Andries Bezuidenhout. Muizenberg, Renovators Dream

Muizenberg se naam kom van ʼn amptenaar van die VOC, ʼn ene Sersant Muys, wat die tolhuis daar beman het. Dit was eers “Muys Zijn Bergh”, later “Muysenbergh”. Boere wat hul produkte aan skepe in Simonstad se hawe wou gaan verkwansel moes hier tolgeld betaal. Die tolhuis – Het Posthuis – is steeds daar, een van Suid Afrika se oudste geboue. Dit was al ʼn hotel en ʼn bordeel ook, maar is in die 1980s as nasionale monument gerestoureer. Cecil John Rhodes is in 1902 in Muizenberg oorlede, in ʼn huis wat ook steeds staan. Een van William Kentridge se mooiste animasiefilms, Tide Table, speel in Muizenberg af. Soho Eckstein sit op die strand. ʼn Mens kan die kleurvolle strandverkleehokkies in die video sien, maar sonder die kleur. Ek hou van die art deco-hotel in die video.

Muizenberg is een van daardie voorstede wat Suid-Afrika se ritmes versinnebeeld. Die geboue daar verval, word dan gerestoureer. Verval, restourasie, verval, restourasie. Dis ver van Johannesburg, Kentridge se gebruiklike onderwerp, maar het nogtans so ʼn bietjie van ʼn myndorpgevoel. ʼn Land met myne dans maar op daardie “boom-bust-boom-bust” ritme. Jy sien dit orals in Suid-Afrika se argitektuur. Fanatiese bouwerk, dan staan alles weer stil.

Ek werk al vir ʼn paar weke aan die skildery hier bo. Dis ʼn gebou in Muizenberg, maar nie een van die bekendes nie. Ek weet nie of dit klaar is nie. Olieverf neem tagtig jaar om droog te word. Dalk werk ek later verder daaraan. Ek dink vir eers is die titel: “Muizenberg, Renovators Dream”.

Bookmark and Share

3 Kommentare op “Andries Bezuidenhout. Muizenberg, Renovators Dream”

  1. Desmond Painter :

    Dis mooi. Speel dele van Etienne Leroux se Die Mugu nie op Muizenberg se strand af nie? Wonder wat Muizenberg in die laat 1950’s voor gestaan het.

  2. Andries Bezuidenhout :

    Ek is nie seker nie Desmond, maar ek sal nie verbaas wees as daar “eendsterte” in die prentjie was nie. Daai gebou se skarniere kan ook met olie doen.

  3. Andries Bezuidenhout :

    Miskien kan jy die stempel hoor:
    Sersant Muys wat kwits met ink veramptelik,
    riksdaalders uit vryboere se sakke rol,
    waens met koring, waens met rog.
    Hoor hoe sug hulle op die ritme van branders
    by Muys Zijn Bergh, by Muys Zijn Bergh.

    Miskien kan jy die roggel hoor:
    Cecil John Rhodes wat aan die einde van sy oorlog
    sug en vir ʼn laaste keer in sy kooi omrol,
    sakke vol diamante, sakke vol goud.
    Hoor hoe slaap hulle op die ritme van branders
    by Muysenbergh, by Muysenbergh.

    Miskien kan jy die gekrys hoor:
    Kosyne wat kraak, verf wat sliert,
    roes of poets, alles hang af van die rigting
    van skepe met kratte, waens met sakke.
    Hoor hoe saag hulle op die ritme van branders
    by Muizenberg, by Muizenberg.

  •