Joan Hambidge. Lot se vrou

Joan Hambidge kyk terug sonder om versteen te staan by die bekendstelling van Lot se vrou.

(Uittrreksel: Books Live. Kyk ook na videos op hierdie webblad)

‘n Uitnodiging na haar hoërskoolreünie was die vonkie wat Joan Hamidge vuur en vlam aan die werk laat spring het met haar nuutste digbundel, Lot se vrou.

Dis nie dat die uitnodiging haar opgewonde gemaak het nie, in teendeel, sy was glad nie lus om te gaan nie. “Ek het nie juis goeie herinneringe aan my jeug nie,” het Hambidge gisteraand by die bekendstelling van Lot se vrou by The Book Lounge in Kaapstad gesê. “Alice Miller se studie The Drama of the Gifted Child kom by my op as ek dink aan die streng atmosfeer waarin ek grootgeword het.”

Om die reünie by te woon, was beslis nie vir Hambidge ‘n opsie nie, maar deur haar digkuns het sy wel haar eie, alternatiewe reünie onderneem. In die eerste gedig in Lot se vrou word daar byvoorbeeld teruggekyk na vergange skooldae, ‘n onderdrukkende skoolhoof en ‘n beskuldigende dominee. Die spreker in hierdie gedig se lamentasie oor die pynlike verlede bepaal die toon van die bundel. Dit word versterk deur die pragtige kunswerk deur Judith Mason, getiteld “The Bereaved”, wat op die omslag van die bundel verskyn.

Ook die titel van die bundel aktiveer die aksie van terugkyk, met die verwysing na die Bybelse figuur van Lot se vrou, wat gewaarsku is om nie terug te kyk nie toe hulle uit Sodom en Gomorra gevlug het, en in ‘n soutpilaar verander het toe sy dit wél gedoen het.

In die bundel word die waarskuwing aan Lot se vrou ter harte geneem en word daar nie by die pynlike verlede vasgesteek nie. “Lacan maak dit ook duidelik dat ‘n mens hierdie dinge moet verwerk en aanbeweeg. Jy moet dit agter jou plaas en daarvan wegdraai.”

Hambidge is bekend as ‘n baie entoesiastiese en energieke digter en daarom het Sonja Loots uit die gehoor opgemerk dat die verse in Lot se vrou ‘n ander kant van Hambidge openbaar. “Ek ís ‘n baie positiewe mens,” het Hambidge gesê. “Maar soos enige persoon het ek ook ‘n somber kant.” Tog kan sy nie mense verdra wat oor alles kla nie. “Dig dan eerder daaroor of bly stil!”

Stilte is ‘n herhalende tema in Lot se vrou. Hambidge het spottenderwys gesê dat sommige mense verbaas is dat so ‘n spraaksame persoon soos sy baie oor stilte skryf. Digkuns is egter vir Hambidge ‘n vorm van meditasie en van stil word. Die Boeddhistiese meditering en aanvaarding van jou lewenslot kom in Lot se vrou ter sprake. Hambidge meen dit is moeilik vir Westerlinge om die Boeddhisme ten volle te internaliseer, maar dat hulle sekere elemente daaruit kan neem…”Byvoorbeeld: ‘Karma is a bitch, baby, and she’s back in town!'”

Benewens stilte, is woorde en klanke ook belangrik in Lot se vrou. Hambidge, ‘n liefhebber van musiek (veral opera), fokus in die bundel op die liriese aard van die gedig. “Veral aangesien gedigte deesdae dikwels voorgelees word.” Hambidge het self van haar gedigte by die bekendstelling voorgelees.

 

Bookmark and Share

Comments are closed.

  •