Ek het ‘n ruk gelede geskryf oor T.T. Cloete se gedig Achilles se skild waarin Hefaistos die skild van Achilles in sy werkswinkel maak. Hefaistos is ‘n baie interessante figuur in die Griekse mitologie. Volgens verskillende mites word verskillende verhaallyne met hom verbind.
Volgens Hesiod se Teogonie was Hefaistos ‘n premature, maagdelike geboorte en was hy by geboorte mank. Op verskeie antieke Griekse vase word hy uitgebeeld met gebreklike voete, en soms ook vooroorgeboë oor sy smeewerk in sy smidswinkel. Volgens die Odusseia en wat hy in Boek 8 oor homself vertel, was hy van sy geboorte af verlam en het sy moeder, Hera, hom as gevolg van sy gebrek verafsku. Nog ‘n ander mite wil dit hê dat hy probeer om ‘n geskil tussen sy moeder Hera en sy vader Zeus te besleg toe Zeus hom vererg en hom soos ‘n hamergooier die lug in slinger totdat hy ‘n dag later op Lemnos land waar die Sintiërs hulle oor hom ontferm het. As gevolg van die val het hy gebreklik geword. ‘n Variasie van dié verhaal kom in die Ilias voor wanneer Hefaistos, nadat hy van Lemnos teruggekeer het na Olympus, aan Hera sê dat sy in haar pasoppens moet wees vir Zeus, omdat hy gewelddadig kan word:
Want reeds by ‘n ander geleentheid toe ek gepoog het om te keer, het Hy my aan my voet gegryp en van die goddelike drumpel afgeslinger. Die hele dag deur het ek getrek en met sonsondergang op Lêmnos geval, en toe was daar min asem in my oor. Daar het die Sintiese manne my dadelik na my val opgetel.
So het Hy gepraat; en Hêra, die witarmgodin, het geglimlag en met ‘n glimlag die beker van haar Seun in haar hand geneem. Hy het ook vir al die ander gode soet nektar uit die mengvat uitgeskep en van regs af geskink. En ‘n onbedwinglike lagbui is toe by die salige gode opgewek, toe hulle Hêphaistos deur die paleis sien werskaf. (Ilias 1: 590 – 600, soos vertaal deur J.P.J. van Rensburg, 1954).
Die gode kan hulle lag nie hou vir die mank Hefaistos wat al hinkend tussen hulle deurbeweeg nie. Tog is dit nie ‘n lag van minagting nie, want ook in die geledere van die gode is Hefaistos welbekend vir die onvergelyklike kunswerke wat hy in sy smidswinkels smee. Hefaistos is sowel ‘n kranige smid as god van vuur (in die Romeinse mitologie staan hy as Vulcanos bekend) wat vir homself twee robotte van goud in die vorm van jong vroue gemaak het om hom by te staan wanneer hy loop. As kunstenaar is hy veral bekend vir die skild wat hy vir Achilles gemaak het uit goud, silwer, tin en koper. Daarbenewens het hy ook die eerste vrou, Pandora, uit klei geboetseer. Die verhaal van Pandora se kruik vol verskrikkings en hoe dit weens haar nuuskierigheid in die wêreld losgelaat is, is wel bekend.
In Heilige nuuskierigheid (2007) skryf T.T. Cloete oor die bo-gesiteerde episode tussen Hefaistos en Hera en die gelag van die gode op Olympus:
Hefaistos en die gelag van die gode
Ilias vs. 595 e.v.
“toe het vader Zeus my mos aan my voet gegryp
en soos ‘n hamergooier op die spele
my om sy skouers gewentel
en gelos en ver uit die hemel geslinger
die hele dag deur het ek getrek
lank soos die son van oos na wes stort
en met sononder op Lemnos geval
toe was daar min asem in my oor
en my gebeente was gebreek op baie plekke
daar het die Sintiese manne my opgetel …”
en sy ma Hera het geglimlag
toe sy die beker nektar uit sy hand vat
terwyl die beroemde met die kunstige vingers
binnensmonds vertel
… toe het hy vir al die ander gode wat nooit sat
word van al die feesvier nie en welgevoed
van voorkoms is nektar geskep uit die mengvat
en die welriekende vonkelende soet
drank vir hulle van regs af
bedien
en terwyl hulle drink
het ‘n onbedwinglike lagbui
by die salige en fiks gode opgeskuim
toe hulle Hefaistos deur die paleis sien werskaf
en hink
Lê ‘n mens die Ilias-teks en die gedig van Cloete langs mekaar, is dit opvallend hoeveel ooreenkoms dié twee tekste met mekaar vertoon; trouens, groot dele van Cloete se teks stem byna woordeliks ooreen met Van Rensburg se vertaling van die Ilias. Daarom juis val die verskille tussen die twee tekste ook soveel duideliker op.
