Louis Esterhuizen. Die kwessie van skuilname vir die skuillugtiges

Onlangs was daar nogal ‘n hewige debat gevoer oor die kwessie van outentieke identiteit al dan nie onder diegene wat kommentaar lewer op hierdie webblad. As sulks is dit natuurlik ‘n tameletjie wat kleef aan alle tande  in die wêreldwyeweb se gebit, want hoe bepaal jy die “ware” identiteit van ‘n deelnemer indien jy so ‘n voorvereiste tot deelname het?

So het daar ‘n nogals amusante insident, wat hierdie dilemma verder onderstreep, vroeër vandeesweek op die sosiale media gewoed; ‘n verleentheid wat boonop niemand minder as die bekende Salman Rushdie (foto) betrek het nie …

Klaarblyklik was die gode van FaceBook (FB) van mening dat die persoon genaamd “Salman Rushdie” wat op FB geregistreer is, NIE die vermaarde skrywer is of kan wees nie en – aangesien hulle tans besig is om ‘n “identiteitskaart” te ontwikkel waarvolgens jy met jou FB-rekening toegang tot vele ander webtuistes waar “ware” identiteit noodsaaklik is, sal kan kry – het hulle die afgelope maande  glo begin met ‘n suiweringsproses waarvolgens alle identifiseerbare skuilheiliges van FB verwyder word …

En so is die gewaande Rushdie-pretendeerder se rekening gedurende die naweek gesluit. Tot die ware Rushdie se ontsteltenis wat toe sy toevlug na Twitter geneem het, natuurlik. FB het na sy vertoë daarop aangedring dat hy ‘n kopie van sy identiteitsdokument moet voorlê alvorens hulle sy rekening heraktiveer. Probleem, o probleem … In die werklike lewe van storm en druk is onse skrywer gedoop as synde Ahmed Rushdie en derhalwe is sy rekening in dié naam herstel. Natuurlik tot verdere (en groter) ontsteltenis van die skrywer; per slot van sake, wie in de ganske wye wêreld weet wie Ahmed Rushdie is?!

Nietemin, op Jan Pollet se weblog kan die volle relaas van Rushdie se tweets gelees word. (Vir jou leesgerief plaas ek dit heelonder.)

Maar eers terug na die debat rondom die kwessie van “ware” identiteit op die internet al dan nie. In die New York Times se berig wat oor hierdie aangeleentheid verskyn het, word Elliot Schrage, vise-president van FB, soos volg aangehaal: “Facebook has always been based on a real-name culture. We fundamentally believe this leads to greater accountability and a safer and more trusted environment for people who use the service.”

En natuurlik is dié uitgebreide databasis ‘n magtige instrument in die kommersialisering van FB en die aankope (van vliegtuigkaartjies, byvoorbeeld) wat deur adverteerders gegenereer kan word: “The debate over identity has material consequences. Data that is tied to real people is valuable for businesses and government authorities alike. Forrester Research recently estimated that companies spent $2 billion a year for personal data, as Internet users leave what the company calls “an exponentially growing digital footprint.” (Aldus NYT se beriggewer.)

Eweneens is daar natuurlik ook veiligheids- en politieke implikasies, soos bepaalde aktiviste in Engeland en Arabiese state onlangs nog uitgevind het: enersyds is die sosiale media in staat tot die stook van massa opstande, maar andersyds lok dit die pretbederwers na jou voordeur. En volgens Joichi Ito, hoof van die Media Lab by die Massachusetts Institute of Technology is dit die gróót risiko verbonde aan “ware” identiteit op die internet: “The real risk to the world is if information technology pivots to a completely authentic identity for everyone. In the U.S., maybe you don’t mind. If every kid in Syria, every time they used the Internet, their identity was visible, they would certainly be dead.”

Nou ja, toe. Per slot van sake gaan dit seker nie soseer oor die vaandel waaronder jy jou Skuite van Groot Waarde laveer nie, maar op welke manier jy dit doen … En natuurlik kan die hele kwessie van identiteitsverwarring nogal prettige gevolge hê. So vermoed ek dat die meerderheid van my (vroeëre) “FaceBook-maatjies” onder die illusie verkeer het dat ek ‘n baskitaarspeler is vir ‘n Afrikaanse rockgroep met die naam Rooibaardt en in Bethlehem woonagtig is. (Sedertdien het ek maar die persoonlike gegewe met foto en al by my FB-blad gevoeg.) Ook was ek in my lewe al dikwels verwar met Louis Eksteen; ‘n verwarring wat by een geleentheid direk aanleiding gegee het tot een van die gróót vreugdes in my lewe: my ontmoeting met my vrou.  Aangesien sy Louis Eksteen geken het in die Sestigerjare, en gedog het dis hy wat skryf, het sy vriendelik geantwoord en siedaar … Die res is geskiedenis.

Hieronder volg Rushdie se beloofde tweets soos dit deur  JJ Pollet geplaas is.

***

“Amazing. 2 days ago FB deactivated my page saying they didn’t believe I was me. I had to send a photo of my passport page. THEN…”

“…they said yes, I was me, but insisted I use the name Ahmed which appears before Salman on my passport and which I have never used. NOW…”

“They have reactivated my FB page as “Ahmed Rushdie,”in spite of the world knowing me as Salman. Morons. @MarkZuckerbergF? Are you listening?”

“Maybe @MarkZuckerbergF is a phony. Is the real #Zuckerberg on Twitter? Where are you hiding, Mark? Come out here and give me back my name!”

“So if @finkd is the real #Zuckerberg: what are your people up to, sir? Why have I been denied my name on FB? An answer would be nice.”

“Good idea. Dear #Facebook, forcing me to change my FB name from Salman to Ahmed Rushdie is like forcing J. Edgar to become John Hoover.”

“Or, if F. Scott Fitzgerald was on #Facebook, would they force him to be Francis Fitzgerald? What about F. Murray Abraham?”

“Victory! #Facebook has buckled! I’m Salman Rushdie again. I feel SO much better. An identity crisis at my age is no fun. Thank you Twitter!”

 

 

Bookmark and Share

2 Kommentare op “Louis Esterhuizen. Die kwessie van skuilname vir die skuillugtiges”

  1. Pieter Wolmarans :

    Ek weet nie waar om dié kommentaar te plaas nie, so ek plak dit sommer hierso. Marlise, toe jy vroeër vanjaar hierdie webblad oorgeskakel het na ‘n “kollektiewe weblog vir die Afrikaanse digkuns” het ek gewonder wat jy daarmee bedoel. Nou weet ek. Kyk ‘n mens na die geweldige verskeidenheid in aanbod (deelnemers sowel as inhoud) wat die afgelope tyd op Versindaba te lees is, kan jy nie anders as om onder die indruk te kom van die lewenskragtigheid van ons digkuns nie.
    Van harte geluk!
    En dankie daarvoor …
    Ook vir almal wat bydrae tot hierdie webblad en die stimulerende leesstukke wat dit so spesiaal maak.

  2. Marlise :

    Dankie vir jou komplimente Pieter. Maar eintlik is hierdie webblad presies wat sy deelnemers, akademici en digters daarvan maak. Hoewel ons vaste bloggers het, kan enigeen ‘n skryfsel of artikel/essay aanstuur (of kommentare plaas)en as dit die goedkeuring wegdra sal dit hier geplaas word deur my of een van my assistente. Riglyne is vervat in die Reglemente hierbo. Ek dink soms aan die weblog as ‘n soort waterval – immer nuwe strome wat van bo na onder oor die rotsplate stoot. Ek hoop dit droog nooit op nie! 😉

  •