Pieter Odendaal. Oor toe harte, varke en grensdrade – Nuwejaarsdag 2012

Die tarentale en hadidas kwetter my wakker op Frances-hulle se plaas buite Klapmuts. Tazneem en Bradley het gisteraand voor twaalf hulle goed gepak en gery nadat ’n groep wit skoolmeisies grappies oor hotnotte en meide om die vuur gemaak het. Ons het almal saam gesit toe die woord hotnot oor die vlamme skiet terwyl ek en Bradley besig is om te praat oor sy navorsing oor die Nama kultuur. Hy vertel my hoe hy stories opteken wat dreig om deur die wind weggewaai te word. Daar is die woord weer, onmiskenbaar hierdie keer: hotnot. Die kinders kekkel van die lag – die eienaar van die woord kan nie ouer as veertien wees nie.

Bradley word stil, sy dreads hang oor sy oë. Tazneem probeer om dit te ignoreer en vertel dat sy volgende jaar hajj wil aanpak as deel van haar hernude verbintenis tot Islam.  Die skoolmeisies kom niks agter nie, hou aan gesels oor die meide wat saam hulle in die skool is. Nou word Tazneem ook stil. Sy en Bradley sit nog so ’n ruk, ons kyk  vir die vuur, dan staan hulle op en pak hulle goed in. Ek en Frances probeer hulle oortuig om te bly, vra om verskoning vir die vreemdelinge om die vuur. Maar ons weet almal dat die aand nou verby is.

Vroeër die aand het ons die lig teen die walle van die plaasdam laat dans soos ons heen en weer geswem het.

Kinds of water drown us. Kinds of water do not.  […] A pool of thoughts tilts this way and that in me. Sokrates, after bathing, came back to his cell unhurriedly and drank the hemlock. The others wept. Swans swam in around him. And he began to talk about the coming journey, to an unknown place far from their tears, which he did not understand. People really understand very little of one another.

© Anne Carson , Plainwater, 1995.

Later stuur ek en Frances saam die familie Chinese lanterns die lug in, ons vriende kwyt. Ek bly dink aan die meisies en hulle toe harte terwyl die lanterns klein soos sterre in die nag word. Hulle sal seker nooit weet of omgee wat Nama of hajj is nie, fluister Frances. Ons gaan die nuwe jaar uitsigloos binne.

*

Ons staan op en gaan drink Ricoffee op die stoep, sigaret in die hand. Die plaas lê geilgroen in die nuwejaarson. Frances se pa vra my om te help met ’n siek otjie. Hy het penisillien nodig. Die vark het homself gisteraand bemis en lê op sy sy, bied geen weerstand teen die naald wat tussen die gladde, kleurlose haartjies sy lyfie binnedring nie. Hy staan so effe op as ons klaar is, wend ’n halfhartige poging aan om weg te kom mits daar nog naalde in die oom se sak is. Hy’t dae laas geëet – die vel hang los soos ’n kombers oor sy kruis.

Later kom laai Tebu en Khanyi ons met sy Mazda-bakkie op. Ek en Frances sit agterin, gebruik ’n knopkierie om die canopy oop te hou sodat ons vars lug kan kry. Ons tel Tebu se neef in Kayamandi op en skiet deur Strand toe om saam Khanyi se Sotho-familie te gaan kuier. Duisende gesinne span uit op die strand en al langs die Eersterivier, reg in die suburbs in waar tannies met krulle en ooms met boereboepe die kaperjolle aangluur. Hulle sê niks nie, kyk net afkeurend toe. Daar’s ‘n kortsluiting in hulle koppe as hulle vir my en Frances sien. Ek wil my vervies vir hulle oë, maar los dit eerder.

