
Ek wil vandag kortliks verwys na twee intertekstuele verwysings uit die gedig “Mei-fees in Amsterdam” uit N.P. Van Wyk Louw se bundel Tristia.
Mei-fees in Amsterdam
Die Eerste Mei is wit en blou
en elke bloeisel sing
en elke burger het sy hond
hier in die park gebring
om onder hierdie Boland-lug
te akkie waar hy wil,
maar ék loop in my hart en sing:
my fees is Een April.
Ek vier dit vir die somberes
dié wat op geilheid teer
soos sober en getroude pare
na dubbelbeddens keer;
die Waarheid is ‘n ént oud:
óns woord dein en word stil;
my woord was nooit die waarheid nie;
my fees is Een April.
Ek vier dit dronker as die fees
van ‘Tristan’, ‘Lanseloot’! –
dié wat met kielie van hormone
kon instap in die dood.
Ons beste is nie wat wonders nie.
God het ‘n kodisil:
die dwases kan die wysstes word:
my fees is Een April.
Dít vier ek in ‘n koel, grys oog
wat donker word van wyn
my tande die is wit van melk
en melk is nuut en rein:
ek prys dié wat die saad se krag
bloot in gebed verspil
en sing-sing loop ek terug uit Mei:
my fees is Een April.
Intertekstuele verwysings in Tristia betrek ‘n geweldige wye veld, maar dit lyk asof die digter ‘n besondere voorkeur vir Klassieke en Middeleeuse tekste gehad het. Hierdie twee tydperke was, benewens hulle oorlogsverhale, ook bekend vir sommige van die mees aangrypende liefdesverhale in die wêreldliteratuur. Dit is opvallend na hoeveel van dié liefdesverhale eksplisiet en implisiet in “Tristia” verwys word. Die verwysings wat lesers waarskynlik die maklikste sal eien, is inspelings op die sonnette van Dante aan Beatrice, asook verwysings na Ovidius, wie se werk Tristia redelik bekend is. Ek dink byvoorbeeld aan strofe 27 van Groot Ode: “En moenie roep-roep langs die pad ooit sit: / – kyk julle hier: Waar is ‘n smart soos myne!”
Die liefde van Dante vir Beatrice was ‘n vergeefse liefde. As jong seun het Dante die agtjarige Beatrice op ‘n Mei-fees ontmoet en dadelik op haar verlief geraak. Nege jaar later het hy haar weer ontmoet, en steeds dieselfde gevoelens gekoester. In die loop van die volgende paar jaar dra hy verskeie sonette aan haar op. Wanneer sy sterf, dra hy ook sy magnum opus, die Goddelike Komedie aan haar op en laat haar selfs, in die Paradiso-insetsel, ‘n rol speel.

Die mees eksplisiete verwysing na twee Middeleeuse verhale vind ons egter in die gedig Mei-fees in Amsterdam: “Ek vier dit dronker as die fees / van ‘Tristan’, ‘Lanseloot’!” Die verhaal van Tristan en Isolde, sowel as die verhaal van Guinevere en Lanseloot, beide uit die Arthur-epos, handel oor vergeefse, verbode liefde.
