Andries Bezuidenhout. Cine Afrique

Ek het vanoggend die laaste werk aan ʼn volgende landskapskildery gedoen. Ek dink dis nou klaar. Terwyl ek daaraan gewerk het, het ek aan Breyten Breytenbach se gedig oor Bagamoyo gedink, asook aan Johann Lodewyk Marais se gedigte oor Oos-Afrika. Dan is daar natuurlik Pieter Odendaal se onlangse blogs oor sy besoek aan Zanzibar. As model het ek ʼn foto deur Irma du Plessis van ʼn art deco-filmteater in Zanzibar gebruik. Die teater se naam is Cine Afrique. Ek hou veral van die vrou in haar bui-bui, wat agterop die poegie sit. Heel statig. Ek het lank gesukkel om haar reg te kry – liggaamshouding en gesiguitdrukking. Ek voltooi skilderye met baie minder wroeging as gedigte.

Bookmark and Share

5 Kommentare op “Andries Bezuidenhout. Cine Afrique”

  1. Breyten Breytenbach :

    Hoe groot is hierdie skilderye, Andries? En waar op aarde kry jy die energie en die tyd om so veelskeppend te wees? (En sulke mooi dinge – tekste, foto’s, skilderye, lirieke, musiek – te maak?) Jy moet vir seker ‘n spannetjie wyse en werklik anargistiese kabouters hê wat jou help.
    Die interessante is dat kunstenaars in hierdie geweste (Wes-Afrika) self byna nooit ‘n landskap ‘sien’ of probeer vaslê soos in, sê nou maar gerieflikheidshalwe, die ‘Westerse’ tradisie nie.
    Jy moet dat jou universiteit of iemand jou borg om hier op Gorée-eiland te kom bly vir ‘n tyd en hiervandaan die omliggende streke deurkruis (a, die baobabwoude van die halfwoestyn binnelands, meer soos ou-ou gestaltes wat uitgedun vorentoe beweeg na die geskiedenislyn waar werklikheid en vertelling vervloei), en kennis maak met die ‘sous-verres’ of ‘fixés’ (skilderye agter glas, óp die glas self, gloeiend en vreemd diep) waar daar wel allerlei landskappe en geboue en figure voorkom.

  2. Desmond Painter :

    Ek hou regtig baie hiervan, Andries. En ek kan ook nie verstaan hoe jy dit regkry nie — jy’t ‘n voltydse werk en dan doen jy al hierdie ander goed ook!! Ek kry dit skaars reg om my werk ordentlik te doen en nou en dan te blog… Daar word hoeka in my nek geblaas oor tesisse wat ek nog moet nasien, so hier hardloop ek weer!

  3. Andries Bezuidenhout :

    Breyten, baie dankie vir jou kommentaar. Dis seker ‘n bietjie outyds om landskappe te verf, maar dis goed vir my kop. Ek hou baie van Walter Meyer se werk. Ook Moses Tladi. Dalk is dit omdat om landskappe te verf so gediskrediteer is dat ek so daarvan hou – ek kyk maar soos ek kyk. Hierdie een is 74X50 cm. Ek sal WAT wou gee om met esel en palet in Wes-Afrika te reis. Maar ek weet nie of daar beurse vir sosioloë is om te verf nie! Dis die ding van Jack of all trades. Daar’s juis ‘n winkel met die naam Jack’s Paint wat gedurig vir my sms’e stuur.
    Desmond, ek het nie ‘n TV nie, so ek hou aande oop vir nie-akademiese werk. Op die oomblik is ek op vakansie, so daar’s selfs meer tyd vir verf. Omdat olieverf so lank vat om droog te word, werk ek meestal aan ‘n paar doeke op ‘n slag. (Hoop ons kan jou iewers in Desember te sien kry. Irma wil raad vra oor iets.)

  4. Desmond Painter :

    Andries, ek het ‘n TV en (ongelukkig) internet-toegang by die huis. Euwels! Jammer ek het julle gemis toe julle in die Kaap was; die laaste weke was erg besig. Laat maar net weet wanneer julle weer hier is (weet nie of ek voor maart weer Pretoria toe gaan nie.)
    PS. Wat Wes-Afrika betref, jy hoef mos niks oor die esels te s^e nie. Jy kan geborg word om hoofstukke of artikels te gaan skryf. Kry NNS-gradering, jy kan hulle geld vir enigiets wat met “navorsing” verband hou gebruik.

  5. Aangrypend. So ‘n skildery laat ‘n mens (of my dan) opnuut besef hóé lief jy Afrika het.

  •