou nie baie krasser uit te druk nie. Voordat ek my egter aan die gesprek onttrek net nog een ding wat skynbaar verwarring skep en moet opgeklaar word: daar is niks – geen vers of opstel of vlugskrif of kattebelletjie – wat ek ooit geskryf het as versetvers of liefdesvers of roudig of wat ook al, wat ek nie wéér presies so sal skryf onder soortgelyke omstandighede en met die redes of gevoelens of bedoelings tot my beskikking by die moment van daardie skrywe nie. Ek onterf, onteien, ontken niks. Is dit duidelik genoeg? En dit het nie te doen met enige gewaande ‘gehalte’ of ‘historiese motivering’ of bloot ouerlike trots op my eie kakka nie. Trouens, baie daarvan – en nie net die ‘versetverse’ nie – is vrot, naïef, bombasties, onverteerbaar pretensieus. Maar dis nie te sê nie. As u die moeite wil doen kan u AL die gebundelde en geleentheidsverse wat ek (of opeenvolgende ekke) ooit gepleeg het in die twee versamelbundels kry wat deur H&R gepubliseer is. Tot by 1982. Daar sou ‘n derde versamelbundel wees van wat later gekom het, maar dit sal nou nie meer gebeur nie.
    (“As ou Tant Siena straat-af loop…”)
    Dankie, almal, vir die insiggewende, verrykende, soms skreeusnaakse en by ander geleenthede ontroerende uitwisseling van idees en ervarings. Dis werklik ‘n énige webwerf hierdie. U behoort almal trots daarop te wees. En dat dit alles om gedigte/poetry wentel is gewoon verstommend! (Ek stuur dikwels die skakel aan mense wat g’n snars Afferkaans magtig is nie, net om bietjie bors uit te stoot en te spog oor hoe dinge gedoen behoort te word.) Die riool van webkommunikasie is nie noodwendig fataal nie, al wemel dit ook van kakkerlakke.
    En dat ek nou opsy staan is nie omrede die huidige kommentaarstring (waarin ek ‘n hele paar mense te na gekom het, insluitende Antjie Krog) nie, maar omdat dit hoog tyd is om plek te maak vir ander. En ook dat ek niks verder het om by te voeg nie. En dat die oggendster wink.
    Sterkte. Groete.

  25. Johann :

    Sela. En dan móét ek byvoeg dat ek by my bewondering vir Breyten & Antjie se versetverse gewoon net nie die talent & vermoê het om dié soort vers te skryf nie. En dus nie sover ek kan onthou sulkes geskryf het nie. Maar wat anders verwag van ‘n draaijakkals wat met ‘n brandende fakkel aan die stert deur die weiland hardloop dat hy nie tyd wil verkwis om die akkuraatheid van wat hy kwytraak na te gaan nie.
    En met ‘n hartgevoelde apologie aan Sylvia Plath stap ek nou ook uit hierdie penumbra uit.

  26. En dit alles, omdat ek ‘n grappie met Solange gemaak het oor poetry/digkuns! Die vlindereffek?

  27. Andries Bezuidenhout :

    Ai. Al die misverstande. Ek het vanoggend hierdie video gekyk om beter te voel, maar toe maak ek die fout om die kommentaar onderaan te lees:
    http://www.youtube.com/watch?v=gLPxMGxaosI
    Ek troos my daaraan dat die aard van misverstande op Versindaba darem ‘n ander kwaliteit het.

  28. Johann :

    Daniel
    Dié ‘ou grappie’ het ‘n lang aanloop & sommer nog ‘n nadraai ook. Dit was nodig dat dié sweer gesondeer word. Het my nog altyd gepla. Die vlieg in jou salf is verreweg nie die grootste sondaar nie, maar ‘n lekker maklike teiken. Ek hoop jy kan, nes Breyten, die speelveld mooi gelyk maak & klippers vir álmal uit die weg rol. Ek weet jy sal my enige sluimerende gemengde of gemene metafore vergewe.

