Andries Bezuidenhout. Outentieke snuf in die antieke neus

Een van die vreemdste… uhm… gesigte wat ek nog iewers uitgesnuffel het. ʼn Klomp neuse, gemonteer en geraam in ʼn museum in Denemarke. Vele standbeelde uit antieke Griekeland en Italië is in die 1800s en 1900s sonder neuse gevind. Handelaars het dan vals (meestal van marmer of gips) neusprosteses aangesit om die waarde van die standbeelde te verhoog, voor dit aan Europa se bourgeoisie (en soms regerings) verkoop is. Later het die soeke na die outentieke hierdie neuse oorbodig gemaak en is hulle van die standbeelde verwyder.

Wel, so aan die einde van die week, sowel as ʼn traumatiese jaar, ʼn mens kan seker nie die kans laat verbyglip om te hoop dat dit nie ook neusie verby is met die moderne Griekeland en Italië se ekonomieë nie. Dit lyk egter of die burgers van hierdie twee lande hulle neuse optrek vir bankiers se planne om uit die moeilikheid te bly. Landsburgers mag immers nie aan die neus rondgelei word nie. Ek hoop maar daar word oplossings gevind. Nie dat ek my neus in hulle sake wil steek nie, maar  globalisering kry die hele wêreld mos verkoue as Europa of Amerika nies.

Bookmark and Share

10 Kommentare op “Andries Bezuidenhout. Outentieke snuf in die antieke neus”

  1. Andries Bezuidenhout :

    Of is dit nou “neusprostesisse”? Wysneus?

  2. Willem :

    Neusproteste?

  3. Andries Bezuidenhout :

    Whahahaaaa! Wat moet die polisie dan met ‘n neusprotesteerder doen?

  4. Nick Bezuidenhout :

    Neusproesteses.

  5. Andries Bezuidenhout :

    Tydens die ikonoklasme was daar natuurlik ook neusprotestante.

  6. Leon Retief :

    So in die handel en wandel word gepraat van prostese en prosteses, maar ‘n baie pedantiese ou omie het my eenkeer vertel dis glo eintlik protese. Ek het nog nooit enigiemand behalwe hy daardie woord hoor gebruik nie.

  7. Andries Bezuidenhout :

    Leon, ek hoor jou. Ons moet dalk plek maak vir ‘n oorprotese. Aan die onderkant van die foto hier bo steek daar juis ‘n paar van hulle uit!

  8. Wysneus :

    Valsneus. Lyk glo maar aangeplak. Terloops, seker die mees steurende beeld wat ek nog gesien het is van ‘n WWI veteraan sonder sy valsneus.

  9. Andries Bezuidenhout :

    Wysneus, jy’s goed met kabaret. Laat mens skuldig voel omdat jy vir die mensdom lag.

  10. Wysneus :

    Andries, ek sal jou later komplimenteer op jou stedelike landskappe maar nie nou nie. Anders lyk dit na tit vir twat.

    Die regte woord vir valsneuse is toe blykbaar prosneuses.

  •