Die hittegolf tref die Hoëveld op ʼn Dinsdag. Heelweek hang ʼn soelte oor die N1 terwyl ek pendel tussen ʼn pers Pretoria en die jakarandas in Johannesburg. In Tauruslaan is drie Indiese kleure deurmekaargevleg: bloedrooi vlambome, cerise bougainvilleas en ‘n tapyt van pers bloeisels op die teer. So twee weke of wat gelede was dit Deepavali, onthou ek, met my gedagtes in bont, warm Durban.
Eienaardig hoe elemente soms op mekaar inwerk, want heel onbeplan duik Durban met ʼn ompad Vrydagaand weer op. Lam en tam is ons lus vir lekker onopgesmukte kos en ons val by ons naaste Portugese eetplek in. Hier woel dit en oumas sit aan tafel met babatjies op die skoot. Swartkopkinders hardloop rond, buite loop ʼn ligbruin hond en ons kry ‘n tafel in die hoek. Yskoue drinkgoed word voor ons neergesit en die kelner skryf sy naam met ʼn filtpen op die bruinpapiertafeldoek. Die spyskaart open vistas van ander plekke waar menige garnaal verorber is: Mpumalanga, Mosambiek…en Durban.
Fernando Pessoa is op 13 Junie 1888 in Lissabon gebore. Sy pa sterf in 1893, toe Fernando vyf jaar oud is. In 1895 trou Fernando se ma met ‘n weermagoffisier. In 1896 word Fernando se stiefpa aangestel as Portugese Konsul en die gesin verhuis na Durban. In 1899, aan die Durban High School, raak hy vlot in Engels en raak hy geïnteresseerd in die literatuur. In 1903, in sy matriekjaar, wen hy die Queen Victoria Memorial Prize vir Engels. Op 6 Julie 1904, plaas The Natal Mercury sy gedig “Hillier did first usurp the realms of rhyme” onder die naam Charles Robert Anon en tussen Februarie en Junie 1905 plaas die koerant minstens vier sonette deur Fernando Pessoa. Op ʼn vroeë ouderdom reeds het die digter verskillende name, oftewel personas begin gebruik, waarvan “Chevalier de Pas” waarskynlik die eerste was. Op sewentienjarige ouderdom verlaat Pessoa Durban, en Suid-Afrika, vir altyd en keer terug na Lissabon, waar hy in 1935 sterf.
Op skool in die destydse Natal, het ons nie van Fernando Pessoa geleer nie en ek het baie later eers uitgevind dat hierdie “Durbaniet” gereken word as ʼn groot Portugese digter. Ek leer nou nog maar sy werk so stadigaan ken. Miskien is dit hoekom ek op ʼn drukkende aand in Johannesburg, so oor ʼn lieflike piri-piri-hoendertjie met kokos- en lemmetjiesous, dink aan enigmatiese tweetalige digters wat waarskynlik sou tuis voel so tussen die Portugese mama’s en Espatadas. My gedagtes dwaal ook na ʼn wandeling tussen kleurvolle Portugese huisies, ʼn klein Mosambiek-dorpie en ʼn dagbreekstrand, iewers in 2003.
o wat ‘n plesier… (bron Google)
Op die hoek van Pine en Gardiner-strate in Durban is daar ʼn standbeeld ter herdenking aan hierdie Portugese digter.
En omdat Ferdando Pessoa my verder kon laat sien as die Hoëveldse hitte, plaas ek VI uit The Keeper of Flocks, geskryf onder die heteroniem Alberto Caeiro da Silva.
“From my village I see as much in the Universe as you can see from earth…
So my village is as big as any other land
Because I’m the size of what I see,
Not the size of my height…In the cities life is smaller
Than here in my house on top of this hill.
