Philip de Vos: Adam Small

Nou met die skielike bohaai oor die Hertzogprys-toekenning aan Adam Small vir Kanna hy kô hystoe. het ek gister my kopie van Sê Sjibbolet uit die rak gehaal, Gesprekke met skrywers 2 met Ronnie Belcher se onderhoud met Small, en ook ’n paar vergeelde koerant-uitknipsels toe ek self in 1976 in ’n wit-produksie van Kanna hy kô hystoe opgetree het.

 

 

 

 

  Toe ek Gesprekke met Skrywers2 nadertrek, moes ek eers ’n bietjie stof wegblaas, want boeke op die rak, raak oor die jare vergete en bly alleenlik as décor agter.

In hierdie gesprek wat in 1972 gepubliseer is, praat Small oor die woord kleurling, sy kleurlinggedigte. asook natuurlik oor Kanna.

SMALL: “Ek wil nie te puntenerig wees oor ’n naam nie, maar jy weet ‘What’s in a name’ geld nie orals nie. Dit geld nie hier nie. As sekere mense maar weet hoe seer hulle jou maak deur jou ’n duisend maal ’n dag te oordonder met die klank van die woord ‘Kleurling!’ Jy voel saans vol kneusplekke. Die woord beteken altyd dat jy ’n ánder mens is wat daar ánderkant hoort. Dis ’n vervreemdingswoord. Nou ís ek natuurlik ’n ánder mens en wil dit wees – maar daar is ’n begrip van ’n ánder mens, en ’n begrip van ’n ánder mens”.

En van sy gedigte in ‘kleurling-Afrikaans’, praat hy self va sy patois-gedigte.

SMALL: “Jy weet, mense mag dit verrassend vind, maar my poësie staan my nie so na aan die hart soos my drama Kanna hy kô hystoe nie. Maar, mense wat my werk ken (ek ken dit self nie so goed nie – (miskien ken geen skrywer sy werk baie goed nie), sal weet dat ek heelparty gedigte in ‘gewone’ Afrikaans geskryf is. Van my beste verse, na my eie oordeel is in gewone Afrikaans gekryf… O ja, ek het my al dikwels vervies vir mense wat die patois-gedigte geniet, omdat dit sulke ‘tipiese’ beelde van die ‘Kleurling’ oproep.”

Dan noem hy self dat hy in Opperman se 1968 uitgawe van Groot Verseboek ‘Oppie Parara’ en ‘Doemanie’ sou weglaat en ‘Second Coming’ en ‘Sideshow’ sou insluit. Wat interessant is dat André P. Brink toe wel steeds beide ‘Oppie Parara’ en ‘Doemanie’ in Groot Verseboek 2000 ingesluit het maar ‘Sideshow’ weggelaat het.

Van Kanna hy kô hystoe gepraat:

SMALL: “O ja. Ja, ons kritici se ontvangs van Kanna en ons dramawêreld se ontvangs van Kanna, is vir my nou net mooi ’n bewys dat daar groot skroewe in ons letterkundige wêreld los is. Dié stuk – wat myns insiens die beste werk is wat ek gelewer het en, al sê ek dit nou self, die beste insig ooit gee in ons Suid-Afrikaanse werklikheid en, natuurlik, in ’n deel van die universele werklikheid van die armoede hier by ons… Toe het SUKOVS dit opgevoer, skynbaar met baie groot sukses. Wel, ek kon maar net die koerante lees (en terloops ons Afrikaanse pers in die Kaap was skynbaar onbewus van die toneelgebeure in Bloemfontein – g’n woord daaroor is is in Kaapstad gepubliseer nie.” (1971)

Op Ronnie Belcher se vraag oor letterkundige pryse.

SMALL: “Ek het die indruk dat daar so ’n rat-race aan die gang is in ons letterkunde om die pryse. As jy die prys-uitdelers en die pryswenners so bekyk, is dit duidelk – daar’s ’n intelery te bespeur, iets leliks wat ons geestelike wêreld gebreklik maak.”

In SUKOVS se 1976 program van ’n opvoering van Kanna skryf Small oor die feit dat sy werk voor gesegregeerde gehore opgevoer word:

SMALL: ” Dit is algemeen bekend dat ek uiters beswaar voel deur die feit van gedwonge gesegregeerde gehore. As kunstenaar egter mag ek my werk nie van enige gehoor weerhou nie, omdat ek glo dat kommunikasie van die wese van die kuns is wat met sy eie waardes sal probeer deurdring tot elke soort mens. Aldus stem ek toe dat Kanna hier opgevoer word.”

 

 (Vanaf 1973 tot 1977 was ek ’n vyskutoperasanger en het ek dwarsoor die land in klein, humoristiese operarolle opgetree. In 1976 was daar skielike stilte, en Johan Bernard van SUKOVS-toneel het my genooi om in bogenoemde produksie van Kanna as toneelspeler te kom optree.) Al wat ek nou nog van dé opvoering onthou was dat daar ‘n skielike aardskudding in Bloemfotein was en dat ons wit toneelspelers almal buite toe gehardloop het: Babs Laker, Ernst Eloff, Marthinus Basson, Roelf Loubser, Nico Luwes… Dit was 1976 en ons was almal wit, vrolik en naïef.

 Uit een van die resensies: “Only a few among the company became Coloureds. The two guitar players looked typical white students and the girls could have paid a few visits to Ashbury to study appearances and mannerisms.”

Of Adam Small ooit uitgenooi is om hierdie uitvoering in die wit Stadskouburg te kom bywoon nie, sou ek nie meer weet nie. Miskien moet Adam Small maar self die laaste woord hê:

 

 Die poet,

wie’s hy?

Djulle het so baie bek oorie poet,

ma wie’s hy?

 

SMALL: Literêre pryse is nie vir my beskik nie, en ek is ook nie daarvoor beskik nie!

 

 Erkennings:

Gesprekke met skrywers 2 (Tafelberg 1972)

The Friend: Bloemfontein

Program: SUKOVS-produksie van Kanna (1976)

  

 

Bookmark and Share

Comments are closed.

  •