Philip de Vos: Ons volksplanting (die ware verhaal)

 

 

 

Gister het ek weer in dose rondgekrap, en skielik was dit weer Maart 2002 – ’n Maand wat ek miskien liewers sou wou vergeet.

 Vir ’n hele paar jaar lank het Piet Grobler en ek ’n strokie op De Kat se agterblad gehad en daarna van 1999 tot 2002 in Insig. Elke maand het ek ’n strokiesteks van 28 reëls geskryf – altyd in rym, en daarna was ek dikwels verras om te sien hoeveel stoutighede die wonderlike illustreerder Piet Grobler by my stories bygevoeg het.

En toe gebeur dit – een middag word ons genooi vir middagete by ’n restaurant naby die Mouillepunt-vuurtoring en deel die redakteur van Insig ons mee dat die strokies nie meer sou verskyn nie. Die rede was dat my tekste te eenvormig geword het: te veel geslagsdele en te veel toilethumor.

Om een of ander rede het hierdie nuus my destyds baie onkant gevang met die besef dat my werk nie meer goed genoeg is nie. Omdat ek partykeer reken dat dit my kreatiwiteit is wat my aan die gang hou, was dit  die sneller vir ’n terugkerende depressie wat my vir ’n week in die hospitaal laat beland het – alhoewel ek dit destyds aan niemand behalwe Piet Grobler erken het nie.

 In ’n laaste desperate poging het ek ’n nuwe strokiesteks geskryf, hopende dat ek sou kon voortgaan, maar weer is ek meegedeel dat dit nie kon nie – dit was studentikoos, vol rassisme, afbrekend vir die vroulike geslag en daarby veels te lank – vier keer langer as enige strokiesteks wat ek ooit geskryf het.

 Gister ontdek ek weereens die teks waarvan ek so lankal al vergeet het. En ek lag vir my eie grappies; vergeet van die week in die hospitaal en besluit om dit pens en pootjies, net soos dit destyds geskryf is op my blog te sit.

 Piet het nooit ’n kans gehad om dit te illustreer nie, en nou het ek maar sommer ’n paar foto’s net vir die lekkerte bygevoeg:

  

 

1651 (DIE WARE VERHAAL VAN ONS VOLKSPLANTING)

 

Deel Een

DAAR KOM DIE ALIBABA

 

 Drie en ‘n halwe eeu gelede

was die Kaap reeds nes die hede

met kullery en vloekery

korrupsie en gekroekery.

 

 

Die V.O.C * sê: Dis ons plig

om daar ‘n halfwegpos te stig

min wetend dat die K.A.K. *

ook planne had vir Afrika.

Vir hulle klink dit goed en juis

die plek vir ‘n casino-huis.

‘n Jaar eer met die Dromedaris

vanuit Nederland gevaar is,

het die Alibaba-skip

vroeg reeds suidwaarts weggeglip

met Jan van Skeurbuik – kommandeur:

(‘n groot gekonstipeerde heer)

plus vroulief: Meraai Kwellery

bekend vir kla en skellery)

 

 

Daar was ook kêrels vol bravade:

veral neef Wolraad Marmelade

Ook J.B.* plus nog tagtig manne

met yslikgroot casino-planne.

 

*(1) Vereenigde Oost-Indische Compagnie

 *(2) Korrupte Amsterdamse Komplotters

*(3)Jan Blom – 17de eeuse digter ook bekend as B.B.

 

Deel Twee

WAAR OU TAFELBERG SE KOP …

 

Op die skip vol dobbeltafels

bak neef Wolraad koek en wafels.

En maak ou J.B. simpel rympies.

(Word iemand seesiek sê hy: “Sjympies!”)

 

 

‘n Berg net soos ‘n tafeltop

rys vroeg-Maart uit die see uit op

en gee Van Skeurbuik sewe suggies,

want hy sien reeds casino-liggies.

 

 

Meraaia moan slegs: “Wee, o wee!

Wie’s dié verwelkomskomitee?”

Sê Van Skeurbuik: “Dis die sotte

Gerrie plus sy Snottentotte

met spraakgewoontes bra onkies:

Na elke sin word daar genies!”

 

 

En J.B. val toe byna flou

toe hy ‘n fraaie vrou aanskou.

Sy was beboud dog goedbehoue,

en heet alleenlik Krakatoa.

Van Skeurbuik was gevul met hoop

toe Gerrie hom die Berg verkoop

in ruil vir twak plus koperdraad

(‘n kullery? Ja, inderdaad!)

En Wolraad koop summier ‘n donkie

van ‘n Snottentotteklonkie.