Die aangrypende verhaal van Tristan en Isolde was deur die eeue die verhaal waarmee buite-egtelike minnaars hulleself geïdentifiseer het. Tristan, ‘n neef van koning Marke van Cornwall word gestuur om Marke se aanstaande bruid, Isolde, in Frankryk te gaan haal. Isolde se moeder beskik oor sterk genesende en ander kragte. Sy berei vir Marke en Isolde ‘n liefdesdrank voor wat sal verseker dat die ou koning en sy jong bruid mekaar tot die dood sal liefhê. Tydens die bootrit drink Tristan en Isolde die drankie omdat haar chaperone dink dit is wyn, en so word dié twee vir ewig in liefde aan mekaar gebind. Die huwelik tussen Marke en Isolde word voltrek, en Tristan en Isolde beleef maande van intense pyn, skuldgevoelens en verlange. Uiteindelik word hulle deur Marke saam betrap en van sy hof verban. Hulle swerf twee jaar lank in die woude van Moroi, maar uiteindelik smeek Tristan vir Marke om Isolde te vergewe en haar in ere te herstel. Marke willig in en die liefdespaartjie skei nou finaal. Tristan se verlange dryf hom eenmaal nog terug na Isolde in die vermomming van ‘n nar, Tantris. Die pyn van weersiens is egter soveel groter as die enkele oomblikke van geluk, dat Tristan besluit om nooit weer terug te keer nie en vestig hom in Frankryk. Hy trou met Isolde van die Wit Hand – sodat hy ten minste soms die naam van sy beminde vrou kan sê. Wanneer hy deur ‘n giftige pyl verwond word, laat smeek hy Isolde om hom met die towerkunste wat haar moeder aan haar oorgedra het, te genees. Hy gee sy dienaar opdrag dat indien Isolde inwillig en saamkom, ‘n wit seil gehys moet word. Indien Isolde egter weier, moet ‘n swart seil gehys word. Wanneer die skip met sy wit seil in sig kom, kondig sy jaloerse vrou aan: “Ek sien ‘n skip met swart seile”. Gebroke en verslae sterf Tristan. Wanneer Isolde die doodskamer betree, sterf ook sy aan ‘n gebroke hart.
Die verhaal van Guinevere en Lanseloot is eweneens een van verbode liefde. Guinevere, die beeldskone vrou van koning Arthur, raak in ‘n liefdesverhouding betrokke met een van Arthur se dapperste ridders, Lanseloot. Wat die situasie soveel pynliker maak, is dat Lanseloot deur Arthur as vriend en vertroueling gereken word. Wanneer Arthur die paartjie betrap, laat hy Lanseloot nie onmiddellik onthoof nie, maar spreek slegs sy bittere teleurstelling uit. Na ‘n tyd van afwesigheid van die hof, keer Lanseloot, gedryf deur sy onblusbare liefde vir Guinevere weer terug. Die verhouding word hervat en een verleentheid volg op die ander. Uiteindelik besluit Guinevere om die verhouding finaal te beëindig. Sy word ‘n non en gaan woon in ‘n klooster. Lanseloot keer die oppervlakkige lewe in Camelot die rug toe en jaag ‘n geestelike doel na: die verwerwing van die Heilige Graal.
Wat die tema van verlore en verbode liefde betref, staan die gedig Mei-fees in Amsterdam nie alleen in die bundel nie. Dit is opvallend hoeveel intertekste wat met verbode liefde verbind kan word, in “Tristia” voorkom. Dat die digter self in ‘n buite-egtelike verhouding betrokke was terwyl die bundel ontstaan het, is waarskynlik een van vele faktore wat aanleiding gegee het tot die keuse van dié spesifieke intertekste. Neem ‘n mens boonop in aanmerking dat Van Wyk Louw Mei-fees in Amsterdam saam met die digteres Sheila Cussons geskryf het (aldus F.I.J. Van Rensburg in sy Sewe Van Wyk Louw-studies, 1996), dring die ooreenkoms met die digter se persoonlike omstandighede hom as’t ware aan die leser op. Die Abélard-Héloïse-interteks en die digter se verwerking van die Heilige Theresa van Avilla-interteks – albei intertekste wat ook deur Sheila Cussons gedurende dieselfde tyd in haar poësie gebruik is – kan hierby gevoeg word (sien ook Helize Van Vuuren se artikel St. Teresa van Avila: sentrale figuur in die werk van Cussons en Van Wyk Louw Literator 10 November 1989).
Wat die Mei-fees betref, resoneer verskeie kodes uit die verhale van Tristan en Lanseloot duidelik in die gedig mee.
