Die prente hier bo kom uit ʼn projek wat mense uitnooi om klassieke skilderye op te stuur met meer kontemporêre fotografiese “kunswerke” – in hierdie geval Craig White se gespot met Ingres. Lees hier meer daaroor – daar is ook baie ander snaakse voorbeelde. Dit laat my terugdink aan daardie bundel waarin Carol Ann Duffy kontemporêre digters genooi het om op klassieke gedigte te reageer. My kopie lê tuis, maar een van die meer snaakse pogings is iemand wat met Ginsberg spot. Sy gedig se titel is “Trowel” en die gedig lees iets soos:
I saw the best minds of my generation destroyed by DIY
Heel grappig, maar ook ernstig? Ek is nie seker of ek een van die beste breine van my generasie is nie, maar ek het simpatie met die kunstenaar wat van die sleutelbord/klavier/kwas weggehou word deur sleurtake. Dis deels hoekom ek in ʼn woonstel sonder dak of tuin woon.
Nou wonder ek wat sou gebeur as ʼn mens ʼn kompetisie uitskryf vir die beste satiriese oorskryf van klassieke Afrikaanse gedigte. Hoe lyk dit?
Andries, dis ‘n goeie voorstel om so kompetisie uit te skryf! Ek sit dit solank in die laai. Sodra almal verlos is uit die kake van die somerhitte & dalk beter kan dink en skryf aan gedigte, sal ons so kompetisie loods.