Pieter Odendaal. Oor anti-biblioteke, Tumi en Bittereinder

En daar sien 2011 toe ook sy gat. Die hoeveelheid ongeleesde boeke op my boekrak het eksponensieel toegeneem hierdie jaar, te danke aan die feit dat ek vir die eerste keer in my lewe ’n vaste salaris verdien. Dis soms moeilik om tussen kos en boeke te kies, veral as daardie keuse in ’n boekwinkel gemaak word. (Ek maak die pap ’n bietjie dik hier aan, Ma, moenie worry nie.) Ek vermoed ook ek het hierdie jaar die onomkeerbare punt verbygesteek waar die hoeveelheid boeke wat ek besit altyd meer sal wees as die hoeveelheid boeke wat ek al gelees het. Ek het nou amptelik met my anti-biblioteek begin, soos Umberto Eco dit sou stel.

Ten spyte van die feit dat my nuwe B.Sc.-graad en my werk by SLiPnet my soms na waters-waar-daar-rus-is laat smag het, was hierdie jaar ook ’n jaar van ontdekkings. Die enigste jaar wat by 2011 kan kers vashou wat betref die uitdy van horisonne, is sekerlik die jaar toe ek taal begin gebruik het om my wêreld te verbeel. Ek is vanjaar Tanzanië en Zanzibar toe, ek het my eerste joernaalartikel gepubliseer, ek het geleer hoe Dolly gekloon is, hoe neurone met mekaar chat, hoekom ons ore skulpvormig is en hoe plante die son eet en suiker uitspoeg.

Een van die lekkerste verrassings van 2011 was egter my reis deur die landskap van Suid-Afrikaanse rap. Ek het grootgeword met Liszt, Rachmaninoff en Beethoven in my ore, so ek is lugtig vir populêre musiek (dikwels tot my eie nadeel – veral as my onkunde lelik kop uitsteek in gesprekke met vriende). Alhoewel ek steeds bra min van rap af weet, het twee emcees my kiertsregop laat sit vanjaar, naamlik Tumi Molekane van Tumi and the Volume en Jaco van der Merwe van Bittereinder.

Tumi and the Volume

Tumi and the Volume

Tumi Molekane is in Tanzanië gebore, maar hy en sy gesin het in 1992 Soweto toe getrek om hier ‘n rusplek te vind. Sy lirieke is meerduidig, vars en vlymskerp en die musikante wat hom ondersteun is almal maestro’s in eie reg: Paulo Chibanga klap die dromme dat jy nie weet waar sy lyf ophou en die klank begin nie, Dave Bergmann sing met sy baskitaar en Tiago C Paulo en Kyla Rose Smith (van Freshlyground) verf onderskeidelik op die elektriese kitaar en viool. Daar is min goed so lekker as om ’n nuwe klankprojek te ontdek wat jou nekhare laat rys:

76
Tumi Molekane

It was 76, the street blew in ebony mist
I’m treading it swift, and running past where Hector got hit
Bullets rang, several kids ran, better not flinch I catch a glimpse
Of this bastard running past us with a gas mask

Chucking teargas cans that hit you like anthrax
I carry a brick load of black wrapped in my stats
Hit him with the slab, he drops his rifle and flashlight
Walk towards him, he’s bleeding, my face hardens

Grab his gun, as the crowd’s overlooking, take it from him
The place is humming, this mother is going to pay for something
For chasing and gunning, and making martyrs out of young ones
We stare for a while with murder in our eyes

If he’s never seen it before, then he heard it in our cries
I drift to a time when we was in a line
My only dad was a prison visitor, bird caged in its prime,
Pain ancient as time, like shells aimed at your spine

My soul, waiting to find mercy
Wait, but am I worthy?
Hate can divide early. Based on divine birds, we
Chased to find where’s we supposed to be
‘Cause the last days are close to we
Eyes wide close to see

Past the smoke scenery, I drift back to see him bleed
Cocked the rifle, shot him, to silence his misery
Crowd dispersed after the gun powder burst
Life escapes him, I’m well alive
But I still got it worse

Gun my ook die geleentheid om Bittereinder se beuel so ’n bietjie te blaas. Louis Esterhuizen praat hoeka nou die dag oor die heersende “cult of mediocrity” en hoe min oases daar in hierdie woestyntyd is. Wel, daar’s ’n nuwe groenigheid op die horison te bespeur en hulle naam is Bittereinder. Die emcee, Jaco van der Merwe, het eers as Ajax in Pretoria se onderwêreld verse in Engels gespit, maar na ’n soort Damaskus-ervaring het hy besef dat hy nie sommerso sy rug op die taal waarin hy droom kan draai nie. Die gevolg was Bittereinder: Peach van Pletzen is in beheer van die perkussie (Peach het ook al saam met Tumi gewerk, terloops) en Louis Minnaar is die band se visuele maestro (hy sing ook hier en daar saam op Bittereinder se debuut-CD, ‘n Ware Verhaal). Gaan kyk gerus na die groep se webblad: www.bittereinder.com.

Bittereinder - Jaco van der Merwe is links bo in die hoek

Bittereinder - Jaco van der Merwe verskyn links bo en ek dink dis sy naeltjie wat onbeskaamd in die hoekie pryk.