Van Vuuren (Tristia in Perspektief, 1989) voer, myns insiens verkeerdelik, aan dat dié gedig “met ekstatiese vreugde die herontwaking van erotiese liefde vier”. Haar redenasie skiet egter op twee punte tekort. Eerstens maak sy die stelling dat die digter die eerste April as begin van die lente vier. Sy verloor egter uit die oog dat 1 Mei eeuelank as lentedag in Europa gevier is en eers in die tweede helfte van die twintigste eeu “werkersdag” geword het. Verder is dit bekend dat 1 April wêreldwyd “April Fool’s Day” is – gekkedag! In die lig van dié gegewe sou ek eerder dink dat Mei-fees in Amsterdam sterk in die teken van ironie staan. Nie verniet word by herhaling in die bundel na die ironiese inslag van die lewe verwys en word dit spesifiek op die liefde van toepassing gemaak nie:
“Die hoog-geroemde liefde sal ook wel sy pad vind.
Ons het ten minste heelwat ironiese ruimte.” (Uit: Tristia III)
en:
“niemand tref dit móói met die heelal nie;
eintlik moet ons leer ironies lewe:
en: binne ironie nog liefde hou.” (Uit: Groot Ode)
In teenstelling met “elke burger wat hierdie Boland-lug” geniet, voel die spreker in die Mei-fees-gedig om een of ander rede dat hy ‘n gek is en kies hy gekkedag as sy persoonlike fees. Verskeie ironiese teenstellings tussen die lentefees op 1 Mei en die gekkefees wat die spreker “in (sy) hart” vier, word aan die orde gestel. Hy vier sy fees, nie in die vakansiestemming van 1 Mei nie, maar “vir die somberes (…) soos sober en getroude pare / na dubbelbeddens keer”. Die leuen wat gekkedag kenmerk, vind ons terug in ‘n frase soos “my woord was nooit die waarheid nie“; dus: “my fees is Een April“. Direk in aansluiting by die besef dat hy ‘n gek is, kom die verwysing na Tristan en Lanseloot. Die gek-wees het dus ooglopend te make met dié twee beroemde minnaars wat soos gekke ‘n onblusbare liefde vir ‘n verbode vrou gekoester het en dalk selfs met Tristan wat in die vermomming van ‘n nar na Isolde teruggekom het. Daarom: “Ek vier dit dronker as die fees / van ‘Tristan’, ‘Lanseloot’.” Dronkenskap as troos vir depressie lyk hier, as die algemene stemming van die gedig in aanmerking geneem word, na ‘n meer aanneemlike rede as dronkwees van blydskap. Ook die feit dat hy dit in ‘n “koel, grys oog” (volksnaam vir kroeg) vier “wat donker word van pyn”, ondersteun hierdie stelling. Die verwysing na die twee minnaars wat “met kielie van hormone / kon instap in die dood”, staan in ironiese kontras tot die slotstrofe waarin bewondering uitgespreek word vir die heiliges “wat die saad se krag / bloot in gebed verspil”. Laasgenoemde verwysing na ‘n geestelike dimensie hou verband met Lanseloot se wegkeer van Camelot en sy soeke na die Heilige Graal en Guinevere se onttrekking uit die wêreld. Dit bevat ook iets van die mottogedig, Voorspel 1950 waarin die spreker verklaar: “Miskien sal ek die wingerd prys / en nooit meer van hom drink” en warin hy ten slotte die wens uitspreek om “mens (te) wees én rein“, een van die spanningspole van doe topos liggaam-gees wat in die bundel as geheel baie sterk figureer. Die slotreëls van die Mei-fees: “en sing-sing loop ek trug uit Mei: / my fees is Een April” lyk, met inagneming van al bogenoemde dus eerder na ‘n stukkie skreiende ironie as na ekstatiese vreugde.
Hiermee het ek prober om één enkele aspek van ‘n baie gekompliseerde gedig ligweg aan te raak. Wat ek hierdeur probeer illustreer, is dat die ou, byna vergete tekste steeds verrykend op die digkuns kan inwerk in die vorm van sowel intertekstuele verwysings as herdigtings. Laat ons hoop dat jong digters hierdie tekste ter hand sal neem en nuwe lewe daarin sal blaas, want dat dit steeds relevant is in ‘n moderne samelewing, is seker – die mens het die afgelope eeue bitterweinig verander!