  29. Ek stem saam, Johann, dis beter om klippers uit die pad te rol as om klippers te gooi – selfs al staan die glashuise leeg!

  30. Leon Retief :

    Dalk steek ek nou my kop in ‘n bynes, maar ek het geen beswaar teen die gebruik van skuilname nie. As almal hul “regte” name moet gebruik dan moet dieselfde beginsel geld vir mense wat net hul voorname gebruik (Solange) of voorletters (AJ) – in beide gevalle is daardie bydraers vir die lesers van hierdie blog ewe identiteitsloos as Wysneus. Solank as sinvolle bydraes gelewer word.

  31. annet :

    Ek dink julle moet ‘n goeie diskoers hieroor voer volgens die riglyne wat Gerrit Brand stel wat ek pas gelees het in Kopskuif. Self het ek geen beswaar teen skuilname nie. Vir ‘n wyle wonder mens wie is hierdie Johann, Maria, Solange, Eduard of Wysneus, ens., maar eintlik neem ek op wat hulle presies sê (inhoud) en wil of sal soms daarop reageer. Ek dink egter dat as jy ‘n blogger hier is op die webblad en lang bydraes lewer of so, dan moet jy ook jou van by jou naam voeg, dan weet mens darem presies wie is die kommentator. As Andries Bezuidenhout sy van byvoeg dan weet ek mos nou wie hy is, ek lees immers sy blogs en dit gee ‘n vollediger prentjie in my kop. Daar is ook ‘n biografie by die Bloggers afdelings as ek meer te wete wil kom. Maar as hy slegs Andries skryf dan kan dit enige van die horde Andriese uit die samelewing wees. Ek hou van die portretfoto’s by ‘n kommentaar. Dit gee nog meer lyf aan die kommentator. Ek sal graag wil weet wat ander dink. Self voel ek niemand hoef te weet wat my van is nie. Wat gaan dit nou juis verander? Ek is mos nie bekend in die digterlike milieu nie en ook nie op enige ander terreine nie.

  32. Johann de Lange :

    Daar kan vlg my geen sprake wees van ‘n ordentlike, verantwoordelike diskoers solank skuilname die norm is nie. Enigeen wat aan ‘n diskoers wil deelneem moet dit onder sy of haar doopnaam doen, want dis wanneer daar agter skuilname weggekruip word wanneer diskoers ontaard in persoonlike aanvalle. Gerrit se ideaal is loflik maar uiteindelik naïef. Ek wil nog die webmeester plaaslik sien wat wegdoen met skuilname nie. Dis daardie persoonlike, dikwels effens skandalige uitlatings wat gemaak word sonder enige konsekwensies vir dié wat dit maak nie, maar dikwels verreikende gevolge het vir hulle slagoffers, dis daardie uitlatings wat sorg vir die klieks wat die suurstof is van sulke webwerwe.

  33. Wysneus :

    Johann de Lange, die plaaslike werklikheid weerspreek jou standpunt oor skuilname. Jy kan in Versindaba argiewe vele ordentlike, verantwoordelike diskoerse vind waaraan verskuilde kommentatore deelgeneem het. Ongetwyfeld is dit verfoeilik om van agter ‘n skuilnaam beledigings te slinger wat nie in persoon gemaak sou word nie, ongetwyfeld is dìt juis wat op feitlik elke publieke webforum gebeur, ongetwyfeld is die oorblywendes die mees krûe, die mees banale, en die mees skuildende. Maar, vir welke rede ookal, is dit grootliks nie wat hier gebeur nie.

    Van klieks gepraat: ek glo dat hierdie pseudonymofobie die openbare diskoers skeef trek. Gepubliseerde opinie (en veral heterodokse opinie) is deels in die werksbeskrywing van akademici en skrywers. Vir andere is dit effektief verbode. ‘n Vennoot in ‘n groot regsfirma, bv, sal sy vennote en werknemers te na kom deur iets in die openbaar te sê wat nie perfek veilig, voorspelbaar, en vervelig is nie.

