Philip de Vos. Die Huis wat verdwyn het

 

Vroegoggend op Kersdag bel Deon Knobel my: “Het jy gehoor? John Kannemeyer is dood.”
En onmiddellik daarna gaan soek ek deur my ou negatiewe na die foto’s ek destyds van Kannemeyer geneem het, want ek het goed en wel besef, môre kry ek alweer ’n telefoonoproep van Die Burger se kunsblad oor my foto’s van ’n bekende wat dood is. En hierdie keer spring ek hulle voor en stuur dit sommer self.
Toe plaas ek sommer terselfdertyd die foto van John op my Facebook-bladsy met die woorde: J.C. Kannemeyer1939 – 2011

En kort daarna gee die eerste mense alreeds kommentaar. En so gooi elkeen sy of haar stuiwer in die armbeurs, dié wat met bewondering praat en met twee siniese opmerkings van die kunstenaar Clare Menck.

En met die terugplaas van die negatiewe van John Kannemeyer in hulle lêer, kry ek ’n bladsy wat sê: Dicky en Marikie – 4 April 1976.

En skielik besef ek, dit is nie net ’n bekende, wat ek gefotografeer het, wat uit my lewe weg is nie, maar twee vriende saam met wie ek 35 jaar gelede besluit het om in die Volkswagen te klim en te gaan foto’s neem.

En ek onthou dié herfsdag nog goed: Ek was steeds in my dertigs en hulle twee seker in hulle twintigs. Ons was jonk. Ek het ’n kamera gehad. Marikie ’n sak vol kostuums. En Dicky ’n snorretjie en loshangende syhemp – ‘n Jack Sparrow van die laat 70’s.

Ons was in Kaapstad en op pad êrens heen; en het self nie geweet waarheen nie.

Oorkant die ingang tot Kirstenbosch was ’n klipkerkie met verlate grafstene en grys graspolle. Marikie met ’n lang rok en ’n somerhoed, het rondgedwaal en na die verslete naamskrifte op die grafte gekyk; toe haar hoed eenkant toe gegooi en agter ’n graf gaan kniel vir die eerste foto’s van die middag.

 

 

Toe reeds was daar vir my ’n soort vreemdheid wat ek nie kon plaas nie.

 

 

Met die Volkswagen, oor Constantianek al met die pad langs na Houtbaai toe.

Langs die pad – die mure van ’n verlate huis, sonder deure, sonder vensters. Takke lê in die kamers rond, maar daar was ’n ligtheid terwyl Marikie weereens vir foto’s poseer met haar somerhoed in haar hand.

 

 

Foto’s geneem, ry ons oor Chapmanspiek na Noordhoek se kant toe. Wit perde wei rustig eenkant langs die pad. Ons ken die pad nie, en ry sommer net. Die teerpad word ’n sinkplaat-grondpad. Daar is donker bome alkant en weereens ’n leë huis met ’n groot nommer 17 op die voordeur geverf. ’n Ou sofa sonder stoffeersel staan op die stoep. Planke hout lê rond en ’n malvaplant sukkel teen die ogiesdraad op.

 

 

Marikie knoop ’n tulband om haar kop. Die kolletjiesrok van die kerkhof en die murasie het nou plek gemaak vir ’n gewaad met allerhande blink borduursels om die moue en om die loshangende soom.

 

 

Die binnekant van die huis het ’n soort donkerte. Op ’n houtrak lê leë bottels en verroeste blikke. ’n Heuningkleur strook hang van die plafon met ’n leërskaar dooie vlieë wat in die klewerigheid vasgevang sit. En eenkant op die vloer: ’n speelkaart onderstebo.

Dicky poseer by die oop deur waar iemand met wit kryt Peter bly Peter geskryf het.

 

 

Marikie leun oor die kombuisdeur met ’n bakpoeierblik in die hand met Dicky wat die speelkaart bokant haar kop hou.

 

 

Eenkant by raamlose venster staan ’n lendelam tafel. En hier het Marikie weer vir my poseer.

 

 

Toe ek op Kersdag die negatiewe langs dié van John Kannemeyer opspoor was daardie vreemde dag amper vir my soos gister.

En toe kom ek ook skielik agter hoeveel duisende foto’s ek oor die jare afgeneem het, maar nooit afgedruk het. Van daardie middag, slegs twee of drie. Deesdae met digitale kameras is dit so maklik om jou foto’s op die rekenaarskerm te beskou. Toe kon ek alleen maar die swart en wit negatiewe teen ’n lig ophou, en my dan indink hoe dit as foto-afdruk sou lyk. Om elke liewe foto wat ek ooit geneem het, af te druk, was in elk geval gans onmoontlik.

Maar gister met die ontdek van die negatiewe, verlang ek na Dicky, verlang ek na Marikie; verlang ek na die dae toe ons nog almal jonk en vol lag was.

Dicky het ek maar slegs eenkeer die afgelope tien jaar gesien. Marikie seker 25 jaar gelede. Maar êrens in my telefoonboek was hulle name tussen baie ander.

En toe ek vir Dicky bel en van die foto’s vertel, vra hy my: “Onthou jy nog die huis wat verdwyn het?” En met die tot siens sê, vra hy my: “Wanneer sien ons mekaar weer?”

Daarna was dit Marikie se beurt. Toe ek destyds gehoor het dat sy nie meer in Johannesburg woon nie, maar weer in die Wes-Kaap, het ek gedink – wonderlik! ’n Vriendskap kan weer voortgesit word. Maar selfs nou – na al die jare in die Kaap, is sy steeds maar net ’n adres in my boekie.

