Vir baie mense is New York ‘n gunsteling wêreldstad. Persoonlik deel ek egter nie juis dié entoesiasme jeens ‘die stad wat nimmer slaap’ nie … Nou wil dit egter voorkom asof ek sal moet herbesin, aangesien ek nie net my skrede daarheen moet wend volgende jaar nie, maar ook omrede die New Yorkse verkeersdepartement pas met ‘n besonderse inisiatief vorendag gekom het: hulle het naamlik besluit om haikoes op alle padtekens vir voetgangers aan te bring.
Volgens die Department of Transportation (DOT) se kommissaris, Janette Sadik-Khan, is dié $25,000-uitgawe geregverdig aangesien hulle desperaat is om die hoë ongeluksyfer waarby voetgangers betrokke is, onder beheer te kry. Enersyds is die poëtiese verkeerstekens dus ‘n poging om die voetgangers se aandag te trek, maar andersyds is dit ook “to come up with some way to surprise people on the streets of New York,” aldus die berig wat in die New York Post verskyn het.
Maar nie almal deel Janette Sadik-Khan se entoesiasme nie. James Vacca, stadraadslid en voorsitter van die ‘Transportation Committee’ het hom soos volg hieroor uitgelaat: “I think most drivers would feel safer if DOT forgot about the haikus and fixed potholes within three days instead of 10.”
Ander besware is uiteraard geopper ten opsigte van die kostes hieraan verbonde. Volgens Sadik-Khan is die finansiering vir die haikoe-projek egter geneem vanuit die boetes wat aan dronkbestuurders opgelê is.
Sowel die padtekens as die haikoes is deur die East Village kunstenaar, John Morse, ontwerp en geskryf. Die tema van sy werk, het hy aan die New York Post gesê, “is to tell people to think about the fragility of your body. You’re just a human. You’re nothing against these cars […] Poetry underscores the harshness of this reality. That’s why it has this power.”
Hieronder volg twee van die haikoes wat ek opgespoor kon kry.
***
She walks in beauty
Like the Night. Maybe that’s why
Drivers can’t see her.
***
Cyclist writes screenplay
Plot features bike lane drama
How pedestrian.
Baie interessant, Louis. Dankie. Ek’s sooo nuuskierig oor NY, maar Istanbul was onlangs vir my ook iets totaal anders, byna sprokiesagtig. Vanweë Istanbul lees ek nou Marco Polo se reisverslag. Ervarings in vreemde stede laat die muse teen wil en dank ontwaak.
ultieme stad: ‘n labirint wat hemel toe reik, vir digters pegasus
& onder in die tonnels grom & stommel die minotaurus
Ek is bly jy het herbesin, Louis.
Louis ek verskil van jou. Ek dink NY is ‘n ongelooflike stad. Ek het nou onlangs om-die-aarde gereis en NY het my aangegryp.
New York as gedig
Akatalektiese stad,
jy is ‘n aksie-gedig,
veelstemmig met Greenwich Village
wat resoneer met Harlem,
‘n Hudson wat terugpraat met die East.
Stad van allusies en illusies,
jy laat jou nie maklik skandeer
óf verstaan nie. Op Lexington Avenue
begryp ek iets van jou leksikale veelheid:
in Central park staan ek vol onsekerhede
oor hoé om jou in ‘n vers op te som.
Skuilplek vir haweloses en magnate: Donald Trump
hou die blinkkant bo nes die Rockefeller met wapperende vlae.
Die World Trade tans herbou; ‘n aanval so getroef.
Maar jy val my telkens in die rede,
nes ek dink ek het jou onder die buigende knie.
Grimmig weet ek jy begryp Aposiopesis of ‘n weer-begin
as digterlike handgreep. Hierdie is my apostroof,
my groet aan jou: stad wat Auden tydelik huisves,
die grote Ginsberg se fantasieë versier
en Billy Collins laat kekkel en skater by kroegvoorlesings.
Vanaf die Brooklyn-brug kyk ek terug na jou:
ek neem afskeid vir ‘n vyfde, maar nie laaste keer.
Hartstad, dwingende stad, ingewikkelde stad,
my eerste elegieë het hier ontspruit;
ek sing vanaand die Westside-Blues.
Joan Hambidge
Heerlike vindingrykheid Louis,
Lekker dat jy dit raakgelees het.