Andries Bezuidenhout. Die populierboom as sonnet

Ek is seker die meeste digters, veral diegene van ons wat die “vrye vers” beoefen, het iewers in ʼn laai of lêer ʼn sonnet – skelmpies weggebêre – net om aan onsself te bewys ons kán. Vir ʼn digter om ʼn sonnet te kan skryf is soos vir ʼn Suid-Afrikaanse landskapskilder om ʼn populierboom te kan verf. Dis iets wat jy moet kan baasraak, al is dat dan net om aan te beweeg koorsbome of wildevye toe. Die populierboom is dus die landskapskilder se sonnet (Die bloekomboom is waarskynlik ekwivalent aan die villanelle – oor inheems en uitheems wil ek nou niks sê nie). As jy Vrystaatse populierbome in die herfs kan skilder is jy regtig goed, behalwe dat dit nou al gedoen is.

Ek soek al lank vir ʼn populierboom om aan te durf. Verlede Saterdag vind ek dit toe by ʼn nedersetting genaamd Onverwacht, naby Cullinan. Die boom staan so op sy eie, langs ʼn kerkgeboutjie. Dis die Lutherse Kerk, vertel ʼn man in ʼn Sondagpak my. Hy woon in die huis langs die kerk. Ek wil hom en sy huis ook afneem, maar wil nie sy privaatheid skend nie. Ek neem foto’s van die kerk en die boom vanuit verskillende hoeke, kan nie wag om by die huis te kom nie. Ek het my populier!

Soms wonder ek of dit nie die moeite werd sal wees om ʼn reeks Suid-Afrikaanse olieverf te vervaardig nie. Daar word wel olieverf plaaslik vervaardig (in Kaapstad, dink ek), maar ek bedoel ʼn reeks eg Suid-Afrikaanse kleure. Dit sal ʼn mens se werk soveel makliker maak, maar seker ʼn bietjie verveliger ook. Ek kan aan ʼn paar sulke kleure dink:

– Sinkdakrooi (met ʼn roesbruin om daarmee saam te gaan)
– Sandsteenoker (met ʼn tint vir as die son daarop skyn)
– Rooigrondrooi (wat ʼn mens in die ou Transvaal aantref)
– Mynhoopgeel (geen verklaring benodig)
– Koolstoofrookgrys (bo Standerton in die winter)
– Ho
ë
veldlugblou (baie moeilik om te meng)
– Kaapstadskemerbesoedelinggrys (alhoewel ek nie weet hoeveel mense dit sal gebruik nie)
– Bloekomboomgroen (dis my volgende uitdaging – ek soek een langs ʼn mynhoop)

Skildery: “Lutherse Kerk, Onverwacht”, olie op doek, 45 X 35 cm

Bookmark and Share

13 Kommentare op “Andries Bezuidenhout. Die populierboom as sonnet”

  1. Wysneus :

    Hoëveldveldblond, hoëveldlugblou… dis al.

    Apiesdoringroom
    Vaaldriehoekvaal

    Wat is die kleur van doodgerypte koekoejoe?

  2. marguerite v :

    Vrystaatveldgeel, onmoontlik om te meng, want dis terselfdertyd meer wit as geel, en dan moet jy nog die stof ook in ag neem.
    Die enigste manier wat vir my werk om die oneindigende kleur variasies van SA se landskap te reg te kry, is layer, layer, layer…

    Well done met die populier, mens kan amper die wind deur die blare hoor ruis.

  3. Andries Bezuidenhout :

    Wysneus, doodgerypte kikoejoe laat my aan my oupa en ouma se huis in Van Riebeeckstraat in Pretoria-Noord dink. Die kleur van groenbone met uie, fyn aartappel (vir tekstuur) en baie wit peper. (Dit kan in die stillewereeks kom.)
    Marguerite, ek was gisteraand by die opening van Andries Gouws se uitstalling – by Pretoria se kunsmuseum. Daar’s nou iemand wat kan layer, layer, layer. Vir jare lank. Werklik besonders.
    Ek wil binnekort ‘n Vrystaatse landskap aanpak. Daar’s een met ‘n lug vol helder wolke en Vrystaatveldgeel onder. Ek dink ek kom klop sommer vir lesse aan!

  4. Andries Bezuidenhout :

    Op die tema van kleure – ʼn tong-in-die-kies gedig:

    Hoe ʼn Piet-my-vrou daar uitsien
    moes ek seker teen dié tyd wis.
    Ondigterlik, tot my skande, weet ek nie eers
    watter kleur of skakering om voor uit te kyk nie –
    nie teen vaal doringkoppies of staatsdienswolke nie.

    “Liefling, ek stuur vir jou ʼn Piet-my-vrou”?
    Klink net nie reg nie. Nietemin,
    vandat ek kan onthou hoor ek: Piet-my-vrou,
    maar nog nooit een op heterdaad kon betrap nie –
    nie langs vervlugtende goudvisdam of swembad nie.

    Is daar ʼn verskil in veer of predisposisie
    tussen mannetjie en vroutjie Piet-my-vrou?
    Of is dit nou Piete-my-vrou? Twee Piete vir ʼn stuiwer.
    Waar sou ek sout kon strooi om stertvere te inspekteer –
    op varsgekapte grasperke of in plombagoheinings?