Ons stap af see toe om lafenis in die water te soek. Ek en Frances is die enigste witmense op die strand. ’n Jong lat skree vir my in Xhosa tussen die branders deur: “Julle mlungus moenie my besteel nie!” Ek lag en duik agteroor die golwe in. Die meeue sweef met kraalogies oor die skare. My longe trek vol osoon en my vingers verstok van die koue.

oorvertel 2
Februarie 2010

hier het ’n vrou gebly Mal Maria sy’t geloop met ’n lang tou om die
nek met haar huissluitels aan een nag toe dood sy met die sluitels
om die nek die wind het haar nek gebreek

julle Kaapse mense sê mos die son sien alles
hierso sien die mense alles

ek huil nie oor Apartheid-kak nie ek huil oor julle klo’goed net hoor
van Distrik 6 ek kon nog die St Helena in my oumoeder se hare ruik
maar bruin mense is net klopse papbekke en gomgatte om bruin
te wees is glad nie so verkakte storie soos daai slamse voorgee nie
en dan is dit nog die anner storie van boesman wees die problem is
wanner jy jou mense se storie ken en daar’s nie slams of boesman
in nie maar jy moet maar ja en amen want al wat jy het is die
oorvertel

die see spook by jou al trek jy tot teenaan die woestyn

die see is ’n teef met rooi skoene aan 

© Ronelda Kamfer. grond/Santekraam, 2011.

Terug by die uitspanplek op ’n leë erf langs die rivier, seën Khanyi se tannie ons oorvloediglik met kos: pap en gesmelte kaas, tjops, wors, chakalaka. Een van haar neefs leer my ’n paar pantsula-passies aan, waarna Ta Vusi en sy broer (die twee vorste in die familie) my uitnooi om langs hulle te kom sit. Hy stel homself uitvoerig voor: Hy werk by Portnet aan die Weskus en vertel van grensdrade wat makliker gespan word as wat hulle geknip word. Hy en sy vrou wil ’n erfie aan die Weskus koop waar hulle vir die see kan kyk as hul lywe begin ingee.  

Hulle kleinseun, Kunle, huil as ek met hom begin speel – hy’s glo vreeslik bang vir ’n lae gegggggggrom, vra sy ouma om verskoning, maar Khanyi grap dat hy maar net skrik omdat hy nog nooit ’n albino gesien het nie. Sy spot altyd dat sy my in olie gaan doop en onder haar bed gaan wegsteek as die lang messe hul skadu’s teen die hoë mure van estates begin gooi.

Ta Vusi skiet ’n bottel sjampanje oop om die nuwe jaar en sy vrou se komende studiereis na Londen te vier. Tebu laat die meisies lag en gooi elke nou en dan ’n paar moves op die dansvloer. Jack Parow bulder onverwags uit die kombi se luidsprekers en almal begin saamsing. 

*

Vroegaand skiet ons konvooi deur Gugulethu toe. Ons ry verby ’n omgekeerde taxi. Tebu verstaan nie hoekom hulle so jaag nie en klik sy tong oor die weggooibaarheid van lewens. Sy nefie chip in dat hy baie veiliger in Kayamandi voel – hulle skiet glo te veel hier. Ons braai tot vroegoggend in Khanyi se agterplaas. Orals om ons blêr klankstelsels die lugruim in. Frances se pa laat weet dat die siek otjie dit toe nie gemaak het nie en dat ons moet kom help om die ou grensdrade te knip. Die varkies se kampie is te klein. Hulle het meer spasie nodig, anders gaan hulle aanhou siekraak. 

They lied to us

They lied to us.
They told us: we shall die, wiped out in wars.
Ever since I can remember, they said: Our blood will be shed.
We ate and drank and didn’t die tomorrow,
We squandered all we had saved, flowers for example, grass…

And in this spring I sometimes think,
What did you mean when you told me, “I’ll give you
Only one night.” Did you think
That all the days of our lives are nights, night,
Or did you say it out of the great dread.

They lied to us. I told my students everything
My teachers taught me. In great haste I told them,
So I would be free a bit for myself in the end.
They lied to us:
The unshed blood
Screams louder
Than the shed. 