(Terloops, hierdie gedig met sy interessante intertekstuele verwysings waaraan ek hier nie naastenby reg kon laat geskied nie, behoort interessante stof vir ‘n honneursskripsie te wees.)
Marlies Taljard se opmerking oor die verskraling in studente/lesers se kennis van Middeleeuse literatuur is relevant. Dis waar dat Middeleeuse tekste se taalgebruik hul taamlik ontoeganklik maak vir eietydse lesers, maar dit is jammer dat studente klaarblyklik selde verwys word na die skat van (geannoteerde) Middeleeuse tekste wat in Nederlands (en enkele ook in Afrikaans) beskikbaar is – sekerlik in die meeste Suid-Afrikaanse universiteitsbiblioteke. In Nederland geniet Frits van Oostrom welverdiende lof vir sy bydrae om die studie van Middeleeuse tekste in Nederlands weer boeiend en toeganklik te maak; oor die afgelope dekade veral ook vir hoërskoolleerlinge. Die magie en rykdom van die Middeleeuse wêreld hou ‘n ongelooflike bekoring in. Om in Oktober 2011 die Nederlandse Koninklijke Bibliotheek se uitmuntende versameling Middeleeuse manskripte, handskrifte en kodekse te kon bekyk, was ‘n ongelooflike ervaring. Wie die storie van die “Donker Middeleeue” glo, laat hom/haar aan die neus rondlei.
… en dan natuurlik ook in jou eie oeuvre, Cas! Ja, aan Klassieke verwysings ontbreek dit die Afrikaanse poësie nie – dalk omdat dit d.m.v. goeie vertalings ook aan mense beskikbaar is wat nie Grieks en Latyn magtig is nie …?
Dankie vir jou kommentaar!
Van Wyl Louw moet natuurlik Van Wyk Louw wees. Jammer. Wyl het egter soveel rymmoontlikhede!
Marlies, ek het met groot plesier jou blog oor die Klassieke Middeleeuse tekste gelees, en die invloei daarvan in Van Wyk Louw se gedig, Mei-fees in Amsterdam. Dis ‘n boeiende en uitstekende blog. Jou siening van die 1 Mei aanwysing by Louw is geldig, en ook Johann de Lange se opmerking dat dit in kodetaal op 1 April dui. Dit maak die interpretasie moontlikhede van die ryk gedig net oneindig meer. In ‘n TV onderhoud met Elisabeth Eybers het sy opgemerk dat gedigte in ‘n tradisie wortelskiet. Ons kry voortreflike voorbeelde van Antieke tekste wat neerslag vind in eietydse gedigte by, om net enkele voorbeelde te noem, Van Wyl Louw (na wie jy self verwys), T.T. Cloete en Johann de Lange. Die Antieke omgewing open soveel opwindende digmoontlikhede.
Jy is natuurlik heeltemal reg, Johann. Baie dankie – ek herinner my dat ek dit lank gelede geweet het … maar dit is wat die poësie so onweerstaanbaar maak: dat een interpretasie nie ‘n ander uitskakel nie, maar dikwels juis aanvul en verryk!
Marlies, jou vertolking van die Meifees/1 April dilemma in bg. gedig is sekerlik ‘n interessante siening & verdien meer aandag.
Ek herroep dat Sheila in ‘n gesprek met my die refrein “my fees is Een April” identifiseer as ‘n private kode tussen haar & Louw & dat dit verwys na die datum waarop hulle verhouding begin het, 1 April 1950, hoewel Louw die gedig eers op 1 Mei geskryf het. Ek het hierdie inligting met Amanda Botha gekontroleer toe ek destyds ‘n blog oor Louw se verse aan Sheila in Tristia geskryf het.
Dit maak egter nie jou vertolking ongeldig nie. Louw was geslepe & vernuftig genoeg om die moontlikhede van die spel met die datums te besef & weldeeglik te ontgin.