Daar is drie aspekte waarin Cloete se teks van die Ilias verskil, naamlik die beskrywing van die gode as “gode wat nooit sat / word van al die feesvier nie” en die beskrywing van Hefaistos as “die beroemde met die kunstige vingers” wat egter “deur die paleis … hink”. Dit lyk dus asof die digter deur hierdie toevoegings eerstens die verskil tussen “gewone” gode met hulle frivole lewenswyse en Hefaistos, die kunstenaar-god, wil aantoon. Wat hy egter ook doen, is om klem te lê op Hefaistos as mank kunstenaar. Enersyds mag dit wees om dié figuur vir die lesers van die bundel binne konteks te plaas, aangesien dit vandag nie meer aanvaar kan word dat alle lesers oor kennis van Griekse mites beskik nie. Die Griekse lesers van die Ilias sou vertroud gewees het met wie Hefaistos is en dus geweet het waarom die gode lag. Daar is egter heel waarskynlik ook ander redes waarom juis hierdie aspekte van die vuurgod beklemtoon word.
In vroeë Hellenistiese simboliek word gebreklikheid dikwels met kunsskepping geassosieer. Thomas Hubbard skryf in ‘n artikel Nature and Art in the Shield of Achilles in die tydskrif Arion,( 2:1): “… Hephaistus’ crooked gait is a physical manifestation of his artistic cunning: in Greek thought, the path of twists and turns is proverbially the clever road of ruses and deceits, the path of the wolf and the fox” (Hubbard, 1992:25). Hoewel dié siening nie tradisioneel is nie, vind ons by Hubbard (1992:17) die argument dat in die beskrywing van Achilles se skild (waarna ek hierbo verwys het en wat ek vantevore op hierdie blog bespreek het) soos ook in die Homeriese gedigte “we may hope to gain insight into the poet’s attitude towards his own material (…) There is a sense in which the divine artisan Hephaistus stands as a figure for the poet as he sees himself”.
Hubbard se argument maak veral sin as ‘n mens die bo-gesiteerde gedig saam met die gedig Achilles se skild (onversadig, 2011:82-90) lees waarin die mank Hefaistos eweneens ‘n belangrike rol speel. Die mank en die swak mens is immers reeds van die begin af in Cloete se oeuvre teenwoordig.
In die gedig Prediker (Jukstaposisie) beskryf die sprekende ek homself as “ek getrapte sprinkaan” en praat hy van sy “gekraakte gebeente”. Een van die gedigte waarin die misvormdheid van die spreker die duidelikste na vore tree, is Eiewysheid uit dieselfde bundel: “ek groei aarde toe krom ek hel lewendig / skuins (…) ek moet sekondegetrou / onthou om (…) te beweeg krapskeef / en aaphinkende …”. Elders beskryf hy homself as “sonder harnas, gebukkel” (Uit die hoek van my oog) en met ‘n “boontjiegeboë rug”. Die idee van straf vir kunstenaarskap kom ook by Cloete voor: “Hulle sal jou op albei wange slaan / en op jou mond, maar hou aan” (Uit die hoek van my oog). In die gedig astronout (Heilige nuuskierigheid) staan: “self het ek Kromvoet swaar voet versit / maar gekonterdans en met die koevoet / van die droom sterre gewrik”, waar die woord “konterdans” intertekstueel verwys na die sanger wat aan die woord is in E.N. Marais se Die dans van die reën – ‘n verdere inspeling op die spreker se digterskap.
Bostaande gegewens stel dit duidelik dat die sprekende ek in die Cloete-oeuvre homself dikwels in sy gedigte inskryf as kreupele én kunstenaar. Daarom sou daar eweneens ‘n saak uitgemaak kon word vir die argument dat dié sprekende ek homself uitbeeld as Hefaistos in die gedig Hefaistos en die gelag van die gode. Klemlegging op die gebrek van die kunstenaar in hierdie gedig moet dus gelees word as aansluiting by en aanvulling tot ‘n korpus ander gedigte waarin die sprekende ek homself (as kunstenaar) beskryf.