JH Leopold – vertaling in Afrikaans
J.H. Leopold (1865-1925) – vertaal uit Nederlands deur Daniel Hugo
Kersliedjie
In die donker dae rondom Kersfees
is daar ‘n kind van lig gebore.
Die maan skyn helder oor die dyk
en ysnaalde hang aan die bome.
Onder die doeke in die krip
daar lê die liewe Jesuskind.
Om sy kop straal ‘n krans van lig
en dit lyk of sy armpies wink.
Maria, bleek en bewerig,
het neergesak op haar knieë.
Sy kyk liefdevol na die kind
en Josef lag maar net verleë.
En buite in die bitter koue
kom op dié Kersdag – dis al laat –
die drie wyse manne van ver
deur die diep sneeu aangewaad.
Daardie drie wyses hoes en so,
en die stal se stof laat hul nies.
Druppels hang onder hul neuse
en hul baarde is wit gevries.
Die drie wyses staar na die kind,
die lig skyn by hulle oë in.
Die kind lê daar en kyk en kyk:
van sy denke die eerste begin.
(Uit Nederlands vertaal deur Daniel Hugo)
Oinou hena stalagmon
Waar op die pleg van gekartelde hout,
wat swart verweer is, uit die offerkelk
die wyn gepleng word en ‘n purperreën
syg in die bloute van die watervlak
by priesterlike lofspraak en gebede,
sodat die see, sodat die barre winde
genadig sal wees en die water glad –
daar kleur ‘n druppel wat spat uit die kelk
die Oseaan; ‘n enkele pêreltjie
deurdring die ganse helderheid en deel
sy wese uit tot aan die verste strande,
die diepste bodem; van die rotsbasalt
van Poolgebergtes, waar die koue groen
van enorme gladgeskuurde gletsers
neerdaal en afgly na die wêreldsee
in ysige are, tot waar verhit
en doodstil in die flikkering van lig,
die asuur ure van die tropedag,
die lou water bly swewe – ver gedra
en yl geword – en dan in die inhamme,
die holtes van die Karibiese rif,
as atmosfeer, as hemel van kristal
deur poortgewelwe en koraalspelonke
sypel en hang: die hele element
bespeur die yl vermenging en die fyn-
verdeelde krag, die spanning wat strek oor
die ganse lang afstand, tot dit alles-
omvattend is, en terugkeer in homself,
aan al die dinge rondom hom gelyk.
En Sappho se laaste appel wat aan
die tak bly hang, waar dit steeds ná die oes
hom volsuig aan die sap en ongestoord
swel tot ‘n sfeer van satyn, tot die skat
van die laat somer, die vertroetelde,
wat in die arms van die middaghitte hang,
die prins oor wie se donsige wange
die sonstrale streel vanweë sy blos
en donker voorkoms waarop die winde,
vrypostige broers, heimlik verlief is –
as dan op ‘n herfsnamiddag die trotse
vrug wik en weeg en loslaat: met sy val
skok hy die stand van ewewigtigheid
waarin die aarde in sy pole hang
en versteur die balans, en wanneer daar
dan in wankelinge na die verskuifde
gelykheid al skommelend gesoek word,
beweeg die sterre én die band wat hulle
almal in die hemelsale vashou –
die wedervaring van een word oral
voelbaar, vermenigvuldig, en dein oor
die sidderende firmament; dan kom
die trans tot bedaring, ‘n goddelike
kalmte verskyn in die heelal, tot straks
die bestemde stand bereik word
en alles weer rus in die wysiging.
En nou, wat in my is, hierdie gedagtes,
hierdie stil verbinding van wat wissel
tussen ‘n toevallige ontmoeting
wanneer daar onbekommerd gedwaal word,
en die drang na iets anders, wat dáár is
en skielik weg, en dan met groter klem
gesoek en onverhoeds gevind word
om saam te smelt tot een – hierdie ywer,
hierdie innerlike bedryf, uitgebeeld
as ‘n beweging, hierdie dinkpolsslag,
na watter vertes kan dit hom uitstrek
en tot in watter streke kan dit reis
agter homself aan? Lê vir hom
nie al daardie ander skynbaar geslote
afsonderlike sielelewens nog
steeds oop nie? Hierdie ingekeerde denke
verbrei na oral waar ‘n sielsbestaan
hom openbaar, waar nog nouliks gebore
‘n eerste wete in die midde lê
van die onbewustheid, en waar ryklik
‘n miljoenemenigvuldigheid
opgebou is, wat tye sonder tal,
‘n skat van wêrelde in hom bevat,
maar hom onnaspeurlik afgerond het
tot ‘n wonderlike eenheid – deur dit alles
heen vloei hierdie vloedgolf wat almal
verswelg, hul donkerte skok en gevoel
word in wat hul mees verborge besit
en hulle diepste oorspronklikheid is.
En eindelik, in omgekeerde trant,
hoeveel ongetelde storings deurstroom
hierdie een brein? ‘n Storm kom van rondom
op ons af; soos ‘n wal staan die dreiging
om ons op. Die groot leërmag word meestal
afgeweer en die hordes onderdruk,
maar breek die volheid van die tye aan,
dan kan ‘n dolende, ‘n vreemdeling kom
tot ‘n uitsonderlike heerskappy
en die troon oor die volkere bestyg;
verbaas bespeur ons sy jong vorstehande,
die werking van sy gebod, sy genade
en sy triomf en oppermagtigheid.
© vertaling: Daniel Hugo, 2011
Reën
Die reënbui het verbybeweeg;
aan die gesonke horison
trek die opgestapelde rond-
gewelfde wolke weg; al wat oorbly
is die blou, die kil blou waaruit verban
is elke kreukel, glad en opnuut gespan.
En hier aan die vensterglas
aan die bedroefde ruite
beef in die bries
wat weer begin waai het buite
‘n druppel van die reën;
dit klou daaraan vas,
dit ril in die kille lig …
en al die blinkheid en die vergesig,
van hemel en van aarde, sooilandswart,
stralende waters, heinings, die verwarde
beweging van mense wat na buite kom,
ploegperde langs die pad, die ou bome
voor huis en hoewe en oor alles die glans
van die nuwe dag, die diep hemeltrans
met skitterson, wêreld en ruim heelal:
dit is bevat in dié klein trilkristal.
(Vertaling van Regen – J.H. Leopold)