Desmond Painter. Wat is die arbeidsgeskiedenis van ‘n gedig?

Philip Levine

Philip Levine

Hoeveel werkers- of arbeidsgedigte ken jy in Afrikaans? Is daar genoeg vir ‘n bloemlesing? Afrikaanse digbundels word hoofsaaklik bevolk deur subjekte wat genoeg tyd en geld het om te reis en hulle amateurbelangstellings in die sterrekunde en die visuele kunste uit te leef. Om die waarheid te sê, dit is nie bloot die geval dat bundels deur hierdie soort subjekte bevolk word nie, maar eerder dat die Afrikaanse poësie as sodanig tot ‘n groot mate die reproduksie-by-wyse-van-estetisering van ‘n bourgeois ervaringswêreld verteenwoordig.

Die meeste van ons digters bevind hulle, ironies genoeg, in iets wat nogal herinner aan Marx se kommunistiese utopie (en dit sou my ook geld, as ek nou ‘n bundel sou moes publiseer — ek wys nie vinger na jou nie…): ‘In communist society, where nobody has one exclusive sphere of activity but each can become accomplished in any branch he wishes, society regulates the general production and thus makes it possible for me to do one thing today and another tomorrow, to hunt in the morning, fish in the afternoon, rear cattle in the evening, criticize after dinner, just as I have a mind, without ever becoming hunter, fisherman, shepherd or critic.’

Natuurlik, ons bevind onsself nie in ‘n kommunistiese (of enige ander soort) utopie nie, en dus funksioneer ‘n groot deel van die Afrikaanse poësie (histories, ten minste) as ideologie: dit verdoesel belangrike aspekte van die werklikheid, aspekte wat dikwels juis moontlikheidsvoorwaardes was vir die bestaan en reproduksie van iets soos die Afrikaanse letterkunde. Die eienaarskap van taal wat in die vlugvoetige ryme van die Groot Digters ten toon gestel is, was nooit net die produk van literêre genialiteit nie; dit was ook die estetiese pendant van politieke en ekonomiese eienaarskap (en besitname).

Nasionalisme en rassisme was dus nie net temas in sommige kanonieke tekste nie; ons letterkunde is tot ‘n groot mate ‘n produk van hierdie politieke prosesse. Daarom was en is dit ook nie altyd so maklik vir ander stemme om binne die bestaande poëtiese tradisie gehoor te word nie, of vir die ‘subjektiwiteitsprofiel’ van die letterkunde om verbreed te word nie: daar moet altyd eers geveg word om eienaarskap van die taal en die middele van produksie van betekenis en legitieme ervaring. Dit is ook waarom digters soos Adam Small en Ronelda Kamfer meer gebring het as bloot tematiese verruiming in ons letterkunde, en eerder iets soos ‘n herverdeling van talige rykdom aankondig…

Miskien hoef ek nie Afrikaans uit te sonder nie. Miskien bevind enige digkuns sigself altyd maar in ‘n voortdurende spanning tussen, aan die een kant, die ideologiese reproduksie van bourgeois sensibiliteite, ervarings en subjekposisies, beliggaam in die eienaarskap van die middele van produksie van betekenis (standaardtaal, uitgewers, koerante, rekenaars, universiteitsgrade, ens.), en aan die ander kant die radikale potensiaal van die gedig as alter-kasie met die werklikheid: die andersmaak wat die talige verbeelding bewerkstellig, die kritiek en ondermyning van die voortdurende banalisering en erodering van taal, die oopskryf van ervarings, en die herlewing van sin. 

Om een of ander rede het vanoggend aan al bostaande gesit en dink na ek hierdie lieflike ‘werkers-‘ of ‘arbeidsgedig’ deur die Amerikaanse Philip Levine gelees het (en ja, die rede waarom ek tyd het om gedigte te sit en lees en bloginskrywings te skryf, is omdat ek ‘n bourgeois akademikus is met genoeg tyd en ander tegnologiese en simboliese middele tot my beskikking…):

*

What Work Is – Philip Levine

 

We stand in the rain in a long line

waiting at Ford Highland Park. For work.

You know what work is–if you’re

old enough to read this you know what

work is, although you may not do it.

Forget you. This is about waiting,

shifting from one foot to another.

Feeling the light rain falling like mist

into your hair, blurring your vision

until you think you see your own brother

ahead of you, maybe ten places.

You rub your glasses with your fingers,

and of course it’s someone else’s brother,

narrower across the shoulders than

yours but with the same sad slouch, the grin

that does not hide the stubbornness,

the sad refusal to give in to

rain, to the hours wasted waiting,

to the knowledge that somewhere ahead

a man is waiting who will say, “No,

we’re not hiring today,” for any

reason he wants. You love your brother,

now suddenly you can hardly stand

the love flooding you for your brother,

who’s not beside you or behind or

ahead because he’s home trying to

sleep off a miserable night shift

at Cadillac so he can get up

before noon to study his German.

Works eight hours a night so he can sing

Wagner, the opera you hate most,

the worst music ever invented.

How long has it been since you told him

you loved him, held his wide shoulders,

opened your eyes wide and said those words,

and maybe kissed his cheek? You’ve never

done something so simple, so obvious,

not because you’re too young or too dumb,

not because you’re jealous or even mean

or incapable of crying in

the presence of another man, no,

just because you don’t know what work is.

Bookmark and Share

3 Kommentare op “Desmond Painter. Wat is die arbeidsgeskiedenis van ‘n gedig?”

  1. Heleen Hofmeyr :

    Ek lees vanoggend u blog na my pa dit aan my voorgestel het en kannie help om by ‘n sekere woord vas te sit nie: “utopie”. As tweedejaarstudent by Stellenbosch is dit ‘n woord wat gereeld by my opkom soos wat ek probeer sinmaak van dit wat ek elke dag ervaar. Toevallig het ek in November laas jaar self geblog oor hierdie utopie-idee van Afrikanerdom. Ek sal baie geëerd wees as u ‘n bietjie daarna kon loer…
    http://medehartlam.blogspot.com/search?updated-min=2011-01-01T00:00:00-08:00&updated-max=2012-01-01T00:00:00-08:00&max-results=1

  2. Lewies Botha :

    Dankie vir die een Desmond.

  3. Desmond :

    Hallo Heleen. Dankie vir die terugvoer. Lekker om jonger lesers op hierdie blaaie raak te loop… Ek het reeds begin lees aan jou interessante bloginskrywings. Ek skryf later iets verder oor die idee van die utopie. Groete!

  •