    Piet-my-vrou, Johann Lodewyk Marais het jou
    seker al van snawel tot vlerkpunt beskryf.
    Het jy ʼn kuif, dalk die frok van ʼn wulpse transvestiet?
    Is daar subspesies aan jou stamboom,
    vertakkings wat anders gebek-en-klou is –

    die gewone-grou-Piet-my-vrou,
    die rare-blou-gespikkelde-Piet-my-vrou,
    die gestol-in-verwikkelde-vaart-Piet-my-vrou,
    die teen-die-skemer-gespykerde-Piet-my-vrou,
    die oostelike-voorstede-met-bakkie-Piet-my-vrou?

    Meld aan, Piet-my-vrou, as voorbeeld van jou spesie –
    hoekom jou geheimsinnig agter koorsboombosse hou?
    As jy nie oppas nie Google ek jou.

  5. adriaan coetzee :

    Gedurende die lente kan jy pienk krimpvarkies van rooipluim se infloressensies maak. In die herfs dra rooiherfsgras ystervarkpenne en assegaaigras knoop hulle skaamhare.

  6. Rene Bohnen :

    Wie het nou rawe en kraaie nodig.Met ‘n naam soos cuculus solitarius is die piet-my-vrou dalk Afrikaanse emo voe”l. Boonop is hy geklee in rookgrys, swart en oranje. Die strepies herinner aan daardie “oulike” feetjies in winkelversnters: die ene spits ore en gestreepte kouse aan lang dun bene. Ek het ‘n hele lys verfkleure gesit en uitdink n.a.v. hierdie blog, Andries, dit was lekker. Hier is vir jou ‘n foto – sy nefie roep al die hele dag hier in die suburbs http://af.wikipedia.org/wiki/L%C3%AAer:Red-chested_Cuckoo_(Cuculus_solitarius)_in_tree_crop.jpg

  7. Rene Bohnen :

    *winkelvensters. Ai.

  8. Rene Bohnen :

    die skakel werk nie so lekker nie, hoor ek. Hier is ‘n ander een: http://www.biodiversityexplorer.org/birds/cuculidae/cuculus_solitarius.htm
    (ek hoop nie dis ek wat verkeerd plak nie)

  9. Andries Bezuidenhout :

    Dankie Rene. Daar’s toe nie blou of spikkels nie.

    Adriaan, jy laat my aan Moord Greeff dink, ‘n voormalige lid van die Brixton Moord & Roof Orkes wat nou in Kanada woon. ‘n Voorbeeld van sy liriek:

    Sewe maal sewe, voetpaadjies vol skewe stene
    ‘n Barmhartige dors in my gene
    ‘n Potsierlike pouveer in my oupa se hoed
    Die mooiste tieroog is steeds soek

    Op my tong is daar skimmel wat wag op die reën
    Ek suig reeds van vroegoggend aan brandewyn se speen
    Nog net ‘n paar teue van my brandewynglas
    Dan is daar ‘n woud waar die skimmel was

    Refrein:
    Sewe borrels goud in my brandewyn en coke
    Voel! My tong word stadig, grappig oud
    Hoor jy die ysblokkies roekeloos giggel
    Oor die swenkende gang van die druppel

    In my mond is daar ‘n oer-oue oerwoud
    Die put van my keel moet lei na riwwe van goud
    Maar daar is ‘n spelonk diep in my bors
    Wat reken op my barmhartige dors

    Sewe wewenaars swerf deur die woud
    Elke een op soek na die tieroog van goud
    Maar hoor hulle tussen die takke die mineur
    Waarop die spelonk in my bors resoneer

    Dis my bors wat verlang na jou asem
    Soos ‘n oergesteente wat wasem
    Jou weerklank is klip en wolk
    Geen plek daarvoor in my bors, die spelonk

  10. adriaan coetzee :

    Andries, my kennis van Afrikaanse musici en hulle lirieke sal seker as ietwat konserwatief beskou word. Tog, woorde soos: “…Dan is daar ‘n woud waar die skimmel was…” stem ‘n mens tot nadenke. Wat die veld betref, nou staan die ploegbrekers juis in volle blom as laaste verset teen die masjien. Ek verneem jy beweeg soms tussen die mynhope rond. Miskien moet jy ‘n Monet-agtige landskap van bloedrooi ploegbrekers in die voorgrond en mynhope daaragter oorweeg. Ek kan jou met die grootste liefde na so toneel neem. Of dalk wil jy lekkerbreke wat saad teen ‘n blokhuis doen?

  11. Andries Bezuidenhout :

    Adriaan, is jy die Adriaan Coetzee wat die gedig oor die Melville Poetry Festival geskryf het?

  12. Desmond Painter :

    Adriaan: “Wat die veld betref, nou staan die ploegbrekers juis in volle blom as laaste verset teen die masjien.” Jy maak my dag!

  13. adriaan coetzee :

    Ja Andries, ek paradeer soms my breinlobbe soos ‘n wafferse Saartjie Baartman in die sirkus. Ek wou nog altyd sekelnek loop op repies rooi tapyt deur ‘n see wit gemors tot die gordyn blou rook en alle state van delusie. (And sing rub-a-dub-dub during our extinction by habitual convenience.) Gelukkig kan ons drink en bestuur, die plan-eet is op automatic pilot. Al is dit nou net soutwater vir my en jou.

    Dankie Desmond, bly ons kon ‘n goeie dag deel. Ek weet egter nie hoe ver ons gaan kom met een teelepel skoonheid nie. Wanneer doen jy vir ons ‘n droedel oor die kopwatte agter die speelparkie?

  •