© Yehuda Amichai. Uit Poems of Akhziv. Vertaal deur Benjamin en Barbara Harshav

Bookmark and Share

22 Kommentare op “Pieter Odendaal. Oor toe harte, varke en grensdrade – Nuwejaarsdag 2012”

  1. Leon Retief :

    Jou inskrywing het my ontstel Pieter. Ek besef dat rasse-vooroordeel (van beide kante van die draad) nooit uitgewis sal word nie, maar ek het darem nog altyd die hoop gekoester dat die huidige geslag jongmense, en meer spesifiek skoolkinders, dit nie so fel soos hul ouers sal openbaar nie. Nou begin ek wonder…

  2. Regtig, Leon? Is jy régtigwaar só naïef dat jy dink dat vooroordeel teenoor andersheid minder sou wees in vandag se jonger geslag? Hoekom sou dit? Jy weet tog dat veertienjariges die wêreld heen skelwoorde sis oor vure, vandag net soos ‘n duisend jaar gelede: Moslem skelwoorde gemik op Hindoes, Zoeloe woorde gemik op Tswanas, woorde komende van ligter vel mense gemik op donkerder vel mense, of anders om.

    Jou reaksie laat my die gevoel kry dat jy onder die indruk is dat hierdie tipe gedrag erger sou wees onder wittes en/of Afrikaners en/of Suid-Afrikaners. Dit is nie. En dit is hoekom ek ‘n renons het aan hierdie tipe vertelling: want ek dink dit is die indruk wat dit doelbewus wil skep.

    As ek Bradley of Tazneem was sou ek beledig gevoel het om só voorgestel te word. Het hulle régtig weggesluip in reaksie op skelwoorde komende van ‘n paar bogsnuiters? Waar is hulle ruggraat? As hulle so fyngevoelig is voel ek jammer vir hulle want hierdie wêreld gaan hulle kasty.

    En dan, behoort ek ook so op te tree? Moes ek ook weggesluip het toe ek as laaitie in Durban by die Engelse skool se terrein verbygestap het en “dutchman”, of “dumb dutchman”, of “Afrikaner banana” toegesnou is? Moet ek vandag ook wegsluip as die woord “Nkununu” my ore bereik oor die gedruis van stemme waar wit en swart besigheidsmense saam vergader? Of verdien ek laasgenoemde skelwoord dalk, omdat ek per slot van sake voordeel getrek het uit my voorvaders se rassige regeringstelsel?

    Nee wat, ek kan doen hiersonder: die gebruik van woorde soos “isiXhosa” ipv bloot “Xhosa” in ‘n Afrikaanse stuk (moet ek aanneem dat die skrywer ook bv “Français” ipv “Frans” gebruik?), die kontras wat doelbewus geskep word tussen die hatige, wit, Afrikaanse meisies aan die een kant, en die idilliese, meersoortige byeenkoms aan die ander kant, terwyl nog hatige, wit oë van buite af toekyk; in die middel, die onskuldige bruin slagoffers; en, natúúrlik, die skrywer, onbesmet deur die sonde van sy soort, of dalk júís só besmet dat sy skuldgevoel hom aandryf tot hierdie tipe dweperige geskryf – die messias van die verhaal. “Avatar” se moses!

  3. Andries Bezuidenhout :

    HN Jansen van Rensburg, ek stem saam met jou oor die gebruik van “isiXosa”, in plaas van “Xhosa”. Dit irriteer my ook. Ek sou Leon Retief egter nie as naïef beskryf nie. Ek het al ernstig van hom verskil oor ‘n aantal kwessies, maar ek dink ons gedeelde belangstelling in die digkuns maak dat daar ‘n mate van wedersydse respek is. Ek lees Pieter se stuk heel anders as jy. Die tweede gedeelte oor sy dag op die strand staan in teenstelling met die eerste gedeelte. Dis ‘n wêreld waar ook hy ‘n buitestander bly, dink ek. Miskien sê wat jy in sy stuk lees meer oor waar jy is as waar hy is.

