Henrik Nordbrandt – vertaling in Afrikaans
Hendrik Nordbrandt – vertaal deur De Waal Venter
Seilvaart
Na die liefdesspel lê ons styf teen mekaar
en terselfdertyd met afstand tussen ons
soos twee seilbote wat hulle eie lyne so geniet
wat hulle intens sny in die donker water
dat hulle rompe feitlik oopbars van pure vreugde
in hulle renvaart, uit in die bloute
onder seile wat die nagwinde vul
met blomgeurende wind en maanskyn –
sonder dat enige van die twee op enige tydstip
probeer om weg te seil vir die ander
en sonder dat die afstand tussen hulle
hoegenaamd verminder of vermeerder.
Maar daar is ander nagte waar ons drywe op ‘n plek
soos twee helder verligte passasierskepe
langs mekaar, motore afgeskakel, onder ‘n vreemde sterrelug
sonder ‘n enkele passasier aan boord:
op elke dek speel ‘n vioolorkes
ter ere van die glansende golwe.
En die see is vol ou, afgeleefde skepe
wat ons gesink het in ‘n poging om na aan mekaar te kom.
Uit Deens vertaal deur De Waal Venter
Henrik Nordbrandt (Denmark, 1945) het ‘n unieke plek in die Deense literatuur. Hy het die grootste deel van sy lewe oorsee deurgebring, en afwisselend in Turkye, Griekeland en Italië gelewe. Sy digkuns is vol van die dorpe, landskappe en klimate van die Mediterreense streek, gevul met daardie wêreld se kleure, lig en skaduwees.