Bileam het hy geheet

(‘n naam om nimmer te vergeet.)

 

Deel Drie

BOLANDSE NOOIENTJIE

 

Dié nag is daar maar min geslaap,

want vreemde klanke vul die Kaap:

Leeugebrul dryf op die bries

gevolg deur Snottentot-genies.

Neef J.B. het maar min gerus.

Hy’t grote planne, ja gewis.

‘n Dobbelplek bo-op die berg.

Ja, daarin glo die ou glo erg.

Sy droom? ‘n Lang-lang foefieslaaid.

en neurie hy: Here Comes the Bride.

oor darie liewe vrou der vroue:

die groot van agter – Krakatoa.

Een dag weet hy die tyd was ryp

toe hy haar agterstewe knyp.

 

 

Sy nies ‘n nies en gil toe EINA!

Sê J.B. gou: “Dit rym met BYNA!”

Sug Skeurbuik toe: “Dis glad geen pret

en wragtag teen die Ontugwet!

Jy weet tog goed dis soort soek soort.

En elk moet bly waar hy behoort.”

Aldus is J.B. (arme man)

na Robbeneiland toe verban

waar hy vir jare skoon en rein was

net oor sy droomvrou glad te bruin was!

 

Deel Vier

BY DIE RUWE KAAP VAN STORME

 

Maar – gou vergeet die ander manne

van hul groot casinoplanne;

lê heeldag in die son en braai

gaai-omhoog by Sandy Baai.

 

 

En Wolraad M. sit aangeklam

en snoesig langs sy Bileam.

Die Snottentotte het geween.

Hul twak was op; hul berg was heen.

En Krakatoa proklameer:

“My man is weg. My hart is seer!”

Toe’t Gerrie skielik boos geraak:

“Nou neem ons Snottentotte wraak!”

Met enkelringe wat bly klingel

het hul die wittes snel omsingel.

Toe gee die spul een GROTE nies!

Van Skeurbuik sê: “Nee wragtag, sies!!”

 

 

Meraaia moan: “Ek raak skoon gek.

Als, ja áls is snot-bedek!”

En almal was gewis oorstelp,

want skielik sê die donkie: “Help!”

 

 

Die dag daarna seil almal weg.

Vol griep en voel hul blerrie sleg…

En toe – presies twaalf maande later,

kom Jan van Riebeeck oor die water

En dít is hoe ons volk geplant is

en hoekom ons nog steeds astrant is.

 

 

 

Bookmark and Share

9 Kommentare op “Philip de Vos: Ons volksplanting (die ware verhaal)”

  1. Phyllis Steyn :

    Skielik kry ek lekker omdat die ou pretensieuse jappie-Insig destyds gevou het, ek kan nie glo hulle het puik kunstenaars soos Philip de Vos en Piet Grobler so sleg behandel weens die tydskrif se patetiese politieke korrektheid nie.

  2. Christiana Groenewoud :

    Philip, as dit destyds in Insig gepubliseer was, kon ek dit nie vandag geniet nie!!! (En sou ek dit nooit eens gelees gekry het nie) ;-D – ‘n Mens kan ook te “PC” raak en die pot missit.

  3. Dit is briljant! Dankie dat jy dit met ons deel. Nie-Insig brigade.

    Groete
    Kobus Deysel

  4. Johann de Lange :

    Almal wat vir die pers werk, kry een of ander tyd daardie oproep om te sê die rubriek, of die kolom, of die strokiesprent of wat ookal gaan gestaak word. Moeilik om nie persoonlik te vat nie, maar die media word deur ander dinge moveer as ons kreatiewe siele. Die bonus is dat ons byna altyd agterna seëvier wanneer daardie redakteur of joernalis of blad lankal geskiedenis is. Soos hier gebeur het.

    Nou moet jy nog net daai negatiewe van my opspoor… 😉

  5. Liza Poole :

    Philip, I don`t have the confidence to write a reply in Afrikaans (it`s been 30 years…) but I remember enough to laugh my socks off at this! Magnificent!

  6. Danie Garner :

    Dankie Philip, Baie snaaks. Bly jy noem die bêre plek dose en nie bokse nie!

  7. Haai Fielies – ja, dit was jolly dae, ne!?
    Maar, soos Peter altyd sê: ” …niks bly altyd dieselfde nie …” . Was tog lekker solank dit geduur het.
    groete
    Piet

  8. Rudolf Rode :

    Briljant! Dankie Philip! Ek is skoon jaloers.

  9. Herman Lategan :

    Dis heerlik man. De moer met die res.

  •