  4. Die gebruik van isiXhosa was a faux pas van my kant af. Het niks spesifieks daarmee bedoel nie. Ek het dit nou verander.
    @HN Jansen van Rensburg: Ek het die storie bloot vertel soos dit gebeur het. Ek dink nie dis revgerdig om my verantwoordelik te hou vir ander se reaksies nie. Ek probeer bloot ‘n magdom paradoksale emosies en ervarings oop te skryf. Die kontras tussen die “hatige, wit oë” en die “idilliese, meersoortige byeenkoms” waarvan jy praat, is nie iets wat ek doelbewus skep nie – dit is hoe dit gebeur het, en hoe dit aanhou om met my te gebeur.

  5. Andries, dalk is jy reg. As my interpretasie van die stuk dan wel iets sê van waar ek is, waar dink jy sê dit is ek?

    Pieter, ek hou jou glad nie verantwoordelik vir ander se reaksies op jou skrywe nie. Ek hou jou slegs verantwoordelik vir jou keuse van woorde, van beelde, van wat om in te sluit en wat om weg te laat. Myns insiens skilder daardie keuses ‘n eensydige prentjie.

    Mense is bevooroordeeld en haatlik. Ménse. Nie witmense nie. Nie Afrikaanse mense nie. Nie Suid-Afrikaanse mense nie. Nie mense met boepense en krullers nie. Dít sien ek nie in jou vertelling nie. Al is dit dan nie doelbewus nie.

    Laastens, die laaste deel in my eerste reaksie, oor jou onbesmettenheid, was venynig, ongevraagd, onverdiend, en heeltemaal onnodig. Ek trek dit onvoorwaardelik terug en vra om verskoning daarvoor.

  6. Desmond :

    Ek dink dit is waar dat ménse bevooroordeeld en haatlik is, maar met hierdie veralgemening kan jy ook weer kan eindig by ‘n soort gelate aanvaarding van ongeregtigheid as maar gewoon menslike natuur. Dan laat ons die spesifiteit van sekere vooroordele, hulle kulturele en politieke geskiedenisse, die bepaalde merke wat hulle gemaak het, die maniere waarop hulle met ons identiteite en ervarings vervleg is, buite rekening. Mense is haatlik, ja, maar hulle is op verskillende maniere haatlik; en sommige vorme van haatlikheid en vooroordeel kry ‘n historiese lading of betekenis wat mens nie kan wegwens nie. Wit rassisme is ‘n ideologiese gegewe met sy eie geskiedenis en repurkussies wat as sodanig ondersoek moet word, en nie gerelativeer kan word deur die feit dat swart mense ook bevooroordeeld teenoor wit mense kan wees nie.

  7. Leon Retief :

    @HN: Ek is nie so naief om te dink dat rasse-vooroordeel heeltemal kan verwdyn nie – as jy weer lees wat ek geskryf het sal jy sien dat ek gese het dat ek gehoop het dat dit minbder fel sou wees. Die rede vir daardie hoop is omdat ek ons jongste dogter (wat in matriek ‘n swart kerel gehad het) en haar vriendekring se interreaksies met swart SA-ners dopgehou het, vandaar my versugting. Ons huistaal is Engels, maar ek het nog nie een keer die woorde kaffer, meid of hotnot oor haar lippe gehoor nie.
    @Andries: ek sou respek vir jou he selfs al het jy nie in die digkuns belang gestel nie 🙂

  8. Desmond, ek dink nie dat veralgemening noodwendig moet lei tot ‘n gelate aanvaarding van ongeregtigheid, of ‘n wegwens daarvan nie. Die ondersoek en verwerping van ongeregtigheid behoort inderdaad te geskied, maar ‘n eensydige vertelling van spesifiek nét een “soort” se vooroordeel en swak behandeling van ‘n ander “soort”, wakker myns insiens juis vooroordeel aan as dit nie gebalanseer word nie, en dan juis in die Suid-Afrikaanse konteks.

