Andries Bezuidenhout. Af

Hier is ʼn vertaling van “Down”, ʼn gedig deur Margaret Atwood. Moeilike een. Sy gebruik eindrym, baie subtiel. Dalk is my poging se eindrym ʼn bietjie oordadig. Woordspelings raak ook verlore met vertaling. Ek probeer so naby as moontlik aan die oorspronklike weergawe hou, maar het liberties gevat ter wille van rym en metrum. Erkenning aan Ingrid Winterbach se laaste boek vir woorde.

1
Hulle was verkeerd oor die son.
Snags daal dit nie neer
benederyk toe nie.
Die son verkas net
en die benederyk meld aan.
Dit kan enige tyd gebeur.

Dit kan in die oggend wees,
jy in die kombuis begaan
met jou middelbare roetine.
Bord, koppie, mes.
Eensklaps g’n blou nie, g’n groen nie,
g’n waarskuwing nie.

2
Ou draad, ou inkstreep
wat die leegte
wat ons “ruimte” noem in wink
waarheen wat jy my di
é
keer sleep?
Verby stoof, verby tafel
verby die horisontale greep
van die vloer, verby die kelder,
verby die vertroude,
af, die duisternis in
waar jy omdraai en blink.

3
Eers dink jy dis engele,
hierdie albino stemme, hierdie stemme
soos ongeverfde standbeeldoë,
hierdie stom stemme soos handskoene
sonder hande in,
hierdie mot stemme wat verbysterd
om jou ore fladder,
hulself hoorbaar probeer maak.

Wat wil hulle hê?

Jy maak ʼn kepie in jou vel,
klein gaatjie
vir die pyn om in te kom bly.
Jy laat drie druppels bloed vry.

4
Hierdie is
die koninkryk van die ongesproke
die koninkryk van die sprakelose:

almal deur oorlog verpletter
almal wat aan hongersnood ly
almal dood gemoker
en in putte begrawe, almal aan flarde gesny
vir gewin of geld
almal wat gegrendel
in kamers snotter, al die geofferde
kinders, al die afgemaaide bruide
die selfmoordenaarshuide.

Hulle sê:
Praat vir ons (met wie)
Party s
ê
: Wreek ons (op wie)
Party s
ê
: Neem ons plek.
Party s
ê: Getuig.

Ander sê (en hierdie is vroue):
Wees vir ons bly.

5
Daar’s trappe,
daar’s die son.
Daar’s die kombuis,
bord met aarbeikonfyt en ʼn sny,
jou pap verskoning,
jou lam lugspieëling.

Bloedige hande, op heterdaad betrap.
Met grond, klip en gras
wil jy dit afwas.

Hoe moet jy uiteindelik
oor s
óveel verlies verduidelik?

Oorspronklike gedig:
“Down”, deur Margaret Atwood, uit Morning in the Burned House (Houghton Mifflin, 1995), pp. 72-75.

Bookmark and Share

Comments are closed.

  •