René Bohnen. Gestolde likkewane

"my" likkewaan teen my huis se muur in Harties

Ek drink aarbeigegeurde water en dit reën hier by die see. Ek dink daaraan dat ek te min gedigte uit my kop uit ken. Eergister het ek stadig deur Meiringspoort gery, die son was helder. Daar was ʼn skilpad besig om oor die pad te loop en ek het na regs vir hom uitgeswenk, die motor agter my na links. Verder kon ek net hoop hy loop vinnig en veilig. Twee draaie verder sien ek die likkewaan langs die pad, pootjies amper op die teer. Hy was op en wakker, nek uitgerek, kyk die verkeer wat verbykom, wag om oor te skarrel – daarvan is ek seker. Dalk is likkewane ook al gewoond aan vakansieverkeer, ek weet nie. My kontak met likkewane is beperk. Maar spesiaal.

Hy was tien bakstene lank (is dit omtrent ʼn meter ern ʼn half?) en hy het my in 2001 besoek. Ek dink dit was ʼn Hy. Ses maande lank het hy in my plafon gewoon by Hartbeespoortdam. Soggens tienuur se kant het hy uitgekruip en vir ʼn uur of twee teen die huis se muur in die son gesit. Ek kon hom vir ure dophou, hoe daardie klein toontjies so klou aan growwe baksteen en die hele lyf se gewig dra. Hierdie likkewaan het naamloos gebly want hy was nie my troeteldier nie, hy moes wild bly. Tog het ek met hom gepraat, hom soms gevra om te bly sit sodat ek my kamera kan gaan haal. En dan het ek hom afgeneem. Sien hom op die foto hier bo. Ek het sy gesplete blou tong gesien flits, gesien dat sy oë my volg en ek het hom probeer verseker dat niemand in my erf hom sou vang nie.

Wanneer dit tyd was om oor die grasperk af te stap na die dam toe, het ek dan die honde in die huis toegemaak en “my” likkewaan waargeneem: hoe sy lyf beweeg wanneer hy stap, sy kort beentjies, die spoed waarteen hy kan omdraai as hy gevaar agter hom vermoed. Hy is vinnig. Ek het boeke oor hom gekoop, die gedrag en broeigewoontes bestudeer. En teen vieruur het ek weer die honde toegemaak, vir my wyn geskink en op die stoep gewag dat hy rustig oor die gras terugstap huis toe.

Ek sien sulke subjektiewe emosionele verbande in goeters, so dit was vir my opvallend en ook komies dat hy op die 4de Julie vir die laaste keer water toe gestap het en nie weer teruggekom het nie. Was die winter toe verby, het ek gewonder. Of was dit maar net tyd om weer onafhanklik te wees?

Snaaks genoeg vind ek my likkewaan simbolies terug in Julie 2011. Ek leer ʼn uitruilstudent van Sjina ken. As deel van haar opdraggedigte skryf sy ʼn haikoe. Sy noem haar reeks haikoes “Lost in translations”, deels omdat sy voel dat sy ook nie meer in Sjinees dink nie, sy is al so lank met Engels doenig. Deels omdat sy haar nie kan steur aan die Westerse indeling van 17 lettergrepe nie. Ek het haar nog nie gevra of ek haar haikoe hier kan plaas nie, dus verwys ek vireers net na haar as “Dee”. Sy het vandag teruggevlieg na haar familie, ek sal haar seker nie weer sien nie.

Wat beteken hierdie likkewaangedagtes vandag by die see? Ek weet nie. Dit het begin by die outjie in Meiringspoort. Soveel herinneringe aan mense en tye en dinge. Soveel afskeid. Hoeveel likkewaangedigte is daar in Afrikaans?

Hier is Dee se haikoe:

Always the same lizard

Lying in the sun

The shade cuts its tail

Bookmark and Share

3 Kommentare op “René Bohnen. Gestolde likkewane”

  1. Everline van Dyk :

    Hierdie een ook geniet, René! Daar’s altyd hierdie klein voorvalle, ervarings. Dinge wat mens na iewers, verby, terugneem.

  2. Rene Bohnen :

    Inderdaad, Everline. Gister hier in die natuurreservaat gestap, twee skilpaagjies gesien (natuurlik geen motors nie) baie akkedisse, koggelmanders, oral reptielgedigte wat skarrel.

  3. Rene Bohnen :

    tik altyd te vinnig. Skilpadjies.

  •