    Ek spekuleer nou sommer, so moet die voorstel asb nie letterlik in die konteks van die vertel van hierdie gebeurtenisse opweeg nie, maar was daar bv nie één voorval by die meersoortige samekoms waardeur ook húlle menslike swakhede, vooroordele of andersins, uitgelig kon word nie? Was dit werklik die paradysagtige, vreedsame sosiale omgang soos voorgehou? Miskien was dit, maar miskien was dit nie, en dít word dan verswyg. Ek dink jy sal die punt wat ek probeer maak verstaan.

    Het ons in Suid-Afrika nóg skrywes nodig waar nét die wit, Afrikaanse Suid-Afrikaner se vooroordeel beklemtoon word? Is ons tevrede om die stel van die ander kant van die balansstaat oor te laat aan die haters?

  9. Wysneus :

    HN Jansen van Rensburg, jy’s soveel meer aantreklik as jy kwaad is.

    Pieter, glo jy werklik jou vertelling is ‘n objektiewe weergee van gebeure? Werklik?

    “…in die suburbs in waar tannies met krulle en ooms met boereboepe die kaperjolle aangluur. Hulle sê niks nie, kyk net afkeurend toe. Daar’s ‘n kortsluiting in hulle koppe as hulle vir my en Frances sien.”

    Indrukwekkend objetktiewe gedagtelees. Lieflik neutrale taal. Julle het kaperjolle; hulle in die SUBURBS met KRULLE en BOEREBOEPE en KOPKORTSLUITINGS GLUUR AFKEUREND. (Jammer vir die hoofletters maar ek kan nie hier B, I, of U nie.)

    Solank ons oop harte het vir mense wat oop harte het vir die mense waarvoor ons oop harte het, dan is ons mense met oop harte. En dis die goeie mense.

    Laat my toe om Desmond se standpunt uit Sosioloogs te vertaal: Alle volke het skynswanger mans, maar net Afrikaners het boereboepe, wat ‘n historiese lading het wat nie weggewens kan word nie.

  10. Desmond :

    Wysneus, Andries is die sosioloog, nie ek nie… 😉

    Jou “vertaling” is erg grappig, maar net om misverstand te voorkom: ek probeer nie iets s^e oor Afrikanermans wat historiese skuld saamsleep of “bad guys” is nie. Ek het net probeer s^e dat in ‘n land soos SA dit nie bloot ‘n geval is van mense wat toevallig nie van mekaar hou as gevolg van hulle verskillende velkleure nie. Ons het ‘n geskiedenis waarin wit rassisme ‘n bepalende rol gespeel het. Ons het nie net konflik gehad nie, maar onderdrukking. As dit ons laat sleg om dit te s^e is dit omdat dit sleg was. Vir ‘n jong wit persoon soos Pieter om met daardie spesifieke geskiedenis te worstel, te probeer uitwerk waar dit hom laat in verhouding tot ande rmense, die verlede, die toekoms, is goed en mooi, soos een van my onderwysers altyd ges^e het.

    En in elk geval, los my blerrie boep uit!!

  11. Wysneus :

    O jis, ja, ek sou ook nie valslik van sosiologie aangekla wou word nie, sorrie.

    As dît is wat jy sê dan verskil ek nie te veel daarmee nie. Maar helderdenkendes soos HN en ek vrees dat die pendulum van verdrukking en ontgelding gehupstoot word deur die manichaeaanse rassebeskouïng wat die bogaande inskrywing onderlê. (Ek het ‘n semester sosiologie agter die blad, soos jy kan sien.)

    Neither a xenophobe nor an oikophobe be.

  12. Desmond :

    Wysneus, ja, Fanon skryf mos iewers dat die postkoloniale subjek kort voor lank besef dat ‘oppression can also wear a black face’ (so iets); met ander woorde, ek dink ook dit is heel legitiem om tekste oor wit rassisme vandag nie bloot as objektiewe verslae te lees nie, maar te vra wat hulle ideologies verdoesel of aan die hand mag werk. In daardie opsig is jy reg om Pieter se ‘ek teken maar net op soos dit gebeur het’ te bevraagteken… (Ek gaan nou ‘n stewige whisky moet skink; het dit altyd nodig na ek met jou moes saamstem…) 😉

  13. Wysneus :

    ‘n Dubbel-Wodka werk beter vir my.