  34. Johann de Lange :

    Ek verstaan die beperkings wat geld wanneer iemand bv. in ‘n korporatiewe omgewing werk & gevaar loop om sy werk te verloor of sy firma & kollegas skade te berokken. Daar is dinge waaroor ek my ook sou wou uitlaat, maar weet dat dit vir my konsekwensies sal inhou. En dis soos dit hoort. Dade het konsekwensies, & woorde is dade. In sulke gevalle swyg ek dan maar eerder as om my uitlatings agter ‘n skuilnaam te maak. Ek is van die ou skool wat geleer is jy moet pa staan vir wat jy doen & sê, & die konsekwensies aanvaar wat voortkom uit jou optrede.
    Ek ontken nie dat boeiende uitsprake al gemaak is deur mense wat skuilname gebruik nie, maar dis verreweg in die minderheid, & dit gee carte blanche vir die meerderheid wat dit misbruik.

  35. Leon Retief :

    Johann ek verstaan jou punt, maar om jou doopnaam te gebruik soos jy voorstel gaan nie juis veel help nie. As Pieter Groenwald bv kommentaar lewe as net Pieter gaan hy steeds ewe anoniem wees as sou hy ‘n skuilnaam gebruik. Sou hy deelneem as Pieter Groenewald is dit nie juis veel beter nie – watter Pieter Groenewald is hy nou eintlik? Een van die 150 in Johannesburg, een van die twee dosyn in Bloemfontein, die een in Putsondergat of waar ook al? Om werklik met anonimiteit weg te doen sal hy moet meld dat hy Pieter Groenwald is van Blesbokstraat 152, Ermelo.
    Anonieme bydraers tot allerhande internet gespreksgroepe kan inderdaad baie skewe opmerkings maak en dan agter hul skuilnaam wegkruip, maar ek het nog nie werklik so iets op hierdie forum teengekom nie. Meningsverskille, soms skerp, was daar wel, maar die enigste werklik kwetsende opmerking wat ek my kan herhinner het gekom van iemand wat sy volle naam gebruik het. Ek dink nie dat die aard van Versindaba sodanig is dat die gebruik van skuilname hier sal handuit ruk nie. Bowendien, al was die betekenisvolle bydraes van mense wat ondr skuilname geskryf het in die minderheid beteken dit steeds nie (na my mening) dat daarmee weggedoen moet word nie. Die “meerderheid” het dit hier nie misbruik nie en ek twyfel of dit maklik hier sal gebeur.

  36. Johann de Lange :

    Leon, as daar bv. 100 Pieter Groenewalds is, dan het hulle mos nóg minder rede om ‘n skuilnaam te gebruik. Ek dink ook as jy bietjie dieper nalees, nie net hier nie, maar ook & verál op Litnet, sal jy die omvang & liederlikheid van die gebruik beter verstaan. Jou data set is hopeloos te klein.

  37. Johann de Lange :

    Dit laat my altyd aan die lafhartigheid van die Klu-Klux-Klan dink. Dieselfde mentaliteit onderlê dit.

  38. Leon Retief :

    Johann, as daar 100 Pieter Groenewalds is dan is iemand wat onder daardie naam skryf steeds ewe anoniem as iemand wat ‘n skuilnaam gebruik want jy gaan steeds nie weet watter Pieter Groenewald dit is nie. En ja, ek lees ook op ander forums, oa Litnet, en weet baie goed wat daar aangaan. Die “dataset” waarna ek egter in my vorige kommetraar verwys het is spesifiek hierdie forum, en sulke liederikhede het nog nie hier kop uitgesteek nie. Sou dit gebeur sal die webmeesteres na my mening beslis ‘n stokkie daarvoor steek, soos sy alreeds gedoen het. Om iemand wat onder ‘n skuilnaam skryf die reg te ontse om ten minste soms betekenisvolle bydraes te lewer? Ag nee wat.