In the city the big houses shut your sight with a key,
Hide the horizon, push your eyes far away from all the sky,
Make us smaller because they take away what our eyes can give us,
And make us poor because our only wealth is seeing. “
Fernando Pessoa in Durban 1898 (bron Google)
*****
Ons verwelkom een van ons nuwe digters wat aangesluit het by die groep SA (Binneblik) bloggers: René Bohnen skryf en neem foto’s. Soms tree sy op as fassiliteerder by kreatiwiteitswerkswinkels of spanbougeleenthede. Sy woon in Johannesburg, is ʼn Nataller van geboorte, het al in 13 dorpe en 5 provinsies gewoon en dalk is dit nog het einde niet. Sy behaal in 2009 die graad M.A. Kreatiewe Skryfkuns aan die Universiteit van Pretoria. Haar debuutdigbundel, Spoorsny verskyn in 2000 en in 2011 publiseer LAPA-Uitgewers haar tweede digbundel, in die niks al om. (- Red.)
Ek weet nie hoe ek hierdie blog van Desmond Painter destyds gemis het nie! Hier is die foto wat hy wou geneem het.En ek wonder al hoe meer hoekom Pessoa nie in Natal op skool vir ons voorgeskryf is nie. Ook nie In Engels I, II OF III nie! https://versindaba.co.za/2010/08/10/die-foto-wat-ek-wou-geneem-het/
Hallo De Waal, ek het jou vertaling van “Simbolos” ook geniet. Mag ek raai dat die digter hier abstraksies afwys en kies vir die menslike oomblik – samesyn, belewenis via die sintuie? Pragtige slotreels, weer so eenvoudig en tog met soveel trefkrag.
Hallo René
Ja, dis nou iets nuuuts vir my … “one-liners”. Presies. Dink net aan sy beroemde openingsreël in “Autopsicografia” – O poeta é um fingidor.
Hierdie “fingidor” is nogal nie malik om te vertaal nie. Mens sou kon sê: “Die digter is ‘n skerminkel”
Of anders: “Die digter is ‘n skelm”.
Dalk nader aan die letterlike: “Die digter steek lyf weg”.
Hoe dit ook al sy, dit is interessant om te sien hoe Pessoa verder beskryf in die gedig.
Dankie De Waal,
Ek het dit geniet om jou vertaling te lees. Dis vir my ook interessant hoeveel van Pessoa se reëls gebruik kan word as “one-liners’, omdat die insig so kompak verwoord is. Terselfdertyd is sy beskrywings tog breedvoerig visueel en ryk.
Hallo René
Goeie artikel wat jy geskryf het. Ek stel ook baie belang in Pessoa en het al ‘n paar van sy gedigte in Afrikaans vertaal. Onder andere “Delgada y sinuosa”.
Jy sal “Símbolos” deur Álvaro de Campos (Fernando Pessoa) kan lees op my webruimte soos hierbo aangedui. Rol af tot by 31 Desember.
Hallo naamgenoot:-) Ek dink jy sal sommer baie van Pessoa hou. Dalk bring ek hierdie naweek ietsie saam, dan lees jy!
Het jou link op FB gesien en nou eers kans gekry om te lees. Dis darem aaklig hoe werk inmeng met mens se persoonlike verryking (ook bekend as rondspeel op die internet).
Dankie vir hierdie. Het nog nooit gehoor van Pessoa nie, maar hou van wat hy sê.
Everline, baie dankie. Het jy dalk ‘n gunsteling Pessoa-gedig?
Het hierdie stuk so geniet, René! Het spesiale verbintenis met Portugal na wonderlike vakansie daar en jy’t die ou atmosfeer en Pessoa teruggebring.
Dankie Marlise, vir die mooi woorde en ook vir die geleentheid (of uitdaging!) om te kan blog.
Baie welkom op die Versindaba webblad, Rene!
Ek het jou eerste blog baie geniet. Jy het Pessoa weer onder my aandag gebring.
Baie dankie Andries!
Baie welkom René. En geluk met ‘n wonderlike eerste blog!