  14. Leon Retief :

    Ek dink ons stem almal saam dat rassisme aan beide kante van die draad voorkom, soos ek reeds genoem het, maar ek wil graag reageer op ‘n stelling van HN: “Jou reaksie laat my die gevoel kry dat jy onder die indruk is dat hierdie tipe gedrag erger sou wees onder wittes en/of Afrikaners en/of Suid-Afrikaners. Dit is nie.”

    Om te veralgemeen – ek dink dat rassisme beslis erger is/was onder baie wit SA-ners as in ten minste sommige ander Westerse lande waar ek al was, baie definitief ook meer so as hier waar ek my nou (tydelik) bevind. Sekerlik is dit nie oral so nie, ek weet ek veralgemeen nou, maar as ek jou reg “lees” (en ek mag verkeerd wees) dan is alle mense dwarsoor die wêreld nie ewe veel of ewe min rassisties nie. Ek en mense van my ouderdom het grootgeword in ‘n sisteem van geïnstitusionaliseerde rassisme. ‘n Prof by Kovsies waar ek in die 60-er en 70-er jare van die vorige eeu geswot het, het sy studente vertel dat swart SA-ners nie gereed is vir stemreg nie want hul “aktstruktuur is (nog?) nie volledig ontslote nie” – waddehel dit ook al mag beteken, maar dit klink erg Dooyeweerdiaans. Dis ‘n nalatenskap wat steeds voortduur.

    Gegewe hierdie werklikheid, en dat swart SA-ners aan ‘n werklik afgryslike sisteem onderworpe was, kan mens ‘n paar dinge begryp: eerstens dat hulle wit SA-ners met moeite as hul broeders beskou. Ten tweede : die wonde wat die mes van apartheid (of dalk moet ek liewer sê die byl van apartheid) aan hulle en/of hul ouers toegedien het, het diep gesny en as hulle dalk meer intens reageer as wit SA-ners op wat hulle as ‘n rassistiese belediging beskou dan is dit iets wat ek kan verstaan. Dit regverdig nie swart rassisme teen wit SA-ners nie, maar ek dink ek kan begrip hê vir hul reaksie. When all is said and done, ons as wit SA-ners het meer bagasie as ons swart medeburgers, en juis daarom moet ons versigtig wees oor wat ons sê en doen. Dit onthef nie swart SA-ners van ‘n soortgelyke verpligting nie, maar terwyl mens jou kan vererg oor ‘n swart SA-ner se rassistiese optrede is dit nie nodig dat jy skaam moet voel daaroor nie. Ek voel egter skaam oor die optrede van sommige van my eie “soort”, om nou jou term te gebruik. En dis nie ‘n gevoel wat ek graag wil hê nie.

    Ek kan ‘n voorbeeld uit my eie ouerhuis noem. Beide my ouers het Lord Milner se beleid van Anglifisering (jirre, ek hoop dis die regte Afrikaans!) aan hul eie basse gevoel toe hulle met “dunce caps” op hul koppe in die hoek moes gaan staan omdat hulle dit durf waag het om Afrikaans op skool te praat. (Voor jy dink ek is stokoud, ek was ‘n moewiese laatlammetjie, die spreekwoordelike oorstootdrie in beseringstyd). Hoe dit ook al sy, ek weet goed watter bitter herhinnering dit vir hulle was. Nogtans, hulle kon die feit dat hul enigste seun met ‘n Engelssprekende Roomse gevaar gaan staan en trou het aanvaar – met moeite, maar hulle het. My punt is – mense kan verander, al probeer ek nou nie Engels op skool met apartheid vergelyk nie.