  39. Desmond Painter :

    Ek het ietwat van ‘n probleem met iemand soos Crito, wat onder ‘n skuilnaam ‘n ‘amptelike’ forum het vanwaar hy resensente wat onder hulle eie name resenseer kan kritiseer. Ek dink in so ‘n geval moet die skrywer ‘man up’ en onder sy eie naam skryf.

    Op ‘n webblad soos hierdie is dit egter nie vir my so ‘n probleem as iemand onder ‘n skuilnaam soos ‘Wysneus’ skryf nie. Hy is hier in sy eie hoedanigheid, nie as ‘amptelike’ resensent nie, en omdat hy die naam boonop konsekwent gebruik is hy net so herkenbaar vir my as ‘stem’ as bv. ‘Leon Retief’, wie ek nog nooit in persoon ontmoet het nie. Wysneus het bv., as gevolg van sy vreesaanjaende idees oor die politieke ekonomie, al uitstekende gesprekke op hierdie webblad gestimuleer. (En nee, Wysneus is nie my alter ego nie!!)

    Die soort gemors wat onder skuilname op Media24 se aanlyn nuusblaaie geskryf word, is natuurlik ‘n euwel. As mense so min verstand het, so swak spel, en boonop moreel so beperk is, moet ‘n redakteur of webmeester gewoon nie toelaat dat hulle daar ‘publiseer’ nie. Of hulle nou onder hulle eie of ‘n skuilnaam kommentaar lewer, maak nie eintlik saak nie: dit gaan oor die aard van die kommentaar.

  40. Johann de Lange :

    Leon, ek het begrip vir jou standpunt. Wat my persoonlik aanbetref, is ek onbuigsaam oor die aangeleentheid. Laat ons dus maar ooreenkom om te verskil. Ek hoop jou geloof in die basiese ordentlikheid van skuilnamers word jou nooit ontneem nie. Hiermee maak ek ‘n kniebuiging, hoe strammerig dan ook & bepaal my eerder by my lees.

  41. Solange :

    Dis okei Daniel. Ek aanvaar dan dit was ‘n grappie van jou kant af. Ek vra om veskoning dat ek dit aanvanklik as ‘n oordievingertikkery ervaar het, sommer so met my eerste kommentaartjie. Ek het ‘poetry’ gebruik omdat die prentjie bo aan daardie blog sê: Poetry is dead. Dit was dus die eerste woord wat in my opgekom het. Opinies oor die gebruik van die woord sal my interesseer. Maar ek weet nie wat jou mening is nie. Ek weet nou van Breytenbach se mening. En ek voel hoegenaamd nie ontsteld oor sy opinies nie. En alles wat hy ooit geskryf het is ek ook nie spyt oor nie. Inteendeel mos. Jongmense word verryk daardeur. Ek hoop die aandster bring hom weer terug na hierdie webtuiste toe want ek is verslaaf aan sy taalgebruik en poësie. Maar van nou af lees en leer ek net. Sjoe, Sylvia Plath se sketse het baie diverse gesprekke hier uitgelok!

  42. Baie dankie, Solange, ek vee die koue sweet van my voorkop af! Ek is jammer, ek het jou in ‘n uitgelate luim betrek by ‘n ou vete in die Afrikaanse digtersw&reld.Moenie ophou om op hierdie podium jou opinie te lug nie. Dit was beslis nie my bedoeling om jou te laat stilbly nie.

  43. Leon Retief :

    @Johann: ek stem saam, laat ons ooreenkom om met respek van mekaar te verskil. Darem net een puntjie vir oulaas: van al die webwerwe/blogs/gespreksgroepe waaraan ek deelneem of deelgeneem het is Versindaba die mees beskaafde een wat ek nog teengekom het.
    @Desmond: ek is dit met jou eens oor Crito, maar jy praat van hom as ‘n man. Ek het nog altyd die indruk gehad dat Crito ‘n vrou is, moenie my vra waarom nie.

  •