Johann Lodewyk Marais. Boerbok

            BOERBOK

                        Capra hicus

 

 

Nege jaar ná die koms van Van Riebeeck

het ‘n ekspedisie nuuskieriges

diep in die binneland rondgesnuffel.

Tussen kareedoring, suurgras en klip

het hulle die bont gladdehaar gesien

(kompleet met ‘n baardjie onder die ken,

reghoekige pupil, amber oog

en die reuk van die onderstertse klier).

                       

Die Brikwas (dit beteken bokmense)

het hulle eers afstandelik gehou

terwyl hulle troppies vee eenkant wei,

maar allengs met die hande bak gehou

snuif, roltabak en koperdraad geruil

vir hulle wulpse lewende hawe

lank voor hulle snuf in die neus sou kry

oor dié duusmanne wat kom maak en breek.

 

 

© Johann Lodewyk Marais. 2012

Bookmark and Share

Comments are closed.

  •