    Om ons jongste dogter weer op te haal: die rede waarom ons ons hoop op die jonger geslag vestig is omdat ons gesien het hoe sy en haar wit klasmaats met hul anderskleurige medeskoliere klaarkom – ons het haar doelbewus na ‘n hoërskool gestuur waar sy daardie geleentheid sou kry en dit was vir ons ‘n wonderlike ondervinding. Ja, jy is reg, kinders in hul vroeë tienerjare is erg onvolwasse en als, maar die enigste manier om rasse-vooroordeel te probeer verminder (ek weet goed dit gaan nooit uitgewis word nie) is om soveel kontak moontlik tussen rassegroepe te bewerkstellig. Dit lyk egter asof die kontak met “hotnots” en “meide” nie juis veel verskil gemaak het aan die skoolkinders waarvan Pieter gepraat het nie, en watter jammerte – maar wie is daarvoor te blameer? Nie die kinders nie sou ek dink.

    Maar tog…. tog…. die toekoms van SA lê na my mening nie alleen in dinge soos ‘n goeie en verantwoordelike regering nie. Dit lê ook en veral by die verhouding tussen swart en wit. Die onderlinge aanvaarding van mekaar se verskille en ooreenkomste, die vermoë om doodeenvoudig met mekaar klaar te kom. Ek is nie naïef genoeg om te dink dat als rose en maanskyn gaan wees nie, dit weet ek al te seker. En dat mense meestal onaangenaam en selfsugtig en so aan is, ja, dis natuurlik ook waar, ek dink ek het al genoeg van menslike gedrag onder ekstreme omstandighede gesien om dit baie goed te begryp. Al waarvoor ons kan hoop is dat jong SA-ners mekaar mettertyd sal leer aanvaar. En daarom het ek begrip vir wat Pieter geskryf het, al was sy interpretasie so hier en daar dalk aanvegbaar, maar hy het die reg om dit te skryf soos hy dit ervaar het – net soos jy en Wysneus die reg het om hom daaroor aan te vat.

    Ek het die gewoonte om te lank te skryf wanneer ek ‘n paar glase wyn agter die bald het soos nou, na ‘n uitputtende dag. Het maar die wyn gedrink in solidariteit met Desmond en Wysneus – ek het nie gedink ek sal ooit met beide van julle gelyk saamstem nie! 

  15. Desmond :

    Leon, ja, ek stem saam.

    Die sielkundige meting van houdings en vooroordele is soms epistemologies verdag, maar onthul nogtans interessante goed: ‘n lang geskiedenis van houdingsmeting in SA wys dat wit Afrikaners baie lank meer bevooroordeeld (en meer negatief ingestel) was teenoor swart mense en ander ‘uitgroepe’ as wat die geval was onder wit Engelssprekende SA’ners en wit mense in baie ander lande.

    Dit is hier waar ek dan van NH verskil: om klem soveel te plaas op die feit dat alle mense bevooroordeeld is, kyk ‘n mens dalk belangrike verskille mis — wat daardie verskille histories veroorsaak het, en wat hulle gevolge is. Mens kyk die spesifieke politieke nalatenskap mis waarmee ons sit, soos jy aandui.

    Daar is historiese redes vir hierdie ‘houdingspatrone’: dit is dus nie deel van die Afrikaners se DNA om rassisties te wees, of ‘n lekker verskoning vir etnosentriese anti-Afrikaner tirades en uitbeelding van Afrikaners as agterlike takhare nie.

    Terloops, meer onlangse houdingsopnames wys dat wit Afrikaners se houdings teenoor ‘uitgroepe’ sedert 1990 meer ‘verbeter’ het as enige ander groep s’n, en dat dit verskil tussen Engels- en Afrikaanssprekendes aan die verdwyn is wat dit betref. Dit wys (dalk verrassend) ook dat swart vooroordeel teenoor wit mense sedert die einde van apartheid toegeneem het. Sommige studies suggereer dat, sou mens globale ‘vooroordeeltellings’ vergelyk, swart mense in SA vandag meer bevoordeeld teenoor wit mense is as andersom…

    Hoe mens sin sou maak van sulke resultate is natuurlik ‘n ander storie, maar dit dui nogtans daarop dat nie genoeg verduidelik word deur bloot te wys op mense se gedeelde neiging om bevooroordeeld te wees nie.