Op grond van my beperkte luisterwydte verteenwoordig Bittereinder, saam met Jitsvinger, die beste rap wat Afrikaans myns insiens tans bied. (Hou egter jou ore oop vir Rimestein – ’n woordmeester van Mitchell’s Plein wat in gedigte praat.) Van der Merwe se lirieke – hy noem dit rympies – is soepel en sterk verhalend en ten spyte van die Engelse sintaksis wat hier en daar sy kop uitsteek, is die rymkeuses verfrissend. Sy verse getuig ook van ’n uiters sensitiewe oor wat die natuurlike ritmes en klankeffekte van gesprekstaal amplifiseer en omdig tot lirieke. Op ’n tematiese vlak klink Bittereinder se woorde na ‘n minder anarchistiese weergawe van Fokofpolisiekar. Jaco is ’n Hunter Kennedy wat minder skree en meer luister – hy’s een van die min Afrikaanse kunstenaars wat op ’n deernisvolle en ingeligte wyse omgaan met die kwessie van Afrikaanswees in hierdie droë, wit seisoen. Gaan luister gerus na “Penwor(s)tel” om te hoor wat ek bedoel. Een van my gunstelinge is “Die waarskuwing” – ’n allegorie met verskeie interpretasiemoontlikhede:

Die waarskuwing
Jaco van der Merwe

na die tyd was daar mense wat gesê het dat hulle dit verwag het
hulle was nog kwaad en bitter oor al die mense wat vir hulle gelag het
maar selfs ’n doemprofeet kon hierdie skade nie voorspel nie
die hele aarde aan die brand soos ’n voorsmaak van hel, die
vuur was onblusbaar, kontinente uitgewis
en mens moes mettertyd mooi soek vir tekens van die oorlewendes
asemhaal was onmoontlik tussen die vlamme van vertering
elke woud was vernietig, elke stad verwoes vir ewig
hele spesies het verdwyn in die eerste paar minute
die greep van die vuur het orals uitgesprei soos ’n siekte
in die verte was ’n berg met sy skouers in die wolke
en die mensdom se oorblyfsels mik toe daarvoor in die donker
tussen die hittegolwe en die vlaktes van verwoesting
drom hulle toe saam soos miertjies uit elke rigting
en vind verligting teen die kranse en die skadu’s van die laaste berg
en vir die eerste keer besef hulle wat oorlewing hulle gaan verg

en hulle klim toe al hoe hoër om skoner suurstof te vind
uiteindelik op die bergpiek gewaar hulle ’n vreemde Adamskind
wat alleen in die wind staan en oor die brandende aarde gluur
hy dra ’n lang donker jas en in sy oë weerkaats die vuur
“hy’s een van daai vreemdes!” roep ’n stem uit die skare
en met agterdogtige gedagtes begin hulle om hom vergader
“wat weet jy van die vuur?” begin hulle soos een stem fluister
“wat maak jou soort hier? ons dink dis tyd dat jy vir ons luister
jy was nog nooit regtig welkom nie, jy en jou vreemdelingmense
ons vermoed nog altyd julle’t vir ons net die donkerste wense”
en waarlik, net soos die lus vir wraak ondraagbaar raak
sien hulle die bewys wat van alles net ’n warrelwind maak:
in sy regterhand hou die vreemdeling ‘n vuurhoutjie wat nog rook
en in ’n woedende massa skreeu hulle saam soos ’n doodskoor:

ons het probeer om jou te waarsku

die sirkel word al stywer soos die massa saamdrom
en hulle dors vir bloed raak net dieper hoe nader hulle aan hom kom
maar skielik maak die vreemde man sy mond oop en begin praat
en soos die oog van ’n storm is dit asof alles net stil raak
en die woorde van sy storie weergalm die verte in
en die kalmte in sy stem vertel van lig en oorbegin
hy vertel hoe hy en sy mense nog altyd geweet het van die vuur
en hoe hulle vir jare probeer het om ons te help en om ons te waarsku
hy vertel van klein dorpies waar hulle hom in die modder gesleep het
en in die kroeë van die stede waar hulle hom met bierbottels gebreek het
en hoe niemand wou luister nie, en hy in die nagte net kon huil
en hoe hy vir een meisie in ’n eetplek gesê het hy sou plekke met haar ruil
en sy’t hom aangeval voor almal en met haar vurk hom oopgesteek
en in haar oë het hy skielik verstaan hy sou ’n ander plan moes kweek
hy en sy mense het toe vergader en na hierdie selfde berg kom kyk
dit het vir hulle begin om soos die enigste oplossing te lyk

en ons almal wat nou hier staan is die vrugte van daai plan
hulle’t ’n kring van vuur begin met die vuurhoutjie in sy hand
en op die manier die vuur geblus in ’n sirkel wat kon terugveg
’n kring van vuur wat soos ’n muur staan met sy arms om die berg
en net soos ons besef wat die vreemdes vir ons gegee het
sien ons skaduwees in die wolke waarmee die berg hom beklee het
en die vreemdeling begin self om in die lug op te dryf
en soos hy styg hoor ons stemme wat ons troos en ook dreig
en hulle sing nou ’n lied wat ons herken in ’n oomblik
en ons harte begin skud soos die woorde ons oopruk:

ons het probeer om jou te waarsku

Bookmark and Share

Een Kommentaar op “Pieter Odendaal. Oor anti-biblioteke, Tumi en Bittereinder”

  1. Desmond Painter :

    Uit Borges:

    […]
    Among the books in my library (I am looking at them)
    There are ones I’ll never open again.
    This summer I’ll be fifty years old:
    Death invades me, constantly.