Skoenlapperdae
Vir James en Melanie
Broos soos ‘n skoenlapper
sal ek in jou hart fladder.
Ons skoenlapperdae is ‘n gloed
wat nagte met glinster groet.
Ons vlerke is ‘n josefskleed
vol patrone delikaat afgemeet.
Drie dae, my lief, is ek toegevou
in jou sagte satyn, my liefste vrou.
Na ‘n dood
Na Gregory Orr
Ek het die voordeur hoor kreun
en deur die vuil ruit my pa
tussen opgeskote struike sien buk
terwyl hy aanstryk na die vrugteboord
Ek het my tot langs hom gehaas
met ‘n swetende hand wat syne soek,
en my broer, my slagoffer, sy seun,
het sy ander hand vasgeklem.
Ons skouers het gehang
van ondrabare verdriet.
Dit was ‘n ysig koue Junienag.
Al verder die donker in
het ons oor verlate paadjies geloop,
sonder om ‘n oomblik terug te kyk
na die huis vol stapels herinneringe,
met sugte sonder ophou.
© Cas Vos, 2012
Carina, Van Gogh boei my nog steeds. Ook Marlene Dumas en Diane Victor. Jou oevre is grys genoeg om vir publikasie aan te bied. Ek het wonderlike naby vriende in Nederland, spesifiek Bennebroek.
Daar is sekere onderwerpe in poësie wat my langdurig interesseer, Cas, bv. gedigte oor ikone soos Marilyn Monroe. Omdat Van Gogh weer onlangs baie in die nuus was in Nederland, het ek ‘n lysie gaan maak met watter Afrikaanse digters oor hom gedigte geskryf het. Toe ontdek ek dat jy eintlik die Van Gogh-digter in Afrikaans is met 7 gedigte oor hom in één bundel! Ek sal hulle graag eendag wil lees, maar ons sal ‘n plan moet maak, want ek woon en werk in Nederland. En(tussen ons): my ongepubliseerde oeuvre is al 13 jaar oud.
Carina, baie dankie vir jou opmerkings. Vir my stuur ‘n gedig ‘n straling uit. Dit wat jy aangevoel het, is ‘n glinstering. Hou aan met dig asb.
Dag Cas, daardie één sublieme moment van herkenning, die fladdering van die hart, die vervoering en selfs die ekstase wat daarop volg: dis vir my alles baie herkenbaar in jou gedig Skoenlapperdae. Maar soms kan dinge onverwags te ver gevoer word. Dit het ek verwoord. Geniet my beskeie aanvulling op jou gedig.
Pen
Jou aanraak van my verstand
was lig soos ’n speelse papegaaiveer,
maar onmiskenbaar dáár.
Jy fladder vervaard in my hart:
blou vol hemelse vervoering
rooi vol aardse ekstase
swart vol donker wense.
Ek pen jou ongenaakbaar vas:
goudgeel hartstog
grasgroen jaloesie
pikswart wraak.
Und willst du nicht mein Bruder sein
so schlag’ ich dir dein Schädel ein…
Die kwesbaarheid van menswees en liefde word sterk vasgevang in Skoenlapperdae. In Na ‘n Dood word die sterk melankolie of hartseer wat in herinneringe vasgevang word, ontsluit. Twee uitstekende gedigte!