Andries Bezuidenhout. Aurora se kerk se proporsies

Aurora lê in die Sandveld, aan die see se kant van Piketberg. Dis naby die sendingstasies van Goedverwacht en Wittewater. Vir ʼn tyd lank was die dorp wêreldberoemd. Dalk moet mens die stelling kwalifiseer. Die dorp was wêreldberoemd in sterrekundekringe. ʼn Sekere Abbé Nicolas Louis de Lacaille was in 1751 daar werksaam en het op grond van trigonometriese opmetings beweer die aarde is peervormig, ʼn stelling wat ʼn hele aantal wetenskaplikes vir ʼn paar dekades besig gehou het met pogings om te bewys hy was verkeerd. De Lacaille het blykbaar die afstand tussen Aurora en Kaapstad drie keer per voet afgelê. Sy noordelike baken was naby waar Aurora vandag is (toe nog slegs ʼn plaas genaamd Klipfontein), die westelike een op Kasteelberg en die suidelike baken op die hoek van Strand- en Adderleystraat in Kaapstad. In 1838 het Thomas Maclear die saak finaal besleg. Hy het De Lacaille se opmetings tussen Kaapstad en Aurora (steeds toe nog nie Aurora nie) herhaal en bevind dat die Fransman nie die impak van die berge se aantrekkingskrag in sy berekenings in ag geneem het nie. Die aarde was dus wel rond.

Nietemin, ten spyte van Aurora se die sterrekundige roem, of dalk eerder dan berugtheid, kom die dorp se naam nie daarvandaan nie, maar van die dogter van die Nederduits-Gereformeerde Kerk se eerste leraar – ʼn ene Ceylonia Aurora Ferreira. Dis nou die dogter. Haar vader was na bewering ʼn krygsgevangene op Ceylon tydens die Anglo-Boereoorlog. Die gemeente is in 1906 gestig, deur afvalliges van die Piketberggemeente, alhoewel daar blykbaar reeds sedert 1866 ʼn kerk was – op die plaas Rietvlei. Die huidige kerkgebou se hoeksteen kom uit 1908. Dis ʼn gebou met vreemde proporsies – erg vroeg-1900s. Nie peervormig óf rond nie.

Aurora Kerk - vooraansig

Vooraansig van nader

Toring, detail

Die hoeksteen

Deur, detail

Bookmark and Share

2 Kommentare op “Andries Bezuidenhout. Aurora se kerk se proporsies”

  1. Leon Retief :

    Andries, as ek nou mag vit: dit was inderdaad Thomas Maclear wat Lacaille se metings herhaal het met die nodige korreksie vir massas va Tafelberg en Piketberg. George Everest was egter die eerste persoon wat voorgestel het dat Lacaille nie hierdie efek in berekening gebring het nie. Hy was in 1820 op besoek in Kaapstad om te herstel van een of ander koorssiekte (moontlik malaria) wat hy in Indie opgedoen het. Hy het Lacaille se triangulasie-poste (as dit nou die regte woord is) besoek en uit sy observasies aldaar het hy besef wat die waarskynlike oorsaak van Lacaille se glipsie was.
    Lacaille was nogal ‘n interessante persoon. Tydens sy verblyf in SA het hy 10 000 nuwe sterre ontdek asook 14 nuwe konstellasies. Hy het ‘n kaart van die Suidelike hemelruim saamgestel, Coelum Australe Stelliferum.

  2. Andries Bezuidenhout :

    Dankie Leon. Wens ek kon ‘n vlieg teen die muur wees, in 1751 en 1820. Ongelukkig het ek nie Karel Schoeman se historiese verbeelding nie!

  •