Toe ek haar bel en van die foto’s vertel, vra sy my: “Onthou jy die huis wat verdwyn het?” En toe ek vra wanneer ons mekaar weer sien, sê sy dat sy my eendag sal bel as sy weer in stad toe kom.

En voor ek tot siens sê, vertel ek haar dat die foto’s wat ek van haar geneem het, deel van my foto-essay Die Reis geword het, en dat sy een van die Wyse Vroue in dié foto-reeks geword het. “’n Wyse vrou?” het sy oor die foon gevra, en ek kon ’n bietjie twyfel in haar stem gewaar.

’n Maand na die foto’s van 4 April 1976 het Karel Schoeman Kaapstad besoek en soos gewoonlik het ek hom weer rondkarwei, want hy dit tog reeds destyds al aan my gestel dat dit die enigste rede was waarom ons vriende is.

En ek het hom van Dicky en Marikie en van die huis vertel en voorgestel dat ons Noordhoek toe ry, en op pad kan ek sommer foto’s van hom ook neem.

En ja, op pad het ek wel ’n murasie ontdek, van wat seker eenkeer ’n kerkie moes gewees het en hier het ek vir Karel afgeneem in ’n leë saal met ’n gebreekte sambreel wat om een of ander onverklaarbare rede verflenterd eenkant gestaan het.

 

 

En later daarna in ’n eenkantkamertjie met ’n gat in die dak, en ’n deur met ’n yslike kraak.

 

 

Waarom ek juis destyds so gefassineer was met leë huise, en waarom ek mense daar wou afneem weet ek tot vandag toe nie, want ek het dit nog nooit ontleed nie, en wil ook nie weet waarom nie.

 

 

Na die foto’s in die leë kerkie het ek en Karel Noordhoek toe gery. Die teerpad het ’n sinkplaat-grondpad geword. Daar was donker bome alkant en by die draai waar nommer 17 ’n maand tevore gestaan het, was daar nou absoluut niks. Nie ’n enkele verlate baksteen nie, nie ’n verrotte plank nie – slegs lang gras waar ek ’n maand tevore vir Dicky en Marikie afgeneem het. “Die huis het verdwyn,” was al wat ek vir Karel daardie middag kon sê. “Die huis het verdwyn.” En dit is presies wat ek glo daar gebeur het.

En ek onthou nog goed hoe Dicky in later jare aan my gesê het: “Daardie dag was tog vreemd. Daar het jy my afgeneem by ’n deur wat sê: Peter bly Peter. Met wat later met my gebeur het, klink dit vir my soos ’n soort voorbode? Ek sal seker nooit weet nie.”

As ek nou daaraan dink, was dit tog ’n vreemde dag: Marikie wat kniel agter ’n grafsteen. Later Marikie met ’n speelkaart wat bokant haar kop gehou word. Destyds nog was ek gefassineer met die lees van kaarte en het selfs die Tarot bestudeer. Maar op ’n dag het ek besluit, dat ek nie daarmee wou voortgaan nie. Ek het gevoel dat hierdie gawe maar liewers weggebêre moes word.

Ja, tot gister, kon ek nie van die negatiewe uitmaak watter soort kaart dit was wat Dicky vasgehou het nie. Met die negatief teen die lig gehou, het ek eers gedink dit is die tien van Hartens, maar toe ek die negatief skandeer, merk ek dat dit eintlik die tien van Skoppens was.

Het dit enige betekenis gehad? Deesdae met die internet waar mens deur die druk van ’n knoppie alles kan uitvind, het ek getik: “What does the ten of Spades signify?” en hier is een van die antwoorde wat ek gekry het: “It could just mean that something is coming to an end.”

En skielik besef ek dat daar tog miskien iets waar kan wees: Drie vriendskappe van destyds het aan ’n einde gekom en bestaan nie meer soos dit destyds was nie. Drie persone het dié dag nes daardie vreemde huis op een of ander manier uit my lewe verdwyn: Dicky en Marikie en Karel Schoeman.

(Tik op hierdie skakel vir die foto-essay Die Reis met Marikie as een van die Wyse Vroue): 

 
 
 
 

 

Bookmark and Share

7 Kommentare op “Philip de Vos. Die Huis wat verdwyn het”

  1. Wonderlik, Philip. Wow. Pragtige foto’s.

  2. sarie berkhout :

    Absoluut fenomenale nostalgiese fotos!

  3. Wat ‘n wonderlike fees vir die oog! `heimwee’ (daardie onvertaalbare woord), eerder as nostalgie duidelik hierin.

  4. Lona Gericke :

    Jy bly maar ‘n geesgenoot! So geniet om te lees en te kyk. Wat ‘n lewe vol heerlike beelde en mooi gedagtes

  5. Magriet Stemmet :

    Baie dankie Philip. Die foto’s is buitengewoon mooi en stemmingsvol. Baie dankie dat jy dit met ons deel. Ek hoop daar verskyn nog meer soortgelyke foto’s en gedagtes op jou blog in die nuwe jaar. Beste wense.

  6. Danie Garner :

    Jislaaik. Soek na nog ou fotos! en stories.

  7. Anton Stoltz :

    Wat ‘n prentjiemooi terugreis na dinge en mense se dinge wat soveel invloed op ons lewens en loopbane gehad het.

  •