René Bohnen. Ou tydskrifte en jong mense

ʼn Boek of ʼn tydskrif wat verban is, het my nog altyd bekoor. In my studentedae het ons die Staffrider-uitgawes maar goed versteek, want ons universiteit het nagegaan wie is moontlike leesoortreders. Komende van Natal, is ek sommer op dag een al gemerk as “ligpienk”. Nogal ironies, want ek was en is polities taamlik onopgevoed en ek handhaaf maar my eie klein waarhede met vreeslike basiese beginsels.

Nogtans het daar vir my ‘n persoonlike romantiek ontstaan rondom verbode tekste, verbode woorde en verbode mense. In my Honneursjaar kon ek “South African Literature” kies as een van my modules en hierdie keuse het gelei tot my eerste klein werkie by die universiteit. Ek moes navorsing doen oor “African writers in English” en skielik het ʼn hele nuwe wêreld vir my oopgegaan. Dit het, benewens interessante tekste, ook interessante oomblikke tot gevolg gehad. Polisiehonde moes my deursnuffel (ek in my pienk hempie en sandale, die ene skoongeskropte 21-jaar oud) voordat ek iewers in ʼn biblioteek se agterkamers toegesluit is met verbode tekste sodat ek ʼn bibliografie kan aanmekaarsit. Twee dae se besoek aan rooigrond Kimerbeley se museums, nogmaals toegesluit agter ʼn draadhek waar iemand my dophou en ek moet klop as ek badkamer toe wil gaan (ek is darem vrygelaat vir middagete). Daar is nog baie sulke stories. Myne is vaal teenoor sommige ander mense s’n.

Maar gister spoel hierdie herinneringe soos branders oor my toe ek ʼn tydskrif op die supermarkrak sien. Drum is 60 jaar oud. (Lees hier: www.drum.co.za) Ek moes dit net dadelik koop en met ʼn lukrake oopblaai kry ek Can Themba. Hy is dood toe ek nog op laerskool was en is nog ʼn skrywer waarvan ek in my skooljare nie geleer het nie. Saam met Oswald Mtshali, Dennis Brutus, Es’kia Mphahlele en sovele ander het sy gesig egter telkens opgeduik in die verbode literatuur wat ek nageslaan het. Verlede week was hier in my geweste ʼn photowalk na wat destyds Sophiatown was. Jazz en ikoniese foto’s sal vir my altyd die assosiasie wees met die era van ʼn plek wat ek nooit beleef het nie. Sophiatown lyk vandag heel anders – maar ook dit is ʼn storie vir ʼn ander geleentheid. In die verjaarsdaguitgawe van Drum is die mooiste foto’s uit die “goue jare, jazz en jive, Dolly Radebe en Miriam Makeba.

Daar is ook politiek en Biko,  modes en sport.

Kyk gerus na die tydskrif, die uitleg is lieflik en die nostalgiese reis ʼn plesier. Boonop gee vandag se perspektief ʼn mens allerhande nuwe invalshoeke op jou eie jeug.

Hoe ver het ons gekom. Hoe ver het ons nog om te gaan.

Ter wille van my eie nostalgie en jeugprovinsie, en ter wille van ironie, een van die gedigte wat ek destyds in stowwerige rooigrondkamertjies moes lees. Baie van my boeke is nog in bokse, ek weet nie of ek die hele gedig reg onthou nie :

Sounds of a Cowhide Drum

Boom!  Boom!  Boom!
I am the drum on your dormant soul,
cut from the black hide of a sacrificial cow.

I am the spirit of your ancestors,
habitant in hallowed huts,
eager to protect,
forever vigilant.

Let me tell you of your precious heritage,
of your glorious past trampled by the conqueror,
destroyed by the zeal of a missionary.

I lay bare facts for scrutiny
by your searching mind, all declarations and dogmas.

Boom!  Boom!  Boom!
that is the sound of a cowhide drum
the voice of Mother Africa

(Oswald Mtshali)

Bookmark and Share

2 Kommentare op “René Bohnen. Ou tydskrifte en jong mense”

  1. Everline van Dyk :

    Het die nostalgiese stuk geniet, René!

  2. Rene Bohnen :

    Dankie Everline, ek is steeds verdiep in die ou swart en wit foto’s.

  •