Goeie nuus is dat die nuwe weblog vir die Nederlands-Vlaamse letterkunde, Ooteoote, waarna Arnoud van Adrichem in die onlangse onderhoud verwys het, toe verlede week sy opwagting op die internet gemaak het. Volgens hul missie stel ooteoote die volgende as oogmerk: “Ooteoote, vernoemd naar Jan Hanlo’s legendarische klankgedicht, is een online informatieknooppunt, waar Nederlandse en Vlaamse auteurs berichten over literair nieuws en faits divers uit binnen- en buitenland […] Ooteoote wil dé literaire plek op internet zijn waar geschreven wordt met kennis van zaken, vanuit een oprechte nieuwsgierigheid en betrokkenheid met de wereld die zich uitstrekt voorbij het boek. Het plezier van de tekst zal daarbij steeds centraal staan.”
Die redaksie bestaan uit Arnoud van Adrichem, Joost Baars, Rozalie Hirs, Frank Keizer, Jan Pollet, Matthijs Ponte, Matthijs de Ridder en Jeroen van Rooij.
Reeds met genoemde onderhoud en die venynige gesprek wat tussen Van Adrichem, Chrétien Breukers, Jan Pollet en Martijn Benders opgevlam het, het dit geblyk dat die melk wat dié manne in mekaar se koffie skink, ‘n ietwat surerige klankie het. Tragies genoeg het dié geurtjie nou ten volle uitgebars nadat Jan Pollet, wat tot enkele maande gelede nog saam met Chrétien Breukers (en Ton van’t Hof) die weblog De Contrabas bedryf het, ‘n ope brief op Tzum geplaas het waarin hy die redes verskaf waarom hy “noch met De Contrabas noch met Chrétien Breukers geassocieerd (wens ) te worden.”
In hoofsaak kom dit daarop neer dat Breukers sy medewerker aangesê het om sy tasse te pak nadat Pollet ‘n stuk oor Ann Cotton op De Reactor, waarby Van Adrichem onder andere betrokke is, geplaas het. Volgens Pollet se skrywe was daar ook ander, meestal finansiële oorwegings rondom hul subsidie-aansoek en betaling vir sy bydraes, wat bygedra het tot die hakkerigheid tussen hulle. Nadat hy weg is by De Contrabas het Jan Pollet toe ‘n eie weblog begin onder sy eie naam, maar nou – enkele maande later – besluit om dié inisiatief prys te gee ten gunste van sy betrokkenheid by Ooteoote.
Op De Contrabas het Breukers nou sy reaksie op Jan Pollet se “ope brief” geplaas. Na hy Pollet se griefskrif punt vir punt hanteer het, som hy alles met die volgende opmerking op: “Pollet stelde zich een vervolgsituatie voor waarin hij wel betrokken was bij de website, maar niet meer zakelijk betrokken bij De Contrabas. Tegelijkertijd zocht Pollet toenadering tot andere websites. Dat is zijn goed recht, maar ik begon me toch af te vragen of zijn loyaliteit naar De Contrabas nog wel intact was.”
Nou ja, toe. So is dit dan. En meteens vind ek die tydsberekening rondom Van Adrichem se kritiek op die stand van die poësiekritiek in Nederland, die woedende gesprek op Versindaba na die onderhoud met hom oor dié aangeleentheid geplaas was, en nou Jan Pollet se “ope brief” op Tzum ten tye van Ooteoote se kubergeboorte ietwat verdag … Of wat praat ek nou?!
Nietemin, ook Gerrit Komrij, voormalige Dichter des Vaderlands, het klaarblyklik sy bedenkinge oor dié nuwe inisiatief van Van Adrichem en Pollet. Met sy kenmerkende eiesinnigheid het Komrij die volgende waarneming op FaceBook geplaas: “Poëziesite Ooteoote op Sinterklaasdag in de lucht. Allemaal briljante studiehoofden die oprecht de pest aan me hebben. Gesubsidieerd door het Fonds voor de Letteren, het Vlaams Letterenfonds en de Lira. Ik zal me weer uit eigen zak moeten verdedigen.”
Wat vir ons persoonlik egter teleurstellend is, is die feit dat daar van meet af aan ‘n besonder goeie band tussen Versindaba en De Contrabas bestaan het: nuusbrokkies, skakels en selfs meer formele “Nuusbriewe” was oor-en-weer uitgeruil. Skakeling was gemaklik en wedersyds stimulerend. En ja, selfs nadat Jan Pollet sy rekenaar uit De Contrabas se kantore verwyder het ten einde sy eie ding te doen, het die wedersyds voordelige skakeling voortgeduur met beide rolspelers.
‘n Mens kan derhalwe maar net hoop dat dié geskil mettertyd besleg sal word en dat al die inisiatiewe gesamentlik tot voordeel van hul indrukwekkende letterkunde (en digkuns) sal kan werk …
Vir jou leesplesier plaas ek Norman Cameron se toepaslike vers hieronder.
***
The Compassionate Fool
My enemy had bidden me as guest.
His table all set out with wine and cake,
His ordered chairs, he to beguile me dressed
So neatly, moved my pity for his sake.
I knew it was an ambush, but could not
Leave him to eat his cake up by himself
And put his unused glasses on the shelf.
I made pretence of falling in his plot,
And trembled when in his anxiety
He bared it too absurdly to my view.
And even as he stabbed me through and through
I pitied him for his small strategy.
(c) Norman Cameron