  16. Andries Bezuidenhout :

    Hokaai! Kan ek ter versagting noem dat Wisława Szymborska ook in die sosiologie opgelei is. (Oor HF Verwoerd en Koning Geogre Bush I sal ek eerder swyg en ‘n bier vir ontbyt drink. Cheers!)

  17. Andries Bezuidenhout :
  18. Desmond, ek dink jy mis my punt geheel en al. Dit lyk vir my jy wil dit laat lyk asof ek alle vooroordeel wil afmaak as bloot deel van menslike natuur en dat ek dus voel dat Pieter uit die staanspoor verkeerd is om etikette te gebruik. Ek kan sien hoe geïsoleerde kommentaar van my daardie indruk sou kon skep, maar as jy al my kommentaar lees behoort jy egter te sien dat ek nie in beginsel daarteen is dat die etikette (in hierdie geval, wit, Xhosa, Afrikaans, Islam) gebruik word nie, maar dat ás dit gebruik word, dit dan gebalanseer behoort te word.

    As dit nie gebalanseer word nie dan bestaan die gevaar dat dit juis verdere vooroordeel aanwakker. My eerste lees van Pieter se stuk het my onder die indruk gebring dat dit presies sy doelwit was – om wit, Afrikaanse vooroordeel te beklemtoon, en om swart/bruin/gemengde sosiale verkeer te idealiseer in kontras daarmee – maar hy het ons intussen verseker dat dit ‘n onregverdige aanklag is.

    Persoonlik dink ek dit is toevallig dat die meisietjie by die vuur uitgevang is – as ek dit so kan stel – toe sy ‘n rasseskelwoord gebruik het. Sy is dieselfde meisietjie wat die vet meisies by die skool spot (al is sy dalk self vet), of naar is met die meisie met die velprobleem, of kraai oor die meisie wie se ouers te arm is om vir haar Nike skoene en Billabong swemklere te koop. Sy is swak grootgemaak. Maar nou word spesifiek die gebruik van haar rasseskelwoord sentraal gemaak tot die verhaal en verder word dit duidelik gemerk met die etikette “wit” en “Afrikaans”. Dit stop ook nie daar nie: nee, die onverdraagsame mense in die suburbs het dieselfde etikette om die nek. Maar wag – daar is ‘n Nirvana! – en dit is propvol mense wat níé die etikette het nie. In Nirvana maak ons grappies en kyk ons verby ons verskille, ons sëen mekaar met kos, ons koer vir babatjies, en ons sing Kumbaya.

    Ai tog.

  19. Desmond :

    NH, jammer: my gedagtegang het afgedwaal van jou oorspronklike kommentaar, so heelwat van wat ek skryf is nie op jou gemik nie. Ek stem saam met dele van jou argument, verskil van ander dele. Maar nou moet ek eers belaglike administratiewe takies verrig voor ek verder kan gesels!

  20. Desmond :

    @ Andries, ek is bly jy eis Verwoerd op vir die sosiologie!

  21. Desmond, met Geoff Cronje se spook hier in Pretoria kan Verwoerd maar daar in Stellenbosch aanbly.

  22. Desmond :

    Andries, Verwoerd se PhD staan hier op die rak in die Gericke, ‘n mooi sielkundige titel, iets soos “The Blunting of the Emotions”. As ek reg onthou was hy aangestel in die sielkunde dept hier by ons, en is van daar af sosiologie / maatskaplike werk toe. Cronje… tja. Ek het ‘n paar van sy boeke gelees; hulle kon baie snaaks gewees het as die gevolge nie so verskriklik was nie…

  •